Die gruisklippers klap soos vuurwerke onder die ou Peugeot Bakkie toe Oom Hansie voor die Koöperasie se supermark ´n pletterstop uitvoer op die geen parkering blok. Ten spyte van die snerpende koue, staan Bettie Vos, soos altyd, op die stoep oor die reling en leun, die kake aanmekaar besig met die alewige bol kougom en die hare wat skommel in die wind. Vandag het sy so ´n wollerige wit truitjie of toppie aan, laehals natuurlik, met die inhoud wat oudergewoonte stoei vir plek. Die toppie het sulke Vader Krismisversierings onder op die moue en om die hals en die denim span genadeloos oor haar trillende flanke. Haar enkels kon sy darem wegsteek binne-in die versierde en betosselde Cowboy bootse.Oom Hansie spring flink uit, trek sy rugbykouse op en druk sy hoed stewig vas vir die wind.
"Jy maggie daar stoppie Oom, hulle gaan die bakkie wegsleep!" skreeu Bettie, en Oom Hansie kan slegs met bewondering toekyk hoe die toename in stemvolume direk eweredig is aan die toename in longvolume. Vlekkie steur hom nie aan die daling en styging van hierdie dinge nie en sny ´n lyn vir die hitte van die winkel.
Die Oom vermoed dat sy onlangs weer ´n Dolly Parton video gesien het en hy sukkel om sy glimlag in toom te hou. "Helaas" dink hy by homself "met daai bos natuurlike peroksiedhare en die wollerige toppie lyk sy meer na ou Tant Kaaitjie se Maltesertefie, maar ek oordeel mos nie. Hehehehe."
"Kwits Kinta, hulle moes jou gevra het om ou Jors Bush te verwelkom hier in ons land" groet Oom Hansie hardop soos hy deur die ingang verdwyn.
Die Oom is haastig vanoggend, want hy het nog die een en ander sakies om af te handel by die bank. Die tollies het mooi verkoop op verlede week se veiling en Oom Hansie voel dis tyd om uit te kyk vir nog ´n stukkie grond. Die Ingelsman langesaan, Robinson, se plaas is hoeka nou in die mark so met die egskeiding en alles. Dis ook nou vir jou ´n ander storie. Oom Hansie hoor dat ou Rewwerend Delaney met al die wil en preke in die wêreld nie die gevegte tussen Robinson en daai vrou van hom gestop kon kry nie, al het die DNS-toetse bewys dat hy niks met Happy uit te waai het nie.
Oom Frik sê die arme Rewwerend het daar by die plaaslike watergat ietsie kom vat vir sy senuwees na een van die uitmergelende sessies en gebieg dat hy netsowel vir die Palestyne en Jode kon loop vertel het dis lelik om so te baklei, hulle moet ophou. Toe die blondine haar goete pak en loop, het die Rewwerend maar weer ietsie kom vat, hierdie keer meer uit blydskap as uit meelewing.
Die Oom grinnik onderlangs "Hehehehe, in die hele gemors is daar net een wat happy is al is hy steeds vaderloos en unhappy. Hehehehe."
"More Oom Hansie, lekker koud ne?" teem die bestuurder gemaak-vriendelik bo vanuit sy glashokverhogie. Die glashokverhogie is een van die dinge wat Oom Hansie oneindige binnepret verskaf. Die winkelbestuurder se kantoor is ´n verhogie gebou so ´n ent van die enkele kasregister af, met mure van glas. Die idee was sekerlik dat iemand ´n algemene ogie moet hou oor die gang van sake in die winkel. Die huidige bestuurder, Cornelius Kok, het egter besluit dat dit sy lewenstaak is om te waak oor die kleptomaniese kassier. In een van sy megalomaniese oomblikke het hy langs die trappe van die verhogie ´n bordjie aangebring wat lees "KANTOOR". In hierdie "KANTOOR" sit hy dan ewe selfvoldaan oor sy koningkrykie en tuur. Bettie is sy regterhand, maar sy hang meer uit op die stoep as wat sy oor die onwillige kassier waghou. Letterlik.
"More Cornelius" groet Oom Hansie terug "Ja, ek hoor die mense sê die ergste hittegolf is nou gebreek". Die grappie gaan ongelukkig by die arme skepsel verby en Oom Hansie vlug eerder as om verder in die vraende gesig vas te kyk.
Oom Hansie pak die noodsaaklikste goedjies vinnig in die mandjie, dis nou die FG koffie en die suiker en die langlewemelk, en werk dan oor na die kosafdeling om sommer ´n pastei te koop wat hy op pad bank toe in die bakkie kan eet.
Die pasteie by die wegneemtoonbank word deur die koster se vrou gebak en vroegoggend afgelewer en die goed is dan nog lekker vars. Oom Hansie is net te stadig om voor Oom Gawie in te druk en wag dan maar met verwagtinglose blymoedigheid dat die ou man eers sy pastei bestel, "die ene met hoender en sampioene in". Vlekkie staan intussen ongemerk eenkant toe. Hy wil mik daar na die groot sakke suiker toe om die moontlikhede rondom die verligting van sy vol blaas te gaan ondersoek.
Intussen het Oom Gawie opgemerk dat iemand agter hom staan en hy draai om en begin sonder omhaal van woorde te kla oor sy uitgerekte siekbed. "More neef, ek is mos gelukkig nou weer op die been jong." "Nou wat was fou…" Oom Gawie het natuurlik die vraag soos ´n wafferse Flinkdinker al begin antwoord.
"Nee ou Hansie jong, die ou maag gee my mos maar so opdraant die laaste tyd, jy weet. Die doktertjie wat oor my aangestel is het al suffel toetse gedoen maar niemand kan uitvind wat skeel nie."
Oom Hansie het teen hierdie tyd al opgehou luister en knik net nou en dan sy kop. Oor Oom Gawie se skouer sien hy hoe Josephine die plastiekhandskoen oor haar regterhand trek. Met die einste regterhand haal sy ´n papiersakkie uit en hou die sakkie vas terwyl sy haar linkerhand handskoenloos by die sakkie indruk om dit oop te kry. Die oop sakkie word op die toonbank gelos en sy skryf die kode op ´n papiertjie neer, wat die klant kassier toe vergesel. Klaar met die skryfwerk, gebruik sy dan die regterhand om te krap-krap tussen die voue van haar omvangryke agterstewe voordat sy die pastei met daardie einste hand by die warmrak uithaal en saam met die papiertjie aan Oom Gawie oorhandig.
Toe Oom Hansie by die "KANTOOR" verbystorm, vra Cornelius Kok "En waarheen is die oom so haastig op pad?"
Oom Hansie gaan staan vir ´n oomblik "Ek het so pas Pick ´n Pay se gifterroris hier in jou winkel betrap. Op heterdaad! Kom Vlekkie, ons moet die beloning gaan haal!"
skrywer: Bert van der Walt
