Dis als behalwe prul


Henry Cloete het hoë standaarde met sy moderne en uitdagende debuutbundel gestel. Dis vir uitgesoekte lesers wat die donker kant in die superrealisme kan uitken en verstaan – ’n leser met galgehumor, maar terselfdertyd die konfrontasie met sy bekoring van die dood kan hanteer. Cloete is wel nie die eerste skrywer wat hom op hierdie gebied gewaag het nie, maar met nuwe note van moderniteit in ons hedendaagse lewe, op tegnologiese en sielkundige vlak, sing hierdie roman beslis ’n deuntjie van sy eie.

Die roman handel oor ’n webwerf, “Femata.com”, waar mense hulle eie selfdood-videos kan oplaai. Die gebruikers kry vyf minute om hulle laaste boodskap oor te dra en dan moet die daad voltrek word. Slegs suksesvolle selfdood-videos wat voldoen aan die webwerf se vereistes, word goedgekeur om opgelaai te word. Die mense wat belangstel in die oplaai of kyk van videos, betaal ’n inskrywingsfooi en hiermee het Daniël Roberts sy inkomste verdien. Soos die verhaal verloop, raak dit al hoe duideliker hoe elkeen van die karakters saam ’n melodie vorm en dan stadig maar seker op ’n ramp afstuur. Die verskillende karakters verteenwoordig moderne kwessies: Hoe besigheid dikwels bo menslikheid geplaas word, die houvas wat die media op mense het, asook hoe moderne tegnologie lewens oorneem.

Die webwerf reflekteer die banale kante van ons moderne mediagesentreerde kultuur. Die selfdood-aksies word gesien as ’n gelukkige dood. Deur dood te gaan, bereik die slagoffers hulle ware lewensdoel, om van niks na iets te verander, te danke aan die samelewing wat so geboei is deur die tragiese gebeurtenis. Die roman lok egter die vraag uit: Hoekom is ons so behep met selfdood? Hoekom ervaar ons ’n verwondering, terwyl ons eintlik met totale afsku en hartseer na selfdood moet kyk? Alhoewel selfdood die fokus van die videos op die webwerf is, ondersoek die roman egter die maniere waarop mense reageer teenoor die webwerf en sy doel. Die vernietiging van morele waardes kom deurlopend in die roman voor. Die leser vergaap hom aan hoe Daniël slagoffers van alle ouderdomme se videos een na die ander afkeer as “prul” – dis als behalwe prul. Die opvolg episode waar die selfdood-slagoffers hulleself op Daniël se voorerf kom doodmaak, is ’n absurde klug met ’n donker perspektief. Mense begin braai en piekniek hou langs die lyke wat op sy erf ophoop en walgliker episodes volg. Die opsetlike, sinlose gebeure is amper lagwekkend, maar terselfdertyd versprei kontrasterende emosies soos skok en ontsteltenis deur jou denke.

Draalnoot vir n janfiskaal
Draalnoot vir n janfiskaal
Slegs die nodige verskyn op die voorblad. Die pyltjie onder die titel gee die idee van ’n rekenaar – asof die leser op die titel moet “kliek” om by die inhoud uit te kom. Die janfiskaal, ook bekend as ’n laksman, se simboliek raak duideliker soos die gebeure ontvou. Die menseoog se direkte blik is deurgaans ongemaklik, maar hoekom? En wat van die bloedkol? Die voorblad is simplisties, maar slim.

Die gebeure word staccato-agtig uit die verskillende karakters se ervarings vertel en lees maklik. Duidelike definisies en selfs illustrasies, dra by om hierdie surrealistiese realiteit te kan verstaan. Fermata word onder andere op bladsy 49 beskryf as ’n “noot wat langer aanhou as wat die gewone notasie sal aandui.” Dis gepas, omdat die slagoffers se dade op die webwerf nog lank na die aanskoue daarvan oor die kykers (en lesers) sal hang. Aan die ander kant, dien die gestereotipeerde Stellenbosch student (Simon) wat sielkunde studeer, as die rasionele denke van die leser. Simon tree volgens verwagtinge op. Hy beskryf die toneel van die opgehoopte lyke as “’n betreklik rustige atmosfeer” wat oor die erf hang “al is die toneel chaoties.” Hierdie beskrywing speel ’n samehangende akkoord met die mensdom self en sy onverklaarbare optredes.

Die verhaal crescendo met verskillende hoogtepunte na een laaste ontnugtering teen die einde; ’n oop einde. ’n Einde wat die leser nog lank na hy die boek neergesit het, laat draal. Hierdie donker, meesleurende tragikomedie vorm jou gedagtes in ’n weegskaal en voeg deurlopend denkstof by om tussen verwondering en afsku te balanseer. Dit is egter die leser self wat moet bepaal watter gewig swaarder na die grond sak.

Draalnoot vir ’n janfiskaal / Henry Jack Cloete — Queillerie, 2014. ; sagteband. — ISBN 9780795800832

Draalnoot vir ’n janfiskaal,
Bea Lingenfelder,
17 Junie 2015.

4


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply