Die Toyota-Motorkorporasie (TMK) het aangekondig dat hy vroeër vandeesmaand begin het om inprophibriedvoertuie (IHV) op openbare paaie in Brittanje te toets. Die toetse word onderneem in oorleg met EDF Energy, die Britse filiaal van die Franse energiemaatskappy EDF.
Om die toetse amptelik af te skop, het die TMK en EDF ‘n gesamentlike perskonferensie in Hyde Park in Londen gehou. Dit is bygewoon deur onder andere die Britse onderminister van sake-, onderneming- en reguleringshervorming, John Hutton, ander lede van die Britse parlement, amptenare van die Londense munisipaliteit en Japanse afgevaardigdes.
Die Japanse ambassadeur in Brittanje, Shin Ebihara, EDF Energy se uitvoerende hoof, Vincent de Rivas, die TMK se besturende amptenaar, Koei Saga, en Toyota Motor Europe se senior visepresident, Graham Smith, het ook die perskonferensie bygewoon.
Saga, wat aan die hoof staan van die TMK se afdeling hibriedstelselontwikkeling, het gesê dat hulle baie opgewonde is oor die uitbreiding van die IHV-toetsprogram na Brittanje in samewerking met EDF Energy.
“Die aankondiging is ‘n verdere stap in die aanvaarding van elektrisiteit in kombinasie met hibriedtegnologie as ‘n lewensvatbare en volhoubare vervoeroplossing,” het Saga gesê.
Die padtoetse in Brittanje, soos dié wat vanaf die somer van 2007 saam met EDF in Frankryk onderneem is, behels die oprigting van die nodige infrastruktuur, die evaluasie van voertuigverrigting en gebruiksgerief en die verwerking van die terugvoering van die voertuiggebruikers. Die toetsprogram sal langer as ‘n jaar duur.
Brittanje is die vyfde land waarin die TMK toetse met inprop-hibriedvoertuie op openbare paaie onderneem. Die Britse program volg op dié wat sedert 2007 in Japan, die VSA, Frankryk en België gedoen word.
Die huidige toetse behels die gebruik van voertuie wat toegerus is met nikkelmetaalhidried-batterye. Die TMK is egter ook besig om die ontwikkeling van inprophibriedvoertuie toegerus met litiumioon-batterye te versnel. Die verkope van laasgenoemde aan vlootklante in Japan, die VSA en Europa sal na verwagting teen einde 2009 ‘n aanvang neem – vroeër was wat beplan is.
Die TMK se voortgesette doelwit is die bereiking van volhoubare mobiliteit wat harmonie tussen voertuie, mense en die omgewing verseker. Met die oog hierop staan die maatskappy se hibriedtegnologie, insluitende sy inprophibriedvoertuie, aan die kern van die TMK se omgewingstegnologieë.
