Daar was `n simposium in die skousaal vir al die boere wat graan verbou. Die predikant word toe gevra om die simposium te open. Iets wat ek met groot dankbaarheid gedoen het want daar het ek meer van my lidmate op een keer gesien as op `n Sondagoggend in die kerk. Ek het my voorberei maar iets het my verder na die woord se oorsprong in die Grieks laat kyk. `n Simposium is volgens die HAT: "By die ou Grieke, drinkparty met musiek, dans en tafelgesprekke" of "`n wetenskaplike gedagtewisseling ingelui deur verskeie sprekers". Kan dit dalk so wees dat ek ‘n drinkparty met Skriflesing en gebed moes open? Kom ons glo dat die simposium eerder in die gees van die moderne denke sou plaasvind, was my uitweg. Daar aangekom, het ek dadelik op my gemak gevoel. Die proffie wat sou optree en my pa was tydgenote op Stellenbosch en het saam rugby gespeel. Sy sekretaresse, wat ook daar was, was een van my kweekskool proffies se vrou. Dankie tog alles is onder beheer!
My aandeel sou wees om met Skriflesing en gebed te open. Toe my beurt kom, het ek ‘n kort stukkie uit die Bybel gelees en toe ‘n tradisioneel Finse verhaal vertel. Dit het gehandel oor die boere wat teen God in opstand gekom het want, so het hulle gevoel, dat God nie oor genoegsame kennis oor graanverbouing beskik nie. Hulle het gevra om self te bepaal wanneer die reëns moet val en so sal hulle vir God wys hoe `n mens, of ook God, met graan moet omgaan om ‘n goeie oes te verseker. Op hierdie punt in die verhaal was ek verseker van al die boere se aandag! Ek vertel hoe daar besluit word dat dit nou goed is om te reën sodat die grond voorberei kan word. Daarna weer reën sodat daar gesaai kan word. So het ek die verhaal verder vertel. Die klimaks van die verhaal was dat toe die oestyd aanbreek daar ‘n groot probleem was. Daar was geen pitte in die are nie. Die verhaal sluit met die woorde dat hulle toe nooit vir die wind gevra het nie en dat daar geen bestuiwing plaasgevind het nie. Die slotgedagte was dan: Moenie dink dat jy slimmer as God is nie! Vertrou en aanvaar en volg Hom.
Persoonlik dink ek dat die optrede `n reuse sukses was, totdat…. Die prof het opgestaan en my bedank vir die mooi skriflesing en die verhaal. Hy sê toe dat hy egter net een probleem het met die verhaal: graan is blykbaar selfbevrugtend en het dus nie die wind nodig om bestuif te word nie! Daar gaan my ou mooi storietjie vir `n nul en het ek geleer dat jy enige aksent of klem uit die Bybel self moet haal. Dit is mos ook goed so want staan VDM nie vir "Verbi Dei Minster" nie of "Bedienaar van die Woord van God."
My verleentheid was vreeslik groot! Ek wens ek kon in die niet verdwyn, maar moes almal, veral die buitekerklikes se spot verduur!
En die simposium? Wel ek het verneem dat dit aanvanklik op die kontemporêre wyse ingeklee is toe `n klomp inligting onderling oorgedra is en daarna het `n klomp borge toegesien dat daar teruggegaan is na die Griekse inkleding waar die tonge met die vrug van die wingerdstok losgemaak word en saam gekuier is tot so `n mate dat Sondagoggend se erediens weer soos tevore, te vroeg was.
skrywer: Emile de Villiers
