Spanne wat gewoonlik tweede viool speel sal hul stemme dik wil maak tydens die tweede helfte van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 27 en 28 Augustus met die 4×4 Mega World 400 by Carnival City aan die Oos-Rand afskop.
Voordat hulle die onlangse Sun City 400 gewen het, was ‘n agtste plek die beste resultaat vir die Regent Racing-Nissan Navara-span van Terence Marsh en Buk Carolin en hulle was 12de in die kampioenskap. Thomas Rundle en Juan Möhr het by Sun City ook op die podium klaargemaak nadat hulle twee renne met die Barde Tyre-Nissan Navara nie kon voltooi nie.
Daar was ook goeie resultate vir die privaatspanne Kobus van Tonder en Freddie Kriel (Uni Freight-Ford Ranger) wat ‘n top vyf-posisie voor die neuse van die RFS-Toyota Hilux-span van Chris du Plooy en Henk Janse van Vuuren opgeraap het. Van Tonder en sy skoonseun was twee beter as Rundle en Möhr en het hul eerste byeenkoms uit vier renne voltooi.
Verder af in Klas E het die tiener-beginner, Lance Woolridge saam met die ervare Ward Huxtable in die Team Ford Racing Ranger reeds twee keer vanjaar gewen en lei hulle die kampioenskap. Nóg ‘n beginnerspan, Gerald le Roux en Willem Pretorius (Ruwacon Racing-Ford Ranger) het hul debuutren vanjaar gewen en was tweede by Sun City.
Die Sun City-byeenkoms het ook tekens opgelewer dat Spesiale Voertuig-spanne wat nie op die gunstelingelysie is nie, ook hul spiere bult. In slegs sy tweede seisoen het die kleurvolle voormalige vierwielmotorfietsjaer, Jimmy Zahos (Cobalt Racing-Porter) dieselfde pas as die voorste spanne gehandhaaf en vierde in Klas A by Sun City klaargemaak – dít ten spyte daarvan dat hy die ren op sy eie voltooi het nadat hy van sy navigator se dienste by die aangewese dienspunt ontslae geraak het.
Die Swaziland-span, John Thomson en Clinton McNamara (Zarco) het ook gewys waartoe hulle in staat is. Hulle het hul beste resultaat vir die seisoen aangeteken en was sesde algeheel en tweede in Klas P nadat hulle by die sentrale dienspunt aan die voorpunt van die kategorie was.
Agter Thomson/McNamara het die broers, Brett en Steve Parker heelwat potensiaal getoon en hulle was sewende algeheel na hul eerste ren in ‘n Jimco. Dié voertuig was voorheen in die hande van die Polokwane-span Naeem Moosajee en Rayhaan Bodhanya.
Die beginners, Neil Meyer en Leon Muller (Zarco Magnum) het in ‘n indrukwekkende agtste plek algeheel klaargemaak terwyl Keith du Toit en die veteraan Ashley Thorn van Lesotho met Bokomo as ‘n nuwe borg aan boord, die tiende plek opgeraap het.
“Dit is verfrissend om te sien dat minder ervare spanne druk op die meer gevestigde spanne plaas,” het die voorsitter van die SA Nasionale Veldrenvoertuig-Assosiasie, Richard Schilling, gesê. “Die mededinging regdeur die verskillende kategorieë is nou intens en dit is goed vir die sport.”
Die Absa-reeks sal tydens die 4×4 Mega World 400 by Carnival City in die tweede helfte van die seisoen inbeweeg met sommige taai kampioenskapsgevegte wat voorlê. Kampioenskapmededingers en diegene wat moet opvang, benodig goeie punte en dit skep geleenthede vir interessante renaksie.
Die renhoofkantore, die begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt sal by Carnival City wees. Die roete sal weer eens toeskouer-vriendelik wees met verskeie uitkykpunte binne maklike bereik van die renhoofkantore en publieke toegang tot al dié gebiede is gratis.
bydrae: Charmaine Fortune
