Gedigte van Corné van Wyk

Deurweek

ek soek jou in die môre
en in die laatmiddag son
ek bêre jou onder my kopkussing
sodat ek naby jou kan droom

jy soen my met ‘n sonopkoms
en hou my stywer in die winter vas
tot die warm strale
liefdevol oor my wange gly

deurweek my met jou samesyn
omvou my met jou menswees
pars liefde my in
en laat ons soos wyn verouder

ek tap geluk uit jou krane uit
word vol van jou teenwoordigheid
loop oor van lewenvreugde
en blom van jou geluk

Vuurmaakhout

jy – mooiste seisoen in my hart
bring nuwe hoop in my tyd van donker en swart
jou oë skenk geboorte aan ‘n ander ek
jou wese het my oor die dansvloer na jou aangetrek
jou bors my kopkussing teen verweer
jou lag die wondersalf teen ‘n bitter sweer
en houe wat verbete sou val

my engel het die seisoen kom kantel
met vuur van seer uit ‘n ander se mantel
jou woorde soos swaarde wat my binnedring
ek ‘n gevangene in my emosie se eie kring
ek het ‘n branding na jou lyf se spontaniteit
maar die lewe trek my dieper terug in verwyt
en ek kry koud …

maar jy is die vuurmaakhout in my lang winter
al het ons seisoen in stukke versplinter
bly ek steeds vasklou aan die stukkies
van jou
die stukkies van ek
en die stukkies van ons
en verder hou ek net aan met brand

Man op die Maan

Soos die laaste herfsblaar van Mei grond toe dwaal
verkrummel ook my hoop om lief te hê en te behoort
dit wat jy gedoen het, dit wat jy sê bly in my kop maal
ek – een pion speel alleen op die skaakbord voort

ek het soveel van myself gegee
dalk te veel, te vinnig
nou bring hartseer `n intense alleenheid mee
my kop en wese skree waansinnig …

die tonnel lyk lank en donker daar voor
ek soek na `n lig – leidende hand – om my voor te gaan
my emosies tuimel en val, my kop versmoor
ek voel alleen soos die man op die maan …

Maar die man op die maan het ook sy geluk:
daar’s niemand wat seerkry kan bring
niemand om jou tenger hart te verstrik
en altyd sonder vrees `n nuwe lied kan sing

asemrowend tog jou uitkyk
oor die hele wêreld heen
watter juweel kan daarmee vergelyk
en wie se hart kan uit daardie spel tree as `n seën?

Dronk van jou

elke gedagte wat draai, draai om jou teenwoordigheid
in alles wat ek doen, is jou naam diep gegraveer
elke slag van my hart
voel die ritme van musiek wat uit jou wese pols

jou naam roep simbole uit ons verlede:
jou foto bring ‘n ongekende traan
en elke keer wat ek jou sien
is soos ‘n legkaart wat uitmekaar uit val

die beelde om my versplinter
elke beeld kies sy eie koers
my kop raak stukkend
van al die vashou en bymekaarmaak …

die leë kamer druk my vas
elke meubelstuk het jou ingeprent
en jou merk op my tenger hart gelos
‘n merk wat rou en seerder brand

die rooi son het my ook verlaat
en my koud en alleen
in die nag kom los

DROË PROFIEL

Die posman van die lewe het
‘n pakkie voor my deur kom los
en ek het dit oopgemaak
en jou in smarrag daarin gevind …

… skielik spruit nuwe lewe
uit die droë bas
om my leë profiel
en ek besef :

my lewensvuur was dooie kole
(ek, krom en skeef)
pyn, ‘n splinter
wat deur my hart steek

Maar jy was my eerste asemteug
‘n gloeiende nuwe vuur
sag het jy my in jou arms neergelê
en sag het jy my op my voorkop gesoen.

My delwery in die skag
van ons verlede
laat my kaal kabbelende gedagtes
oor droë herinneringe loop …

… as ek jou nie nodig het nie,
Waarom weergalm jou naam in my gedagtes;
waarom is my tydmasjien maar net
‘n nederige foto van jou teen my muur?

Laaste Wals

Ek sien jou nader wals
tot diep in my hart se donkerste kamer
en daar het jy opgekrul
teen my geluk gaan lê …

Jy wals liefde in my lewe in
omgee swaai my op drieslagmaat saam jou oor die vloer
jou glimlag orkestreer musiek in my hart
jou wese lei my voete in jou baan

Maar jy het ook die musiek verdoof
my verder uit jou baan gelei
tot ek alleen (opgekrul) in stilte lê
en sien hoe jy aanhou verder weg wals …

Ek vou jou saggies toe in koerantpapier
en pak jou diep weg in karton
(om jou veilig te bewaar)
tot die dag wat ek jou weer mag afstof

… die musiek begin en ons verder wals.

EK WENS JY WAS MYNE

(vir M)

ek wens ek kon sê dat jy myne was
dat ek jou vir myself kon hou en met niemand deel
sodat wanneer ek tuis is – jy my kan vashou
ons net saam kan cuddle tot oudag sy geel breek

ek wens ek kon sê dat jy myne was
dat ek jou vir almal kan wys – met trots kan deel
en saam jou lag
saam gesels oor die lewe en oor ons …

ek wens ek kon sê dat jy myne was
sodat die seer in my weer sal rus
`n intense begeerte kan stil
en `n moeë lyf tot rus kan bring

ek wens ek kon sê dat jy myne was
ek wil, maar ek kan nie
ek wil, maar ek mag nie

ek wens …

MUG & BEAN

Waar `n warm koffie `n koue hart verower

soveel aande gaan omverstoot verby
waarin ek terug verlang na koue aande,
warm koffie
en warm oë wat in my rigting loer :

waar jy alleen vir my saak gemaak het
en jy alleen `n leë hart kon vul

en as die koffie opraak was die vreugde soveel meer
as ek weet dat daar nog `n rondte wag,
`n vinger teen by knie beweeg
`n warm impuls laat klop my hart

jou lippe sag en vol
jou lyf styf teen myn
jou asem blaas in my nek
jou hart klop deel van my …

maar nou is dit herfs en die seisoen het gedraai
so ook draai my lewe totaal in ander baan

waar ek weer alleen moet staan

terug te trek
om my weer van seer te weerhou …

ek het klaar my hart verloor
die peilvlak byster geraak
dwaal in donkerte daarbuite
wyl die bloeisels aan die bome bloei …

warm aande – koue coke – om die vuur te blus
die branding en begeerte te stil :
ek mis die warm oë
die vinger teen my knie

dit word stil rondom my
en koud
met die laaste druppel oor my lippe
is ek finaal oppad …

Vandag is alleen …

Vandag het stil gebreek –
in alle eenvoud –
die son wou-wou net sy eiergeel breek
maar trek alleen en seer terug.

Vandag is alleen en verstoot :
niks om aan vas te hou –
een dooie verlede
vervleg met sterk verlange (en stilwees)

Vandag is alleen en ver :
(iewers in ‘n stil straat)
jou weergalming in ‘n roepende stem
‘n brandende jy in die son

Vandag is alleen en seer …
geen sin …
niks saak …
bloot stukkend en verstoot.

Vandag is alleen en deurmekaar :
sorgloos-alleen, wildvreemd;
sorgloos-seer, verwilderd;
sorgloos-wild, wildseer …

Vandag is eensaam en ek, alleen

druppel

die
goudgeel
son het stil-
stil vanmôre jou
glimlag vasgevang
en dit in `n blink
druppel, glimlaggend,
ongenaakbaar, vry
aan my venster-
ruit kom
hang

Vlerklose Engel

(Vir Michael)

grasieus beweeg jou emosies deur my vlees
laat groei my vlerke, wyd oop gesprei
sonder vrees sweef soos `n swaeltjie vry
om saam met die wind soos `n kind te wees

die eerste bloeisel `n nuwe seisoen se draai
wat lewe uit my droë takke gee
terwyl jy verder en verder weg van my tree
en vreemd en wild my lewe omswaai …

nou, voel ek die seewind teen my lyf
en hoor ek hoe dit jou naam uitskree,
sagter en mooier, meer opgewonde – tog gedweë
en ek speel voort in my eenmanbedryf …

my inspirasie uitgeput – sonder vrug
het ek laat sweef op die westewind
my donker blou-oog kind
`n vlerklose engel op vlug

Iewers

Iewers, waar niks en niemand my ken nie,
daar wil ek heel graagste huis opsit :
so ene met pampoen mure en ‘n groen dak,
hout vensterrame en ‘n groen grasperk.

Iewers, waar niks en niemand my ken nie,
daar wil ek kinders grootmaak
swaaie en boomhuise aanmekaar slaan
en help moddekoekies bak in ‘n hout stoof …

Iewers, waar niks en niemand my ken nie,
(sommer naby die see) wil ek saam jou oud word
en op die stoep sit en droom :
van ons twee op ‘n plek – iewers tussen niks en nêrens

Iewers, waar niks en niemand my ken nie,
wil ek hê jy moet my vir oulaas neerlê :
my liggaam, siel en gees is uitgedien
maar ek is op my gelukkigste daar iewers …

Kaapstad

Die geel pot moerkoffie trek sterk,
bring ‘n skielike verlange –
soos ‘n koel wind in die somer –
na jou
ek sit hier …
jy daar …
en in my ‘n wens en soeke na jou teenwoordigheid

Buite teen die spookruit val
druppels kletterend neer,
skreeu die wind hartroerend oor Tafelberg opsoek
na die hitte van die somer
en ‘n skuilplek teen die alleenheid
Daar’s twee bekers :
die een is vol koffie,
die ander lê en wag op jou …

Jy hang nog oral rond :
teen my mure;
in my fotorame;
in my pot koffie
maar veral in my T-hemp

Elke minuut raak ‘n obskure konstruksie
wat opbou en sy klimaks bereik
elke keer wat my beker koffie klaar is
en ek ‘n glasie tassies
op ons kan klink;
en ‘n klippie
vir jou in die see kan gooi.

Indeks van digters

(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto van te stuur vir publisering.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar