Die koning van Afrika

Die verhaal van die Toyota Land Cruiser gryp terug na 1950, net 14 jaar nadat Toyota sy eerste voertuig geproduseer het en in ‘n stadium dat die heropbou na die Tweede Wêreldoorlog in Japan momentum begin kry het. Saam met die begeerte van die Japanse nywerheid om homself te hervestig, was daar ‘n strewe na diversiteit in die Japanse voertuigbedryf, wat ‘n omvattende veldtog onderneem het om sy agterstand teenoor die wêreld se ander voertuigvervaardigers uit te wis in ‘n stadium dat Japan as ‘n nywerheidsreus herontwaak en nuwe markte toeganklik geword het.

Toyota se ingenieurs was bekend met die Amerikaanse Jeep, ‘n basiese, suiwer nutsvoertuig wat spesifiek vir militêre gebruik ontwikkel is. Hulle het gereken hulle kon hierop verbeter en die gebruik van so ‘n voertuig tot die burgerlike mark uitbrei. Werk aan hierdie nuwe geslag van 4×4-nutsvoertuie, wat meer krag sou hê en doeltreffender sou wees, het in Augustus 1950 begin. Die eerste prototipe-Land Cruiser, die Model BJ, is in net vyf maande ontwikkel en het in Januarie 1951 die lig gesien.

Hierdie eerste prototipe is aangedryf deur ‘n sessilinderenjin van 3,4 liter wat, vir daardie tyd, ‘n gesonde 85 perdekrag (64 kW) ontwikkel het. Die enjin is oorspronklik ontwerp vir gebruik in ‘n ligte viertonvragmotor. Die onderstel was ook afkomstig van ‘n bestaande Toyota-vragmotor, die SB. ‘n Sterk en doeltreffende 4×4-kragoorbringstelsel is aangebring en die uiteindelike produk, met sy kragtige en betroubare enjin en ‘n stewige, geharde onderstel het aan die Land Cruiser buitengewone veldvermoë gegee. Hierdie “baie krag/geharde onderstel”-resep het ‘n waarmerk van die Land Cruiser geword namate hy hom as ‘n skitterende 4×4-nutsvoertuig gevestig het.

Voorproduksieweergawes van die Land Cruiser was binne ses maande na die voltooiing van die eerste prototipe gereed en Toyota het hierdie eenhede aan die Japanse Nasionale Polisie en ander staatsdepartemente gedemonstreer. Die Toyota-ingenieurs, wat die grootste vertroue in die voertuig se vermoë gehad het en gretig was om hul voertuig se vermoëns tot die uiterste te beproef, het die Land Cruiser die ekstreme hellings van Japan se beroemde berg, Foedjijama, laat aandurf. Die doel was om die “sesde stasie” op die roete teen die vulkaniese berg uit te bereik – iets wat geen voertuig nog kon regkry nie. Die Land Cruiser het die sesde stasie sonder probleme gehaal en so sy naam gevestig in die annale van die Japanse motorbedryf.

Toyota Land Cruisers
Toyota Land Cruisers

Met sy reputasie gevestig, het Toyota se ingenieurs voortgegaan met die ontwikkeling van die Land Cruiser. Teen 1953 was die voertuig, nou bekend as die BJ-25, in reeksproduksie en 289 sagtedakweergawes van die 4×4-nutsvoertuig is in daardie jaar afgelewer. Om hul voertuig van die Amerikaanse Jeep te onderskei, het Toyota hul voertuig in 1954 die Land Cruiser gedoop. ‘n Jaar later is die Land Cruiser FJ-25 bekend gestel met Toyota se nuwe “F”-reeksenjin van ses silinders. Met 105 perdekrag (ongeveer 79 kW) onder die enjinkap het hierdie nuwe enjin 24 persent meer krag gehad. Die FJ-25 het ook deure van metaal gehad pleks van seil, ‘n korter asafstand vir groter maneuvreerbaarheid en ‘n aangepaste veerstelsel wat die rygerief aansienlik verbeter het.

‘n Bakkieweergawe is in 1959 bekend gestel. Hierdie model, wat steeds as die FJ-25 bekend gestaan het, het met ‘n tweespoed-oordraratkas gespog, wat die bestuurder ‘n keuse tussen hoog- en laagstrekratverhoudings gegee het. Die geriefseienskappe van die voertuig is ook verbeter.

Die eerste Land Cruiser-eentonbakkie het in 1961 die lig gesien as die FJ-45 met ‘n langer asafstand. Ook in hierdie tyd is die FJ-40-hardedakmodel bekend gestel. Die eerste Land Cruiser-stasiewa, die FJ-55V, is in 1967 bekend gestel en het weldra in die VSA, Australië en ook Suid-Afrika ‘n legende geword. Die droom van Toyota se ingenieurs om ‘n reeks geharde, betroubare en duursame 4×4-voertuie te skep, is uiteindelik verwerklik.

‘n Proses van volgehoue evolusie word tot vandag toe voortgesit, en die Land Cruiser het oor die hele wêreld ‘n reputasie verwerf as ‘n voertuig wat die heel strafste terrein kan aanpak en dit oorwin. Voortgesette ontwikkeling en verbetering het gesorg vir toegevoegde waarde, gerief en verrigting namate nuwe tegnologieë ontwikkel en geïmplementeer is om hierdie Koning van 4×4’s verder te verbeter.

Die Land Cruiser het ‘n vername rol gespeel om die Toyota-handelsmerk in uitvoermarkte te vestig, waar die maatskappy gevestigde handelsmerke soos Jeep en Land Rover die stryd aangesê het. Die welslae van die Land Cruiser kan ten beste aan sy verkoopsgeskiedenis beoordeel word.

Die 50 000ste Land Cruiser is in 1965 afgelewer en die 100 000ste eenheid net drie jaar later. Teen 1973 het hierdie syfer al drievoudig toegeneem en die Land Cruiser was reeds gewild in 120 lande. In 1981 het Land Cruiser-verkope die eenmiljoen-kerf verbygesteek.

Deur die jare het Toyota voortgebou op die reputasie van die Land Cruiser en die produkreeks uitgebrei in antwoord op die vraag na steeds groter diversiteit in die 4×4-mark, veral die ontploffing in die vraag na sportnutsvoertuie. Afgesien van die moderne opvolgers van die Land Cruiser-bakkie word drie ander Land Cruiser-produkreekse vandag in Suid-Afrika bemark: die Prado, die Land Cruiser 70 Station Wagon, ‘n volle nutsvoertuig-tipe stasiewa waarmee die swakste terrein aangedurf kan word, en die Land Cruiser 200, wat nuwe standaarde gestel het vir veldryvermoëns en gerief in die 4×4-mark in Suid-Afrika.

Toyota Suid-Afrika bied tans ‘n keuse van agt modelle in drie verskillende Land Cruiser-produkreekse, naamlik twee Land Cruiser-eentonbakkies, die Land Cruiser 70 Station Wagon, drie weergawes van die Prado en twee vlagskip-Land Cruiser 200-modelle, wat propvol van die jongste Toyota-tegnologie is. Klante het ‘n keuse tussen petrol en diesel, nutsbakkie, nutsbusmotor, middelslag-sportnutsvoertuig of groot, luuksueuse sportnutsvoertuig.

Die geskiedenis van die Land Cruiser in Suid-Afrika gryp terug tot 1971 toe Toyota Suid-Afrika ‘n besending van 12 Land Cruiser FJ-45-bakkies ingevoer het. Tipies van daardie dae was hierdie voertuie beslis het nutsvoertuie. Daar was geen geriewe nie en hulle was maar taamlik Spartaans vergeleke met vandag se gevorderde voertuie. ‘n Driespoed-handratkas was die standaard-ding en kragstuur ‘n toekomsdroom in hierdie soort voertuig. Die fokus was suiwer op duursaamheid en geharde verrigting van die pad af.

Intussen het dinge ietwat verander en daar is geen vergelyking tussen daardie eerste primitiewe ou FJ’s en vandag se gesofistikeerde Land Cruisers nie. Gevorderde elektronies beheerde liggewig-enjins met uitstaande doeltreffendheid en verrigting is vandag die norm. Die konsep van ‘n tweespoed-oordraratkas, wat in 1959 in die Land Cruiser FJ-25 in gebruik geneem is, het tot vandag toe oorleef, maar deesdae word dit gekoppel aan ‘n gevorderde vyfspoed-handratkas of ‘n elektronies beheerde outomatiese transmissie, soos in die Land Cruiser 200-dieselmodel.

Gevorderde ewenaartegnologie het gelei tot die gebruik van heeltydse vierwielaandrywing vir die Prado en die Land Cruiser 200 Series-modelle. Ewenaarslotte verseker groter vastrap wanneer ekstra-moeilike terrein aangepak word. Vordering op die gebied van kragoorbringtegnologie het die veldryvermoë van die Land Cruiser verbeter tot ‘n vlak wat net enkele jare gelede nog as onmoontlik beskou is.

Die ontwikkeling ten opsigte van veer-, stuur- en remstelsels was net so verstommend. Weg is die wurm-en-sektor-staafstelsel wat in die vroeë Land Cruisers gebruik is. Gevorderde kraggesteunde tandrat-en-kleinrat-stelsels word vandag gebruik vir presiese en inspanningslose ry. Grootliks verbeterde veerstelsels bied nie net ‘n geriefliker rit nie, maar ook ‘n lang slagafstand om te verseker dat al die wiele op die grond bly in strawwe toestande. Die Land Cruiser Prado en die 200 Series-busmotors het ook ABS-sluitweerremstelsels as standaard-toerusting vir doeltreffende remming.

Die gewildheid van die Land Cruiser wêreldwyd word ook in Suid-Afrika weerspieël. Verkope van die Land Cruiser in Suid-Afrika nader nou die 70 000-kerf.

Van ‘n nederige begin met verkope van net 15 eenhede in sy eerste jaar in Suid-Afrika het die Land Cruiser se afset in die eerste agt maande van vanjaar, van Januarie tot einde Augustus, tot 3 409 eenhede toegeneem.

Lewer kommentaar

Leave a Reply