Honda het die internasionale motorbedryf aan die gons met die bekendstelling van die wêreld se eerste sportkoepee met ’n hibriede aandryfstelsel: die kopdraai-CRZ. En ondanks die oorweldigende vraag na die nuweling uit alle oorde, is die goeie nuus dat die CR-Z voor die einde van vanjaar op plaaslike bodem bekend gestel gaan word.
Daarmee het Honda ’n bekoorlike verrigtingskoepee geskep wat die koppe laat draai en onmiskenbaar in die Honda-stal hoort. Dit is boonop ’n motor wat mense se menings oor hibried-aangedrewe motors heeltemal gaan verander.
Die nuwe CR-Z voldoen aan al die verwagtinge wat ’n rasegte verrigtingsmotor betref. Die onderstel is veral op bestuursplesier gerig, en is daarom met wye wielsporing en ’n kort asafstand ontwerp om ratse padgedrag te verseker. Die liggewig-veringstelsel is boonop vir skerp, onmiddellike reaksies ingestel.
Die uiters doeltreffende stuurstelsel word elektries aangedryf, maar maak van gevorderde sagteware gebruik om ʼn natuurlike, regstreekse gevoel en tasbare terugvoering te bied. Groot bande op liggewig-allooivellings sorg vir hope kloukrag, maar beperk ook ongeveerde massa, wat weer eens hantering en stuurgevoel bevorder.
Die hart van die CR-Z is sy uiters gevorderde, parallel-gerangskikte hibriede aandryfstelsel, wat van Honda se sogenaamde IMA-tegnologie gebruik maak. IMA is ʼn geïntegreerde kragbron-hulpstelsel wat in hierdie geval spesifiek aangepas is om by die atletiese beeld van die CR-Z te pas – en dan ook aan die verwagtinge te voldoen wat deur daardie beeld geskep word.
Die GKH-stelsel koppel ’n uiters doeltreffende i-VTEC-petrolenjin van 1, 5 liter aan ’n klein elektriese motor met hoë wringkraglewering. Die elektriese kragbron pas netjies tussen die petrolenjin en die koppelaar, en kan bykomende wringkrag van tot 78 Nm by lae tot medium enjinsnelhede voorsien.
Die gesamentlike kraglewering van dié parallelle aandryfstelsel is vergelykbaar met dié van ’n meer gewone 1,8 liter-petrolenjin. Die maksimum-kraglewering beloop 92 kW, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 174 Nm.
Die IMA-stelsel het egter die vermoë om wringkrag oombliklik beskikbaar te stel, wat blitsige reaksies en onmiddellike versnelling en verbysteekvermoë bewerkstellig.
Trouens, die versnelling van die CR-Z voel amper soos dié van ’n turbo-aangejaagde motor, maar met die bykomende voordeel van voortgesette, liniêre kraglewering en ’n toergierigheid wat beslis tot die sportiewe karakter van die Honda-koepee bydra.
Die CRZ se parallelle hibriede aandrywing word deur middel van ’n vernuftige beheerstelsel met drie verstellings bedryf. Elke verstelling het sy eie stel bedryfsreëls, wat aspekte soos versneller-reaksie, stuurgevoel en IMA-ingryping beheer.
Die bestuurder kies self die program wat die beste by die heersende bestuursomstandighede pas, of wat die klem op bedryfsdoeltreffendheid plaas. Die bestuurder kan natuurlik ook ’n program kies wat aan sy of haar persoonlike voorkeure en behoeftes voldoen. Die drie programme – Normaal, Sport en Ekonomie – kan maklik gekies word, en tree onmiddellik in werking.
Die CRZ is die eerste hibried-aangedrewe motor wat met ’n sesgang-handratkas toegerus word, en bied daarom uitstekende bestuursplesier en bestuurderbetrokkenheid. Die ratverhoudings is sorgvuldig gekies om optimale kragaanwending en reaksies in die laer ratte te bewerkstellig, terwyl die klem op gerief en kruisvermoë verskuif wanneer langpadritte aangepak word.
Die CR-Z se omgewingsvriendelike kenmerke word deur sy brandstofdoeltreffendheid en lae uitlaatgasvlakke onderskraag. Die koepee se brandstofverbruik in die gekombineerde siklus beloop net 5,0 liter/100 km.
Die gepaardgaande CO2-uitlaatgasvlak van net 117 g/km, wat onder die 120 g/km-grens van die uitlaatgasbelasting val wat vanaf September in SA gehef gaan word.
Wat buitevoorkoms betref, is die nuwe Honda CR-Z ’n motor wat die koppe laat draai. Die koepee is onmiskenbaar lid van die Honda-stal, maar weerspieël ’n nuwe, toekomsgerigte benadering wat heeltemal uniek is.

Tog is daar ook trekke wat sterk aan Honda se sportmotorverlede herinner. Die ongewone, verdeelde luikdeur agter, waarvan die onderste gedeelte ook met glas toegerus is, is ’n onmiskenbare verwysing na die legendariese Honda CR-X, ’n liggewig-tweedeurkoepee wat as een van die CR-Z se voorsate beskou kan word.
Van voor is die Honda-identiteit onbetwisbaar, terwyl die profiel die motor se skoon, gladde afwerkings en die dinamiese profiel van die bakvorm se middellyn beklemtoon. Die CR-Z se lae, atletiese houding dra ook by tot die Honda se sterk, aantreklike beeld.
Die binneruim sluit aan by die buitevoorkoms se fokus op dinamiese ontwerp en vernuftige uitvoering. Die instrumentepaneel is spesifiek daarop gerig om die aandag van die bestuurder te prikkel en te boei, maar bied terselfdertyd ook ’n maklike oorsig van die belangrikste kontroles en instrumente.
Die gevorderde, driedimensionele instrumente kan in drie verskillende kleure verlig word. Die kleur hang af van die bedryfsprogram wat gekies is, en verander wanneer daar tussen programme geskakel word.
’n Meerdoelige inligting-uitleespaneel toon ritgerigte inligting, terwyl ’n sogenaamde ‘Eco Bar’ ’n grafiek gebruik om te wys hoe ekonomies daar gery word. Aan die einde van ’n rit kry die bestuurder dan ’n eko-telling, wat met die vorige rit se telling vergelyk word.
Die CR-Z bied ’n gerieflike kajuit met ’n 2+2-sitplekuitleg. Daar is twee ruim sportsitplekke voor, terwyl ’n kleiner geïntegreerde sitbank agter voorsien word. Daar is ook heelwat pakplek in die bagasieruim, terwyl die agtersitplek ook platgevou kan word om die bergruimte verder te vergroot, indien verlang.
Hoewel die werklike spesifikasies vir plaaslik-beskikbare weergawes van die CR-Z nog nie vasgestel is nie, sal die standaardspesifikasie na verwagting uitvoerig wees, met ’n lang lys weelde- en veiligheidskenmerke.
Die Honda CR-Z word later vanjaar in SA bekend gestel.
