Toyota se Land Cruiser Prado is nie om dowe neute so gewild nie. Die bekwame middelslag-sportnutsvoertuig spog met passasiersmotorgerief, maar dit maak geen inbreuk aan die Prado se bewese duursaamheid en weergalose vermoë in veldrytoestande nie – albei eienskappe kenmerkend vir die Land Cruiser-handelsmerk. Die Prado-platform is ontwikkel vir die allerbeste hantering- en stabiliteitseienskappe op en van die pad af.
Die sleutel tot die Prado se befaamde hantering en stabiliteit is die lae swaartepunt en breë wielsporing. Die wye bak verseker ‘n ruim kajuit, terwyl die rigiede konstruksie goeie GVH-(geraas, vibrasie en hardheid) eienskappe aan die voertuig verleen. Met die Prado het Toyota daarin geslaag om die geharde duursaamheid van ‘n tradisionele 4×4-leerraamonderstelkonstruksie te kombineer met die gerief en gevoel van ‘n ligter sportnutsvoertuig met ‘n skulpkonstruksie.
Die slanke buite-ontwerp van die Prado is suiwer en onmisherkenbaar Land Cruiser. Die passing van die kajuitkomponente is uitstekend, met die minste moontlike ruimte tussen komponente, en die algemene gevoel is dié van ‘n luukse-passasiermotor. Die instrumentasie is duidelik leesbaar en al die kontroles sit reg onder die bestuurder se hand.
Toyota se ingenieurs en ontwerpers, deeglik bewus van die vereistes wat veldry aan ‘n voertuig stel, het die kajuit van die Prado ontwerp met die oog op hierdie vereistes. Groot skakelaars en kontroles wat die bestuurder maklik kan bedryf terwyl moeilike terrein oorgesteek word, en dit sonder dat die aandag van die bestuurstaak afgetrek word, is ‘n voorbeeld hiervan. Die sitplekke bied uitstekende steun en gerief, op en van die pad af.

Die doeltreffende lugreëlingstelsel verseker uitstekende temperatuurbeheer, terwyl dit min krag van die enjin trek. Die voloutomatiese stelsel het onafhanklike beheer vir elke kant van die voertuig en individuele kontroles vir die voor- en die agterkant van die kajuit. ‘n Lugfilter in die stelsel sorg dat stofdeeltjies uit die kajuit geweer word. Toyota se sogenaamde Oudiovisuele Navigasiestelsel met ‘n splitskermvertoon en ‘n omvattende Suid-Afrikaanse kaartstel is standaard-toerusting in al drie modelle. Ditto vir ‘n koelkassie in die middelkonsole.
Die navigasiestelsel is geïntegreer met ‘n ses-CD-wisselaarklankstelsel met ‘n RDS-radio en MP3/WMA-versoenbaarheid. Die petrol-VX-model met sy vierliter-V6-enjin het satellietkontroles vir die klankstelsel aan die stuurwiel.
Tweestadium-voorlugsakke bied gevorderde beskerming aan die insittendes voor. Daar is ook kantlugsakke vir die voorste insittendes en gordynlugsakke vir die voorste en agterste insittendes. Die sitplekgordels, met tweestadium-voorspanners en kragbeperkers, vul die lugsakbeskerming aan.
Die ABS-remstelsel is toegerus met Elektroniese Remkragverspreiding. Ook ingesluit in die spesifikasie is meganiese remhulp – wat voldoende remkrag verseker in noodremsituasies – wieltolbeheer en Voertuigstabiliteitsbeheer. Afdraandehulpbeheer (ofte wel Downhill Assist Control) help om ‘n gladder rit in bergagtige toestande te verseker en snelheidsbeheer verseker bestuurdersgerief op lang ritte op die oop pad.
Die Prado VX V6 het ‘n bykomende langafstand-brandstoftenk as standaard-toerusting, wat die brandstofvermoë vergroot tot ‘n massiewe 180 liter. Aktiewe wieltolbeheer is ‘n kenmerk van die V6-enjin se bestuurspakket. Hierdie model, soos die Prado VX-diesel, spog met Toyota se gevorderde Optitron-instrumentverligting.
Die VX-spesifikasie sluit leerbekleedsel in, asook ‘n bestuurdersitplek wat op agt maniere verstel kan word.
Die drie weergawes van die Prado is verkrygbaar met ‘n keuse tussen ‘n vierliter-V6- of ‘n viersilinderdieselenjin en GX- en VX-spesifikasievlakke in die dieselweergawes en VX in die V6-petrolmodel. Die VX-petrolmodel kom standaard met ‘n vyfspoedhandratkas met ‘n sluitbare wringkragomsetter en ‘n tweederat-wegtrekfunksie. Drywing in al die weergawes is deur ‘n permanente vierwieldryfstelsel met ‘n halfglip-Torsen-middelewenaar. Wanneer die bestuurder laagstrek skakel, word ‘n ewenaarslot in die middelewenaar gesluit.
Die dieselmodelle word aangedryf deur Toyota se verfynde 1KZ-TE-enjin met ‘n turboaanjaer, tussenkoeler en elektroniese beheer. Die maksimum-krag van hierdie enjin is 96 kW @ 3 600 r/min en dit ontwikkel 343 Nm @ 2 000 r/min.
Die Land Cruiser Prado-petrolmodel word aangedryf deur ‘n nuwe V6-volaluminiumenjin van vier liter wat 179 kW @ 5 200 r/min en ‘n gesonde 376 Nm se wringkrag by 3 800 r/min lewer.
Al die Prado-modelle word gedek deur Toyota se diensplan van vyf jaar/90 000 km.
