Nuwe standaard vir groot 4×4-sportnutsvoertuie

Die Land Cruiser 200 stel nuwe standaarde in die mark vir groot 4×4-sportnutsvoertuie en geniet sedert sy bekendstelling ‘n hoë mate van aanvaarding op die SA mark. Sedert begin vanjaar is reeds 586 van hierdie bekwame en luuksueuse sportnutsvoertuie plaaslik verkoop en die bestelboek bly vol.

Die lewendige vraag na die Land Cruiser 200 behoort niemand te verbaas nie. Hierdie Toyota, ‘n aansienlike verbetering op sy voorganger, is stylvol, ruim, gerieflik en toegerus met gevorderde elektroniese hulpmiddels wat die optimum-4×4-ondervinding verseker. Of jy ‘n perdesleepwa na ‘n plaaslike byeenkoms wil sleep of ‘n boot na die kus, en of jy die strafste moontlike terrein in die grootste gerief en weelde wil aandurf, die Land Cruiser 200 is net die voertuig vir jou.

Die Land Cruiser 200 put uit elke aspek van Toyota se omvattende bron van 4×4-kennis oor byna 60 jaar se evolusie van die Land Cruiser, van ‘n baie basiese nutsvoertuig tot ‘n premiumklas-luuksesportnutsvoertuig. Die vlagskip-SNV beliggaam steeds die vermoë van daardie eerste Land Cruisers om waar ookal te ry en kombineer dit met die heel jongste enjin- en veiligheidstegnologie sowel as die geriefsvlakke van ‘n weeldesedan.

Die genetiese erfenis van die Land Cruiser 200 is duidelik, maar die ingenieurspan het nogtans vir die jongste Land Cruiser-model met ‘n skoon vel papier begin. Die wringsterkte van die nuwe model is met 40 persent verbeter. Die Toyota is 60 mm langer en 30 mm breër as sy voorganger, wat ‘n ruimer platform beteken sonder dat daar enigiets ingeboet is aan maneuvreerbaarheid op en van die pad af.

Land Cruiser 200 (foto © toyota@toyota-media)
Land Cruiser 200 (foto © toyota@toyota-media)

‘n Korter enjinkaplyn, danksy die gebruik van kompakte V8-enjins in die petrol- sowel as die dieselweergawe, verbeter sig na voor. ‘n Ander voordeel was dat die A-pilaar vorentoe geskuif kon word, wat die kajuitlengte met 130 mm vergroot het.

Die kajuit bied gerieflike sitplek vir sewe insittendes in ‘n 2/3/3-uitleg. Die voorsitplekke het ‘n verstelbestek van 240 mm, terwyl die tweede ry sitplekke met 105 mm vorentoe en agtertoe geskuif kan word. Die gevolg is meer beenruimte vir die insittendes op elke ry sitplekke.

Ondanks sy milde afmetings het die Land Cruiser ‘n betreklik doeltreffende lugsleursyfer van 0,35.

Die krulveer-voorveerstelsel, optimaal ingestel, het ‘n lang slag, wat uitstekende veldryverrigting verseker. Die voorvering is fyn aangepas by die vierskakel-krulveerstelsel agter vir die optimum-gerief, -rit en -hantering op die grootpad of in die veld.

Die vlagskip-Land Cruiser 200 gebruik uitsluitend V8-enjins, hetsy petrol of diesel. Die petrolenjin van 4,7 liter bied ‘n uitstekende balans tussen doeltreffendheid en verrigting. Hierdie enjin ontwikkel 202 kW @ 5 400 r/min en 410 Nm @ 3 400 r/min.

Die diesel-V8 het ‘n verplasing van 4,5 liter en spog met buitengewoon goeie verrigting en ekonomie. Die gebruik van die jongste deelpyp- en wisselnosselturbotegnologie het gelei tot die ontwikkeling van ‘n kragbron wat net soveel brandstof gebruik as ‘n dieselenjin van 60 persent van sy grootte. Trouens, die diesel-Land Cruiser se verbruik kan dié van ‘n groot sedan laat sleg lyk. Die diesel-V8 lewer 173 kW @ 3 200 r/min en ‘n magtige 615 Nm se wringkrag tussen 1 800 en 2 200 r/min.

Die Land Cruiser-sportnutsvoertuig is nog altyd toegerus met al die funksionele tegnologie om te voldoen aan die hoogste verwagtings van die 4×4-koper in die premiumsektor van die mark. Die Land Cruiser 200 neem die gebruik van hierdie funksionele tegnologie tot nuwe hoogtes in die belang van veiligheid en veldryvermoë.

Die eienskappe van die Land Cruiser 200 sluit die volgende in:
* Kinetiese Dinamiese Veerstelsel (ofte wel Kinetic Dynamic Suspension System)
* Kruipbeheer (net petrolweergawe)
* Alleterrein-ABS
* Voorbotsing-sitplekgordelstelsel
* Kantlugsakke vir die twee kantsitplekke agter plus vollengte-gordynlugsakke en knielugsakke vir albei voorsitplekke
* Sitplekverwarmers voor
* Slim toegangstelsel met drukknopaanskakeling
* Outomatiese lugreëling met viersone-temperatuurbeheer met onafhanklike stelling vir voor en agter.
* Agterste lugreëling met onafhanklike kontroles.
* Navigasiestelsel
* Sonarwaarskustelsel vir die vermyding van voorwerpe voor en agter die motor
* Trumonitor

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die Land Cruiser 200 spog met ‘n spesifikasievlak wat nie net gerieflik met dié van die allerluuksste weeldemotors vergelyk kan word nie, maar die Toyota het die bykomende voordeel dat die eienaar die strafste toestande in die veld kan aandurf.

Lewer kommentaar

Leave a Reply