
Susan Smith skryf in haar keurverslag dat Vloeibare middelpunt handel oor ’n “gevoel van vervreemding en vreemdelingskap – nie net as reisende buite die grense van die bekende nie, maar selfs die bekende wat vervreemdend word.”
Soos die bundeltitel voorspel, is daar sprake van ’n vloeibare in- en uitbeweeg na en van die veilige maar onvaste kern, en word verskillende bestaansmoontlikhede op verskillende plekke (hetsy fisiese of kopruimtes) verken.
So handel heelparty gedigte oor woon in ’n stad (soos Pretoria, wat uitgebeeld word in Ryan Loubser se Spookhuis in die reën op die omslag) wat uitdagings aan die inwoners stel, maar ook ’n gevoel van behoort wek. Soos vroeër by die gedigreeks “Viervoud” uit Landelik, vind die Heideggeriaanse konsep van “woon” soos uiteengesit in sy referaat getiteld Bauen wohnen denken, sterk inslag, vandaar dat Bosman die Hölderlin-aanhaling as motto vir die bundel gebruik: “… dichterisch wohnet der Mensch auf dieser Erde”.
Foxtrot van die vleiseters
Satrae stop die BM’s en MB’s en 4-treks
voor die slaghuis, sein die T-hemde
die seisoene: ligblou, gestreep of groen en goud.
Daar binne gesorteer volgens die slagoffers
die tjops, die steaks, die sosaties, die worse
– Weens, Russies, Spaans, Duits, gerook, gekaas,
om nie te praat van die boeresoorte nie:
gawe, gemoedelike Grabouw, kameelhout,
rooikrans; skaap-, bees-, hoender-, lewer-,
en iewers ten duurste ook “oorspronklik”.
Agter loei die sae, spat die skaafsels,
genoeg om vegetariërs te laat verbleek.
Maar wat, ons koop ook die bykosse,
die braaipap, die dege uitgerys in hul plastieke,
die knoffelbrode en roosterkoeke in hul foelies,
die kase, die botters, die smere, gesofistikeerd
met pesto en soet sondroë tamaties, die wyne,
die olywe, die olies en balsamiese asyne,
die skyfies vir vooraf en die terte vir daarna.
Vanaand gaan die brikette brand, die rokies hang,
die biere skuim, die vroue vol belofte lag,
die kinders stry en op die sofas slaap.
Vanaand vergeet ons die verlede, die kwellings
van die week, die hoofpyn van die oordaad.
Vanaand dans ons die dans van die lewe.
Vloeibare middelpunt / Martjie Bosman — Protea Boekhuis, Mei 2016; 75 p. ; sagteband. — ISBN 9781485305842
Vloeibare middelpunt,
Bettie Blom,
4 September 2016.

Lewer kommentaar