In Lesotho het ek gesien hoe donkies letterlik wys wat die begrip “werkesel” nou eintlik beteken. Dorpdag, Woensdag en Saterdag, is gewoonlik ook maaldag, as die donkies elk met hul varsgemaalde vrag mieliemeel van die staatsmeulenaars die pad kraal toe vat – oor berge en dale, en as die eienaar by ‘n huis met ‘n witvlag op die voorstoep, ‘n advertensiebord par exelance met sy uitnodiging, vir ‘n versnapering (tradisionele bier) agterraak.

Dit is ook opvallend dat donkievullens altyd ‘n tree of tien agter die melksalon met veel meer oortuiging saamdraf as die tyd wanneer hul in hul tiener- en adolessensie fases inbeweeg en meer vaste spyse vreet. Sonder hierdie laktotiese aandrywing verloor die vul sy motivering tot uitbundigheid. Om so ‘n dier van waarde te maak vir die boerdery, word hy bestyg en met die hakskene op die agterste helfte van die ribbekas gekarnuffel.

Dit is dalk die rede waarom ‘n donkie so skielik en uit die niet, met ‘n weemoedige gebalk ‘n kakofonie van klanke loslaat wat óf jou nekhare laat rys óf jou so weemoedig stem dat jy vir die donkie wil sê dat jy met hom of haar saamstem, al het jy geen idee wat aanleiding gegee het tot die uitbarsting nie.

Op die gelyker areas sien ‘n mens nog die houtsleë. Hierdie ekstra swaar vervoermiddel word deur osse getrek. Die slee is ‘n reuse mikstok in die vorm van ‘n “v”. Hoe styler die terrein word, hoe minder kan dit gebruik word.

Opvallend is die feit dat daar geen donkies in Malawi is nie, dat die donkies in Lesotho meestal as pakdiere aangewend word en in die Noordweste die donkies eerder as trekgoed ingespan word.

In die Noordweste is die skeerders en plaaswerkers van hul donkies afhanklik vir vervoer. Op die karretjie word al die gesin se aardse besitings gelaai. Van slaapmat tot kombuisgereedskap. Natuurlik is die hele familie of op of langs die kar. Agter draf ook gewoonlik ‘n hond of drie waarvan die afkoms heel onseker is, maar wat die silohoeët van ‘n windhond het. Die wind moet net nie opkom nie … Donkies oorleef in die Noordweste want daar is soms na goeie reëns genoeg graspolle om sommer gou lyf te kry en as dit droog word vreet hulle sommer saam met die skape – dit is nou as die boer dit nie sien nie! Donkies is sulke groot vreters dat tydens veeverminderingskemas met die droogtes, hulle vir subsidiedoeleindes vir meer as een kleinvee-eenheid aangeteken is en so die boere ontmoedig het om van hierdie diere op hul plase aan te hou. Die gevolg is dat die donkiekarbevolking al hoe minder geword het en ‘n eg, aardse tradisie aan die uitsterf is.

Die kuns om ‘n donkie of twee te beheer, en meer nog, af te rig, is ‘n kuns wat aan die uitsterf is soos ook die kunstige bou van ‘n donkiekarretjie. Dink daaraan dat ons eie voorouers ook met perde, perdekarre en donkiekarretjie en ossewaens oor die weg moes kom en ook gekom het. Dit sou nie onvanpas wees om die donkie te vereer vir sy bydrae om ons land te tem nie.

Lesotho se berge is styl en die paadjies enkel, dus sal karretjies nie deug nie. Maar ‘n man wat ‘n donkie het, het ‘n 4×4 wat nie net die voorrade kan aandra nie maar ook die pad na sy kraal ken. Sommige mense beskik oor ponies of perde. Dit is nou die manne van statuur en met die mooi komberse – die aansienlikes! Manne wat respek afdwing.

Waar in Lesotho genoegsame voer groei en donkies versorg kan word, is dit nie die geval in Malawi met sy droogtes en beperkte grond nie. Malawi se werkesel is die mens self. Toe die vroeë sendelinge in Afrika in gereis het, was dit per hangmat. Maar met verloop van tyd het dit die swart dikwielfiets geword.

My eerste ontmoeting met die fiets as middel wat vrag vervoer, was die houtskooldraers. Die houtskool is ‘n vinnige verhittingsmiddel vir kos, die mens en selfs vir alle daagse dinge soos strykysters! Die houtskool word in die platteland gemaak en dan neem die verkopers van die 50 kg sake, sny die boom uit en maak vyf van die sakke soos ‘n silinder aan mekaar vas en werk onder toe en laai bo in tot dit vol is.

Daar word twee sulke silinders weerskante van die rooster van die fiets, regop die lug in, vasgemaak. Ek dink nie die vrag is so swaar as wat dit ongemaklik is nie. Die swaartepunt van die vrag lê te hoog en dus is omval ‘n problem as jy begin en as jy stop! Hierdie vrag word kilometres ver in die nag en die vroeë oggendure aangery sodat dit met eerstelig op die mark beskikbaar kan wees.

Na gelang van behoefte word die fiets se rooster met bamboes en grastoue of selfs die ware jakob nl. vlastoue, aangepas volgens behoefte. Het jy hoenders vir die mark, glo my die ou hoendertjies se vleis is ongeveer wat jy van ‘n bosduif sal kry! Hulle kan op ‘n plat vlak vasgemak word of in ‘n selfgemaakte hok rond geskud word. Hierdie hok word ook sommer verkoop aan die laaste koper van jou verskrikte hoendertjies. Ek het ookal gesien hoe bokke en varke vir dood op ‘n groter uitgeboude rooster vasgemaak was – met die slagting wat voorlê wat hulle benoude krete van die fiets se kant af nog benouder laat klink! Selfs erdepotte van klein so 10 cm in deursnee tot grotes van so ‘n meter hoog word ook oop die fietse gelaai.

En die werkesels, is die man op sy fiets met die uiters aanpasbare rooster sommer van grastou en riete gemaak. Nou verstaan ek ook hoe belangrik suikerriet is want vir 20c koop jy ‘n stuk van twee meter lank. Almal kou en spoeg om so ‘n bietjie hoë oktaan in te kry en so te kan beweeg van punt A na B, of om jou opgestapelde fiets veilig by die mark te bring en weer terug te gaan huis toe, waar die familie gretigtig wag, met die aankope vir die dag!

Ek haal my hoed af vir die donkies van die wêreld en wil graag vir hullle ‘n monument bou, maar die werkesels met hul vindingrykheid eer ek, want hul deursettingsvermoë lei tot oorlewing ten spyte van die aanslae van die natuur en medemense.

bydrae: Emile de Villiers

(lank, lank gelede verskyn op roekeloos)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar