Peugeot se 908 HDi-wondermotor, wat die vinnigste kwalifiserende tyd opgestel en as naaswenner in vanjaar se Le Mans-uithouren oor 24 uur uit die stryd getree het, is een van die hoofaantrekkings by die komende Johannesburgse internasionale motorskou wat van Saterdag 1 November tot Sondag 9 November 2008 by die nasionale uitstalsentrum by Nasrec, Johannesburg, gehou word.
Die Sports Prototype-sportmotor, wat aangedryf word deur ‘n V12-dieselenjin van 5,5 liter met dubbele turbo-aanjaers, word gesamentlik deur Peugeot Motors Suid-Afrika en Kagiso-uitstallings en byeenkomste, die aanbieders van die skou, na die byeenkoms gebring. Dit sal deel wees van PMSA se uitstalling in Saal 5.
Dié motor, wat met kraglewering van 520 kW en omtrent 1 200 Nm se wringkrag kan pronk, is nou nie juis ‘n alledaagse turbodiesel-luikrug nie. Dié heuphoogte stukkie renvernuf is nogtans uiters suksesvol deur Peugeot ingespan om sy dieseltegnologie ten toon te stel, en jaag met diesel-roetfilters wat dit ‘n skoon en blitsige renmotor maak.
Dit lyk baie waarskynlik dat die 908 HDi vir die 2009-Le Mans-uithouren oor 24 uur en die afsonderlike Europese Le Mans-uithourenreeks wat oor vyf rondes beslis word, deur ‘n hibriede-weergawe vervang sal word. Die nuwe motor kombineer die voordele van turbodiesel-doeltreffendheid met vernuwende elektriese berging wat bykomende krag sal lewer wanneer dit vereis word, en energie wat in ‘n elektriese motor/generator geberg word, loslaat om die enjin se verrigting ‘n stewige hupstoot te gee. As die voertuig vir renne goedgekeur word, sal dit Peugeot die eerste vervaardiger laat word wat ‘n motor met tweeling-aandrywing vir top-motorsport ontwikkel het.

