Bestendigheid Sullwald se geheim

Bestendigheid was die sleutel tot die sukses vir die Phalaborwa-pa- en seun-span, Kallie en Quinton Sullwald, wat die algehele Spesiale Voertuigkatgorie- asook die Klas A-titels in die Spesiale Voertuigkategorie in vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap ingepalm het.

Die Sullwalds, in die Elegant Fuel BAT, het hul tweede Suid-Afrikaanse kampioenskaptitel tydens die onlangse RFS Magalies 400 gewen en ‘n sewende plek algeheel was genoeg om hulle tot drie punte voor die Team Total Porter-span van Shameer Variawa en Siegfried Rousseau op die algehele punteleer te neem. Variawa en Rousseau het die RFS Magalies-ren met ‘n voorsprong van ses punte aangepak, maar is deur ‘n stukkende veringstelsel gekniehalter.

Die Sullwalds het die eerste byeenkoms van die seisoen gemis en kon nie punte tydens die tweede ren aanteken nie. Daarna het hulle twee keer gewen en drie tweede plekke tydens die oorblywende renne aangeteken terwyl die drie renne wat Variawa en Rousseau nie kon voltooi nie, hul ondergang beteken het alhoewel hulle drie seges deur die jaar aangeteken het.

Die ander kenmerk van die algehele kampioenskap was die verskyning van twee Klas P-jaers in die top vyf. Johan van Staden het vroeër die seisoen geskiedenis gemaak toe hy en James Rossouw (Atlas Copco-BAT) die eerste Klas P-span geword het om ‘n Absa-nasionale byeenkoms algeheel te wen. Dié paar het derde algeheel geëindig met Archie Rutherford (Regent Racing Jimco) wat vierde in die jaerskampioenskap klaargemaak het nadat hy en Mike Lawrenson die eerste van drie Klas P-spanne spanne tydens die RFS Magalies 400 was.

Rutherford het ‘n enkele punt voor Herman Sullwald (Sullwald Racing SVR) in die jaerskampioenskap geëindig, maar het van drie navigators deur die loop van die seisoen gebruik gemaak. Dis het Louis Alberts en Rudi Balzer tot die vyfde plek agter Wichard Sullwald in die navigatorstryd opgestoot.

In die Klas A-kampioenskap is Variawa/Rousseau tussen die Sullwalds getoebroodjie. Hier is die eerste twee plekke dieselfde as in die algehele stand van sake met Herman Sullwald en sy seun Wichard wat derde is.

Die Klas B-kampioenskap was ‘n regte familiesaak. Toe die stof gaan lê het, het die Kaapse veteraanjaer, Bes Bezuidenhout en sy skoondogter, Lindie (Adenco BAT) die pa- en dogter-kombinasie van Coetzee en Sandra Labuscagne in die Raysonic-Zarco geklop.

Beide spanne het goed klaargemaak met die Bezuidenhouts wat die Human Auto 400, die voorlaaste ronde van die kampioenskap, gewen het en die Labuscagnes wat tydens die laaste ronde geseëvier het. Die broers, Keith en Andrew Makenete in nóg ‘n Zarco het derde in die kampioenskap klaargemaak.

Van Staden en Rossouw het die Klas P-kampioenskap oorheers met Van Staden wat die jaerstitel voor Rutherford en die Swaziland-gebaseerde John Thompson (Zarco) opgeraap het. Met Rutherford en Thompson wat albei van drie navigators deur die seisoen gebruik gemaak het, het Balzer, Deon Bezuidenhout en Clinton McNamara en Philip Herselman (Atlas Copco BAT) almal agter Rossouw in die navigatorskampioenskap klaargemaak.

Die eerste ronde van volgende jaar se kampioenskap is die Adenco 400 wat in Maart in die Wes-Kaap aangebied sal word.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply