Die ander aand sit ons en praat oor vrese en fobies en oor die booshede wat in stink kombuislappies wegkruip. En in my geestesoog doem ‘n pletora van snotterige, groen, eenoog kreature op wat uit die slootjies tussen my kombuisteëls kruip met ‘n coup d’état van my stuk eiendom waaraan ek al vir nege jaar afbetaal en vir nog elf jaar gaan betaal, as enigste doel voor oë.
Vir ‘n oomblik is ek verskeurd tussen of ek my psigiater of ‘n eiendomsagent moet bel, maar omdat beide behels dat ek ‘n onrein gehoorstuk met my kaal hande moet hanteer, besluit ek om eerder te gaan soek na ‘n Domestos groothandelaar. I want all germs killed dead!
Gelukkig is daar ‘n Pick ‘n Pay op pad na Airport Industria waar ek van voorneme is om hektoliters gekonsentreerde natriumhipochloriet te gaan koop al beteken dit ek moet ‘n vragmotor huur om dit te laat aflewer. My plan was om solank ‘n gewone 750 ml te koop net om die stuurwiel en die kredietkaart mee af te vee. Voor ek egter met ‘n strategie vorendag kon kom om die hoender-eier-dilemma op te los sodat ek elke kokkus en kiem op die bottel kan vernietig met die inhoud van daardie einste bottel sonder om daaraan te raak, gryp die Godin van Geestesgesondheid in en red my van ‘n verpligte vakansie by die Stikland Spa in die vorm van ‘n koerantopskrif: “Te min kieme gee jou Alzheimers.”
En ek dank my graad 1 juffrou wat my met ‘n liniaal op my kneukels geslaan het as ek met my vinger volg waar ek lees.
“Mens lees met jou oë, nie met jou vingers nie!”, hoor die binnekind in my haar wysheid en jubel, want soos duidelik uit bostaande beskrywing was die opsie om aan die koerant te raak sonder twee pare latex handskoene gewoon nie meer ‘n opsie nie. Genadiglik is ek 45 en versiende wat beteken ek hoef nie té naby te staan om die artikel te lees nie. As vlooie drie voet ver kan spring, wie weet waartoe kieme in staat is!
Blykbaar het ‘n navorsers aan die universiteit van Cambridge gevalle van dementia in 192 lande vergelyk en bevind dat dit meer algemeen is in daardie lande met beter sanitasie, meer siektes en dus minder kieme. Die Higiëne Hipotese is glo meer van toepassing op die kinderjare wanneer die immuunstelsel nog ontwikkel, maar in die geval van Alzheimer se siekte is blootstelling aan mikrobes (ek voel vroeë paniek intree by die blote aanhoor van die woord en sien reeds tonele wat herinner aan Hieronymus Bosch (wie noem sy kind so?) se uitbeelding van die Builepes) regdeur ‘n mens se lewe belangrik.
In ‘n oomblik van klaarheid sien ek die Domestos-sameswering en ek hoor die helikopters bo my kop. My regterhand gaan spontaan na die opgehewendheid, die presiese grootte van ‘n mikroskyfie, aan die kant van my nek. En ek weet bo alle twyfel, dit moet uit …

