Brakpan, Saterdag – Die Nissan-spook wéér by Carnival City geloop toe Gary Bertholdt en André Vermeulen die Produksievoertuigkategorie van die Highveld 400, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap daar gewen het.
Bertholdt en Vermeulen in die Atlas Copco-Toyota Hilux het ‘n string van vyf agtereenvolgende Nissan-oorwinnings vanjaar gebreek en in die proses hul bydrae tot die veldrengeskiedenis gemaak. Die Bertholdt/Vermeulen-sege was die eerste ooit deur ‘n privaatspan wat in die topklas, Klas SP, deelneem.
Nissan het nie ‘n goeie rekord aan die Oos-Rand by dié ren wat in die verlede as die Carnival City 400 aangebied is nie en Toyota en Ford het in 2006 en 2007 onderskeidelik al hier gewen. Vanjaar het die ren na Carnival City as die Highveld 400 teruggekeer en die Nissan-spook het weer sy kop uitgesteek.
Bertholdt en Vermeulen was ‘n minuut en 43 sekondes voor die voormalige Suid-Afrikaanse kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer in die fabrieks-diesel-Ford Racing Ranger TDCi, wat hull tweede agtereenvolgende podiumposisie aangeteken het, by die einde. Die derde plek het aan Terence Marsh en Pieter Groenewald in die Regent Racing-Nissan Navara behoort wat Nissan se vlammetjie laat brand het en húl eerste podiumposisie in die Produksievoertuigkategorie aanteteken het.
“Dit was ‘n oorwinning vir die hele span,” het Bertholdt, wat die Carnival City 400 reeds twee keer met ‘n Spesiale Voertuig gewen het, gesê. “Dit was harde werk, maar ons het koelkop gebly.”
Daar was ‘n ligpuntjie vir Nissan toe die wegholvoorlopers in die kampioenskap, Duncan Vos en Ralph Pitchford in ‘n Donaldson-Nissan Navara, in die agtste plek algeheel en sesde in die klas by die einde aangehink het. Volgens nie-amptelike puntetelling kan Vos en Pitchford nou nie meer in die kampioenskap gevang word nie.
Vos en Pitchford het ‘n klip getref toe hulle Bertholdt en Vermeulen probeer verbygaan het en is deur veringstelselskade gekniehalter. Hulle het agter hul spanmaats, Ivar Tollefsen en Quin Evans geëindig wat met oorverhittingsprobleme gesukkel het terwyl die voormalige kampioen, Hannes Grobler en Juan Möhr in ‘n derde Donaldson-Nissan Navara ‘n brug getref het en met ‘n stukkende halfas die handdoek moes ingooi.
Beide die fabrieks-Castrol-Toyota Hilux-spanne – Anthony Taylor en Robin Houghton asook Hein Lategan/Chris Birkin – moes tydens die eerste van die twee sirkelroetes waaruit die ren bestaan het die aftog blaas. Taylor/Houghton het ‘n stuurprobleem ondervind en ‘n elektriese probeem het Lategan en Birkin se einde beteken.
Heelwat Klas D-spanne kon ook nie die paal haal nie en die voormalige Blou Bulle-skrumskakel, Coetzee Labuscagne en Johan Gerber (Raysonics-Nissan Hardbody) het hul tweede agtereenvolgende sege uitgewring. Die Potchefstroom-span, Dewald van Breda en Johann du Toit (Northam Toyota D4D) moes ook swoeg vir hul tweede plek.
Tussen diégene wat toeskouers geword het, was die kampioenskapvoorloper, Cliff Weichelt en Johan Smalberger. Hulle het die N1 4×4-Toyota D4D gerol, maar het ongedeerd daarvan afgekom.
Die huidige Klas E-kampioene, Jannie Visser en Joks le roux (RFS-Toyota Hilux) het hul eerste sege van die seisoen aangeteken ná ‘n goeie stryd met die vroeëre kampioenskapvoorlopers, Deon Venter en Ian Palmer in die 4×4 Megaworld-Toyota Hilux. Net 35 sekondes het dié twee spanne by die einde geskei.
Die derde plek het aan Louw de Bruin en Riaan Greyling (Ruwacon-Ford Ranger) gegaan wat die KZN-paar, Bappy Rubuluza en Khuliele Vakalisa in die Ford Racing Ranger afgeweer het. Nadat hulle nie die voorren kon voltooi nie, het die kampioenskapleiers, Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus in ‘n tweede 4×4 Megaworld-Toyota Hilux, teruggeveg om waardevolle punte met ‘n hardverdiende vyfde plek in te samel.
bydrae: Charmaine Fortune
