deur Marion Wesche
Dalk gaan ek en jy eendag weer onbewus en onpersoonlik by mekaar verby stap in die digte mis, soos eenmaal lank tevore. Ek en jy, soos eenmaal lank tevore … Ek het jou nimmereindigend lief, Dawid Jooste.
Die woorde gly stadig deur sy gedagtes soos ’n lied wat hy iewers gehoor het, maar nie kan plaas nie.
Dawid ruk bewend uit sy dagdroom wakker.
Dit gebeur al hoe meer deesdae: herinneringe wat nie heeltemal wil vorm nie, gedagtes wat soos mis teen ’n berg hang – sigbaar en tog ontwykend.
Die traumatoloog glo dat drawwery sy brein kan stimuleer, maar soms voel dit vir hom asof hy homself net verder die mis in hardloop. Vandag besef hy eers ná ’n ruk dat hy reeds kilometers afgelê het. ’n Windvlaag streel oor sy gesig – koel en tog vreemd bekend.
Vir ’n oomblik sweer hy daar is iemand langs hom: ’n asem in sy nek, voetstappe wat in ritme met syne val.
En toe … die reuk van rooswater.
Delikaat, maar sterk genoeg om hom te laat stilhou.
“Ag nee, man, Dawid,” mompel hy. “Jy verbeel jou alweer.”
Hy probeer rasionaliseer. Miskien is dit die roosbosse langs die pad wat blom. Sedert hy sy sig verloor het, het sy ander sintuie skerper geword, amper ooraktief. Hy hoor en ruik dinge wat ander mense heeltemal mis.
Hy buk af en vryf Daisy se sagte ore. Sy gidshond is sy steunpilaar, sy anker in ’n wêreld wat hy nie meer kan sien nie. Sonder haar kan hy skaars sy huis verlaat.
Maar vandag is sy gemoed donkerder as gewoonlik.
Dit is ’n jaar sedert die ongeluk.
’n Jaar sedert hy nie net sy sig verloor het nie, maar ook die laaste vier jaar van sy lewe. Wat daardie dag gebeur het, is vir hom nog ’n vae verhaal wat ander aan hom vertel. Hy byt op sy tande en proe bloed toe hy per ongeluk sy tong raakbyt. Die frustrasie broei in hom soos ’n storm.
Toe lui sy foon.
’n Herinnering van sy afspraak met Dokter Swarts.
“Kom, Daisy,” sê hy kortaf. “Ons moet aanstap. Die dokter wag.”
Teen kwart oor drie arriveer Dawid by die spreekkamer, sy asem nog gejaag. Hy het skaars tyd gehad om te stort. Hy haat hierdie sessies, maar iets binne hom dryf hom telkens terug.
“Middag, Dawid,” sê Belinda Swarts met ’n vriendelike glimlag.
Sy merk die rooiheid bokant sy oog en wonder of hy weer gaan draf het. Haar hand vou onbewustelik om ’n lok blonde hare. Sy weet sy behoort haar gevoelens in toom te hou, maar dit is moeilik. Elke keer as hy praat, voel dit asof haar hart haar verraai.
Gelukkig kan hy haar nie sien nie.
“Jy lyk moeg,” sê sy sag. “’n Moeilike dag?”
Hy frons.
“Ek weet nie. Ek het vanoggend gedraf, soos jy altyd sê ek moet. Maar toe ruik ek dit weer – rooswater. Ek hoor voetstappe en voel iemand naby my. Dit maak geen sin nie.”
Belinda verstyf.
Haar hart begin vinniger klop.
Hy onthou iets.
Nie alles nie, maar iets.
Daardie nag droom Dawid.
Hy staan op ’n strand waar die son goudgeel in die horison sak. Langs hom is ’n vrou, maar haar gesig bly van hom af weggedraai. Hulle hardloop oor die wit sand en baljaar in die branders. Hy strek sy hand na haar uit, maar sy gly weg, te vinnig vir hom.
Tog vang die lig haar hare – ’n bos blonde krulle wat soos sonstrale glinster.
Toe draai sy om.
Sy lag.
Twee kuiltjies dans in haar wange.
En dan hoor hy dit, duidelik soos klokgelui:
“Ek het jou lief, Dawid Jooste!”
Hy skrik wakker, sy hart hamerend.
Die beeld bly by hom.
’n Vrou.
Blonde krulle.
Kuiltjies.
En die woorde – Ek het jou lief.
Twee jaar ná die ongeluk begin meer herinneringe stadig deurbreek.
Hy onthou die smal draaie van Bainskloof. Hy onthou die dreun van ’n enjin, die gil van bande, die skerp geluid van metaal.
’n Dronk bestuurder.
Die slag.
En toe – duisternis.
Hy onthou ook die eensaamheid in die hospitaal; hoe vriende al minder begin kuier het en hoe die familie reeds lankal weg was. En hoe hy, met sy humeur en frustrasie, almal van hom af weggestoot het.
Behalwe een persoon.
Net een het gebly.
Op ’n koue oggend gebeur die ondenkbare.
Hy word wakker en strek na sy wekker.
Lig.
Net vaag, maar dit is daar.
Hy knip sy oë. Die lig word helderder.
Hy val terug teen sy kussing, asemloos.
“Here,” fluister hy. “Ek kan sien.”
Trane stroom oor sy wange.
Hy wil dit met iemand deel, maar daar is niemand. Geen ouers nie. Geen broers of susters nie.
Net een naam kom by hom op.
Belinda.
By haar kantoor klop hy nie eens nie. Hy maak die deur oop, sy oë blink van ongeloof.
“Belinda … ek kan sien!”
Sy kyk op.
Geskrik.
Oorweldig.
Hy staar na haar.
En sy asem stol.
Die krulle.
Die kuiltjies.
Die bruin oë.
Dis sy.
“Dis jy,” sê hy hees. “Jy is die een uit my drome. Jy is die reuk van rooswater, die stem wat ek gehoor het. En jy het dit al die tyd geweet.”
Sy stem tril.
“Hoe kon jy dit van my wegsteek?”
Belinda se lippe bewe.
“Ek is jammer, Dawid. Ek wou nie hê jy moes my liefhê bloot omdat ek deel van jou verlede was nie. Ek wou hê jy moes self onthou. Ek moes wag dat jy my weer vind.”
Hy sug diep.
“En al die tyd was jy hier. Die asem in my nek. Die voetstappe langs myne.”
“Ek was dit,” fluister sy. “Ek is dit. En ek sal altyd wees. Ek het jou nooit opgegee nie.”
Tyd lyk asof dit stil staan.
Hy tree nader en ruik die bekende geur van rooswater.
Hy sien die fyn lyne om haar oë en die kuiltjies wat vorm wanneer sy deur haar trane glimlag.
Toe trek hy haar styf teen hom vas.
Vir ’n oomblik bestaan daar net hulle twee.
Hy druk sy lippe teen haar hare.
Hulle deel stilte.
Hulle deel asem.
Hulle deel die wonder van ’n tweede kans.
Toe hulle uiteindelik langs mekaar op die rusbank sit, streel sy hande deur haar krulle.
“Ek onthou jou, Belinda Swarts,” sê hy hees. “En ek dink ek het jou lief. Daar is nog baie wat ek nie onthou nie, maar ek wil alles weet.”
Sy glimlag, haar oë blinkend van trane.
“Dan sal ek jou alles vertel,” fluister sy. “Elke detail. Elke herinnering. En as daar nog leë plekke is, sal ons saam nuwes maak.”
Buite waai die wind sag teen die ruit.
Nie meer soos ’n koue, eensame bries nie, maar soos die asem van ’n nuwe begin.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Goed geskryf.