Eeue terug, wel twintig jaar, is my liewe pa weg na die stomp langs die groot vuur in die Mooi Land, aan die ander kant van die Groot Rivier, waar die gemsbokke, springbokke en elande altyd vet is. Die tweede hartseerste dag. Ooit! En ek was diep seer. Hy was happy, want hy kon sien hoe die Bokke die Koppie vashou. En ek is nou happy dat hy nooit die tellings; Blou Bulle 75 – 14 Stormers, Loftus, of Engeland 53 – 3 Suid-Afrika, Londen, gesien het nie. Baie bly. Daai was my straf. Philip is dit ook gespaar. Anders was onderwaterhokkie dalk sy sport van keuse.
Anyway, ek het nog aan gebly in die huis waar ek vir sewe jaar, na my ma se dood, na my pa gekyk het. Dennerand 23, Dalsig, Stellenbosch. Eenkeer ‘n week het ek ‘n tuin-ingenieur ingekry en na Tom se verdwyning is Marshall Shane aangestel. “Sien Francois, soos in die cowboy wat net swart dra?”
My nuwe aanwins het ‘n lelike sny oor sy hele gesig en dit lyk asof hy dit self aangewerk het. Ons het nie die vuil Gautengse gewoonte om die man se ID boekie tot na sy skof te hou nie en ek moes maar op sy oorvertelling staatmaak van sy ervaring sovêr dit bome, sypaadjies, roostuine en lawns aangaan.
Een Saterdagoggend skrik ek wakker na ‘n lang aandjie uit en ek hoor hom buite skoffel en aangaan. Dis nou my man, Marshall Shane. Ek maak ontbyt vir hom en vir my. Selfde bekers en eetgerei. Verstaan jy? In die skerp son stap ek uit, groet vriendelik en gee dit vir hom. Ek gaan haal my wasgoed en stap na die waskamer sonder lig. Die vloer is nat en dit ruik na Skip.
By die deurtjie val my kykers amper uit hulle gate. Iets val, rol binne in die bak. Soos ‘n hamster in ‘n wieletjie. Maar meer soos ‘n half gevriesde hoender. Ek sê saggies: “Liewe, liewe, liewe Jirre.” En ek skrou: “Marshall Shane kom hiesa!” Hy loer in die donkerte in soos ‘n eekhoring uit ‘n boom se gat. “Wat is in die fokkin wasmasjien?” En ek sweer, hy antwoord: “’n Tirntil. Kyk sy lelle. Hy maak so want hy is vas en het nie meer vere nie, meneer Francois. Ek reken om hom vars te hou vir die slag slag. Ek het hom gevang toe meneer Francois nog gelê en getiep het!” Daarna skop my paniekaanval in en ek steier terug kombuis toe. Na ‘n yskoue bier en pille kom ek weer uit en sê: “Ek gaan nou na die simpel blerrie kafeetjie om vir jou twee pies en ‘n twee liter Coke te koop. As ek terug keer moet die tarentaal dood wees en weg wees.” Dis al wat ek kon aan dink. Ek is jammer.
Ek stap af in die pad verby Mevrou Burgermeester Veronica Lombard se huis. Haar liewe man is ook die Administrateur by die Universiteit. Tannie Veronica, baasbakster en Penningmeester(es?) van Diere Beskerming het altyd in haar verlengde kombuis daai geel rolle gehad vir die vlieë en die vlieë het dit gesmaak want daar was jare s’n en pasvasgevliegdes wat nog ril en bewe. Maak jou lekker lus vir ‘n koeksister, nè? Anyway, sy is besig om soos gebruik haar eie grasperk te sny in haar krullers en housegown. (Ja, ons kan soe uitstiek in Skelmbos.) En haar gesig lyk soos gebruiklik asof iemand haar ‘n bord kak vir ontbyt aangebied het. By die kafee draai ek en Whea Billy Bear, my Toy Pom wat weer ‘n Lunch Bar van die onderste rak gegaps het, om en stap terug.
Verby Tannie Tillie, die hoof van die ACVV Kleuterskool se huis, verby Doktor Visser, die Geoloog, se huis en verby Professor Hermann Spangenberg en sy vrou Doktor Judora Spangenberg se huis. Tannie Judora, die sielkundige wat deur haar eie pasiënt geskiet is. Onthou jy?
En voordat ek met die stel trappe afgaan na die voordeur sien ek dit. Dit wat in Openbaringe voorspel word.
Die tirntil het ontsnap en hol kaalstert, met Marshall Shane agterna met ‘n tuinskêr in sy swaaiende hand, deur die beddings van die Mooiste voortuin in Stellenbosch. En my ongeveerde vriend gooi daai jinkse wat Kolbe sou laat trots maak. En maak ‘n geluid wat net in sekere kamers van die Hel gehoor kan word. In stereo. En Marshall Shane besluit om te duik. En daar duik hy, oor die grassnyer, al die prize-winning petunias in hulle se moere in. En Verons soutpilaar asof die Liewe Here uiteindelik afgekom het. Dennerand-weg toe. Na die doodloopstraat. Bek oop.
En ek? Ek gaan sluit my toe in die huis. En stap na die warmte van die yskoue goed in die yskas. En sit Pink Floyd se “Comfortably Numb” aan. Kliphard aan. En stap uit op die boonste stoep en staar af na die tandarts se tienerdogter wat die swembad in haar hot pants skoonmaak en vir my smile en lag.
Jare later het die SAP vir Marshal Shane in die TygerBurger gesoek. Vir ‘n dubbele moord. Wonder of daar tirntil in Polsmoor is?
There is no pain, you are receding
A distant ship smoke on the horizon
You are only coming through in waves
Your lips move but I can’t hear what you’re saying
When I was a child I had a fever
My hands felt just like two balloons
Now I’ve got that feeling once again
I can’t explain, you would not understand
This is not how I am
