Wanneer goed nog beter raak

Na ‘n afwesigheid van vier jaar keer die Suzuki Grand Vitara triomfantelik terug Suid-Afrika toe as ‘n uiters moderne, besonder bedrewe en tegnies gevorderde veelterreinvoertuig.

Die Suzuki Grand Vitara is voorheen plaaslik in lisensie verkoop as deel van ‘n ooreenkoms tussen die destydse Delta-Motorkorporasie (DMK) en die Suzuki-Motorkorporasie (SMK). Dié ooreenkoms het egter in 2004 ten einde geloop toe DMK aan General Motors verkoop is.

In 2007 het SMK besluit om die moontlikheid van ‘n toegewyde teenwoordigheid in Suid-Afrika te ondersoek, en het daarna Suzuki Auto Suid-Afrika (SASA) plaaslik gevestig.

Die Grand Vitara is die derde modelreeks wat in SA beskikbaar gestel word sedert SASA in Februarie 2008 begin sake doen het. Die Swift- en SX4-passasiermotorreekse is in Junie vanjaar bekendgestel.

Suzuki Grand Vitara 2009
Suzuki Grand Vitara 2009

Die Suid-Afrikaanse mark is een van die heel eerste ter wêreld wat die jongste, 2009 Grand Vitara-modelreeks ontvang. Dié reeks koppel twee splinternuwe kragbronne aan die kraakvars, moderne stilering van die Grand Vitara, tesame met omvattende toerustingvlakke en sy reeds legendariese 4×4-vermoë.

Die volledig ingevoerde, plaaslik beskikbare reeks vyfdeur-Grand Vitara-sportnutsvoertuie bestaan uit drie modelle: twee weergawes met enjins van 2,4 liter, en ‘n vlagskipmodel met ‘n 3,2-liter V6-kragbron.

“Die Grand Vitara het ‘n trotse geskiedenis as ‘n uiters vaardige, duursame en genotvolle veelterreinvoertuig,” sê Kazuyuki Yamashita, Besturende Direkteur van Suzuki Auto SA. “Hierdie jongste, 2009-model is op alle vlakke ‘n verbetering op die weergawe wat laas in Suid-Afrika te koop aangebied is, en sal nie net aantreklik wees vir bestaande eienaars wat wil opgradeer nie, maar ook vir nuwe klante wat tot die SNV-mark toetree. Anders as die meeste van sy mededingers, is die nuwe Grand Vitara nie net ‘n ‘sagte’ veldryer nie, maar ‘n ware veelterreinvoertuig met ‘n behoorlike 4×4-aandryfstelsel. Dit verbeter sy vermoë om moeilike terrein baas te raak aansienlik, maar sonder om padverrigting te benadeel,” het Yamashita bygevoeg.

“Terselfdertyd bied die Grand Vitara uitsonderlike ruimte en gerief, oorgenoeg pakplek en laairuimte, en die tasbare gehalte waarvoor Suzuki so lank al bekend is. Moontlik van die grootste belang binne die raamwerk van die huidige ekonomiese klimaat is die feit dat ons hard probeer het om seker te maak dat die prysstruktuur van die nuwe Grand Vitara buitengewone waarde weerspieël,” het Yamashita afgesluit.

Die hedendaagse Grand Vitara se geskiedenis strek oor twee dekades terug na 1988, toe die eerste kortas-Suzuki Vitaras as ‘n beter toegeruste weergawe van die klein maar uiters gewilde Suzuki SJ410 bekendgestel is.

Die Vitara, ook bekend as die Sidekick in die VSA, was aanvanklik ‘n driedeur-SNV met ‘n moderne voorkoms. Maar na gelang van tyd het ‘n vyfdeur-Grand Vitara-weergawe ook sy verskyning gemaak.

Die Vitara en Grand Vitara is beide in Suid-Afrika onder die vaandel van die Delta-Motorkorporasie (DMK) verkoop, as deel van ‘n lisensie-ooreenkoms met die Suzuki-Motorkorporasie (SMK) om Suzuki-voertuie plaaslik te bemark.

Die eerste-geslag Vitara het twee keer ‘n modelopkikkering ondergaan voor ‘n geheel nuwe, tweedegeslag-Vitara sy buiging in 1999 gemaak het. ‘n Langas-weergawe, die XL7, is in 2001 bekendgestel.

Dié voertuie was die laastes wat deur DMK ingevoer is voor die maatskappy deur General Motors aangekoop is. Die ooreenkoms om Suzuki-produkte in SA te bemark, het terselfdertyd ten einde geloop. Dit het ook beteken dat die derdegeslag-Suzuki Grand Vitara, wat in 2005 in Europa onthul is, nooit plaaslike vrygestel is nie.

Die nuwe, 2009 Suzuki Grand Vitara is nou verwand aan die 2005-weergawe, maar trek voordeel uit ‘n hele rits verbeteringe. Daaronder tel veral die bekendstelling van twee nuwe, kragtiger petrolenjins.

Met Suzuki se regstreekse teenwoordigheid in SA deur middel van sy filiaalmaatskappy, Suzuki Auto SA, word die 2009 Grand Vitara die derde Suzuki-modelreeks wat vanjaar plaaslik beskikbaar gestel word.

Die Grand Vitara-reeks wat vandeesmaand bekendgestel word, bestaan uit drie weergawes: die Grand Vitara 2.4 Handrat, die Grand Vitara 2.4 Outomaties, en die Grand Vitara 3.2 V6 Outomaties.

Al drie modelle bied dieselfde, kraaknuwe vyfdeur-bakvorm, wat onder meer met ruimskootse glasoppervlakke, kort oorhangsels, ‘n breë, aggressiewe houding en ‘n hoë rithoogte spog.

Van voor is die belangrikste kenmerke die groot, trapesoïdale sierrooster met die kenmerkende Suzuki ‘S’-kenteken wat opsigtelik in die middel aangebring is. Groot, deursigtige kopligte dra by tot die doelgerigte ‘gesig’ van die Vitara. ‘n Geïntegreerde, kleurbypassende voorstamper huisves ronde misligte.

Van die kant af beskou word die vernouende vorm van die kantruite beklemtoon deur die swartgeverfde B-pilaar en die breë C-pilaar, terwyl die voertuig se sterk middellyn deur die uitgeboude wielboë aangevul word. Die kleurbypassende buitespieëls en die skermpanele oor die bakdrumpels sorg ook vir visuele integrasie.

Van agter is dit die sterk, geometriese lyne van die stertligte en die groot, kleurbypassende noodwieldeksel wat die meeste aandag trek. Die eenstuk-agterdeur maak na een kant toe oop, eerder as om opwaarts te kantel, en is daarom makliker om te gebruik, terwyl dit ook gerieflike toegang tot die bagasieruim bied.

Die Grand Vitara is 4 500 mm lank, 1 810 mm wyd en 1 695 mm hoog – afmetings wat die kompakte hanteerbaarheid van die Suzuki benadruk, maar terselfdertyd ook vir ‘n buitengewoon groot binneruim sorg. ‘n Sleutelaspek is die plasing van die wiele op die hoeke van die voertuig, wat ‘n lang asafstand van 2 640 mm moontlik maak, en die oorhange beperk.

Dit het uiteraard ook ‘n positiewe invloed op die Grand Vitara se veldryvermoë. Met ‘n grondvryhoogte van 200 mm, aanvals- en vertrekhoeke van onderskeidelik 29 en 27 grade, en ‘n oorbreekhoek van 19 grade, takel dié Suzuki selfs die strafste terrein met geesdrif.

Die Grand Vitara maak gebruik van ‘n unieke enkeldopbak waarby ‘n leerraam geïntegreer is. Dit vorm ‘n sterk, uiters stram en steeds kompakte bakstruktuur wat optimale binneruimte toelaat, maar steeds al die voordele van ‘n geharde, stywe leerraam-onderstel behou.

Dit is ook die volmaakte platform vir die geheel onafhanklike vering, wat op sy beurt ‘n optimale kombinasie van rygerief, vasvoetige hantering en veldryvernuf verseker.

Die voorste veerstelsel bestaan uit MacPherson-stutte, kronkelvere, hidrouliese skokbrekers en ‘n teenkantelstaaf. Agter word ‘n meerskakelas met kronkelvere, skokbrekers en teenkantelstaaf ingespan.

Die gebruiksvriendelike padgedrag van die Grand Vitara word verder onderskraag deur ‘n tandstang- en kleinrat-stuurstelsel met kraghulp en ‘n vinnige stuurverhouding. Dit bied ‘n draaisirkel van 11,0 meter.

Al drie die Grand Vitara-modelle spog met hope remkrag, danksy groot, geventileerde remskywe voor en agter. ABS-sluitwering met elektroniese remkragverdeling is standaardtoerusting.

Die Grand Vitara is meer as net ‘n sagte veldryer. Trouens, dié Suzuki is ‘n ware veelterreinvoertuig met ‘n egte vierwiel-aandryfstelsel wat seker maak dat dié viertrekvoertuig enige toestande kan baasraak.

Die heeltydse vierwielaandrywing lewer enjinkrag aan beide die voor- en agterwiele deur middel van ‘n wringkrag-sensitiewe middelste teenglip-ewenaar. Die stelsel bied drie modusse: 4H, 4H-L en 4L-L.

Die gewone verstelling is 4H, en is reeds voldoende vir die meerderheid padtoestande. In dié modus word die krag tussen die voor- en agteras 43/57 persent verdeel, maar is veranderlik na gelang van padtoestande en bandklouvlakke.

Wanneer daar na 4H-L geskakel word, word die middelste ewenaar gesluit, wat enige snelheidsverskil tussen die voor- en agterwiele verhoed. Sodoende word die Grand Vitara se klouvermoë op los of glibberige oppervlakke verhoog.

Onder werklik moeilike omstandighede en in onherbergsame terrein, met uitdagings soos steil op- en afdraandes, stel die Grand Vitara se oordraratkas ‘n laestrekratstel beskikbaar, wat die beskikbare krag by lae enjinsnelhede verhoog, en ook die voertuig se kloutervermoë verder verbeter.

Al drie 4×4-verstellings kan elektronies met ‘n draaikontrole op die Grand Vitara se instrumentepaneel gekies word. Bestuurders kan boonop van 4H na 4H-L, en andersom, skakel terwyl die voertuig beweeg, mits daar nie vinniger as 100 km/h gery word nie.

Die kajuit van die Grand Vitara bied ruim sitplek vir tot vyf volwassenes op sitplekke wat beide gerief en ondersteuning bied. Die voorste komsitplekke is vir beide gerief en ondersteuning gevorm, terwyl die leunverstelbare banksitplek agter plek het vir drie volwassenes, en boonop ter wille van veelsydigheid 60:40 verdeel is.

Die bagasieruim is 398 liter groot met die banksitplek in posisie, maar kan tot 758 liter vergroot word as die banksitplek platgevou word. Die maksimum-bergruimte met die agtersitplek platgevou kom op 1 386 liter te staan.

Die Grand Vitara kan heeltemal sonder ‘n gewone sleutel bedryf word. Die bestuurder maak van ‘n spesiale, elektroniese sleutelsender gebruik, wat gerieflik in ‘n sak gebêre kan word.

Die sleutelsender bevat ‘n kragtige, gekodeerde antwoordsender wat bevestig dat die onstekingslot gedraai en die enjin aangesit mag word. Dit laat ook toe dat die deure en die laaideur oop- en toegesluit word deur eenvoudig aan die klein skakelaars op die handvatsels te raak.

Die sleutelsender bied ook gewone beheerknoppies waarmee die afstandbeheerde sentrale sluitstelsel geaktiveer kan word om die voertuig oop of toe te sluit. Die sluitstelsel bied ‘n selektiewe sluitaksie.

Die Suzuki Grand Vitara se tegniese vaardigheid en gerieflike binneruim gaan gepaard met ‘n indrukwekkende lys veiligheid- en sekuriteitskenmerke.

Die Grand Vitara beskik oor ‘n volledige stel passiewe veiligheidskenmerke, en het byvoorbeeld goed gevaar in die uiters streng Euro NCAP-veiligheidstoetse deur vier sterre vir die veiligheid van insittendes te verdien.

Die Grand Vitara het ook drie sterre vir voetgangerveiligheid ingepalm, en ‘n verdere drie sterre vir kinderveiligheid behaal.

Die Suzuki se passiewe veiligheidstoerusting sluit nie net lugsakke voor en langs die kante in nie, maar ook gordynlugsakke, nekstutte vir al vyf insittendes, sy-impakstawe, ‘n frommelstuurstang, en ‘n versterkte veiligheidsel vir passasiers.

Al vyf sitposisies is met rukstopgordels toegerus, terwyl die voorste gordels ook met voorspanners en lasbeperkers spog.

Die Grand Vitara se lys aktiewe veiligheidskenmerke sluit ABS-sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding in, asook ‘n gevorderde ESP-stabiliteitsbeheerstelsel.

ESP koppel die funksies van teenglipbeheer, stabiliteitsbeheer en die ABS-remstelsel aan mekaar, en gebruik dan ‘n rits sensors wat onder meer wiel- en voertuigsnelheid, asook die leunhoek en die stuurhoek van die motor meet om te besluit in watter mate die voertuig nog onder beheer is.

Wanneer die stelsel vasstel dat daar ‘n verlies aan beheer is, gryp dit onmiddellik in deur een of meer wiele individueel te rem, en spesifieke versnellerinsette te lewer totdat die bestuurder weer beheer herwin het. Die ESP-stelsel word outomaties afgeskakel wanneer daar na die 4L-L modus geskakel word.

‘n Geïntegreerde alarm- en immobiliseringstelsel is standaardtoerusting, en die Grand Vitara word ook met ‘n Netstar Early Warning-opspoorstelsel toegerus, wat opsioneel teen bykomende koste geaktiveer kan word.

Al drie weergawes van die Grand Vitara word deur ‘n volledige rugsteuningsprogram gedek wat onder die Suzuki Complete-bannier aangebied word. Dit bestaan onder meer uit ‘n waarborg, ‘n diensplan en ‘n padbystanddiens.

Die Grand Vitara-waarborg is vir drie jaar/100 000 km geldig, en is gekoppel aan ‘n diensplan van ses jaar/90 000 km. Die diensplan dek die koste van alle geskeduleerde versienings, maar sluit bruikitems uit.

Die AA-gerugsteunde padbystanddiens geld vir drie jaar na die aankoopdatum van die voertuig, en sluit selfs mediese reddingsdienste in. Gratis 4×4-bestuursopleiding is ook ingesluit by die koopprys van ‘n nuwe Grand Vitara.

Hoewel die Suzuki Grand Vitara 2.4 die meer bekostigbare lid van die reeks is, is hy geensins ‘n junior in die kompakte SNV-mark nie.

Die voertuig koppel ‘n ruim, goed toegeruste binneruim en ‘n behoorlike 4×4-aandryfstelsel aan ‘n nuwe, gevorderde petrolenjin van 2,4 liter en ‘n keuse van ‘n vyfgang-handrat of outomatiese viergangratkas.

Ruimskootse toerustingvlakke, tasbare gehalte, praktiese veelsydigheid en gerusstellende veiligheid tel onder die Grand Vitara 2.4 se hoofkenmerke.

Die hart van die voertuig is ‘n viersilinder-kragbron van 2 393 cc met dubbele bonokaste en VVT-veranderlike kleptydreëling.

Die enjin, met die kodebenaming J24B, is ‘n omvattend aangepaste weergawe van die J20A-kragbron wat in Suzuki se lewenstyl-luikrugmotor, die SX4, diens doen. Die maksimum-kraglewering is 122 kW by 6 000 r/min, terwyl die wringkragpiek van 225 Nm by 4 000 r/min bereik word.

Die Grand Vitara 2.4 bied die keuse van ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese viergangratkas. Uiteraard is heeltydse vierwielaandrywing standaardtoerusting.

Die Grand Vitara 2.4-modelle loop op groot allooiwiele van 17 duim, geskoei met Bridgestone Dueler 225/65 R17-meerdoelbande.

Die Grand Vitara 2.4 se leë massa van 1 615 kg (in handratformaat) beteken dat die Suzuki met ‘n krag tot massa-verhouding van 76 kW/ton spog, wat op sy beurt vir sprankelverrigting sorg.

Die handrat-2.4 versnel in net 11,7 sek van 0 tot 100 km/h, en behaal ‘n topsnelheid van 180 km/h. Met ‘n outomatiese ratkas word die 0-100 km/h-versnellingstoets in 12,0 sek afgehandel, terwyl die topsnelheid op 170 km/h te staan kom.

Selfs belangriker is die brandstofverbruik van die Grand Vitara 2.4. In die gekombineerde siklus behaal die handratmodel ‘n syfer van 8,9 liter/100 km, wat op die oop pad na 7,4 liter/100 km verbeter. Die outomatiese weergawe behaal verbruiksyfers van onderskeidelik 9,9 en 8,2 liter/100 km.

Dit beteken dat die vyfgang-Grand Vitara 2.4, met sy brandstoftenk van 66 liter, gemaklik ‘n reikafstand van 700 km of meer in die gekombineerde siklus behaal. Wat CO2-uitlaatvlakke betref, kom die syfers vir die handrat- en outomatiese Grand Vitara 2.4-weergawes op onderskeidelik 212 en 234 g/km te staan.

Albei Grand Vitara 2.4-weergawes spog met hoë vlakke van standaardtoerusting. Onder die buitekenmerke tel dakrelings, voorste misligte, ‘n kleurbypassende noodwielhulsel, kleurbypassende buitespieëls en deurhandvatsels, allooiwiele, en getinte ruite.

Die eerste indrukke van die binneruim is van weelde en gerief, met ‘n onteenseglike gevoel van tasbare gehalte. Die kontroles en skakelaars voel solied en het ‘n gladde, presiese aksie, terwyl die algehele uitleg gebruiksvriendelik en ergonomies doeltreffend is.

Die sagte plastiekoppervlakke, metaalagtige aksentstroke en deftige monochromatiese kleurskema skep ‘n swierige en duursame atmosfeer. Die doekstofmateriaal het ‘n aantreklike tekstuur wat volmaak by die geharde meerdoelpersoonlikheid van die Grand Vitara pas, en boonop hoë vlakke van gerief en duursaamheid bied.

Metaalrante vir die luidsprekers en ‘n verchroomde monteerraam vir die ratkieriekous voeg ‘n tikkie ekstra swier.

Die lys standaardtoerusting is breedvoerig. Daaronder tel ‘n outomatiese klimaatbeheerstelsel met stuifmeelfilter, elektriese voor- en agterruite, en elektries-verstelbare buitespieëls met geïntegreerde rigtingaanwysers.

Eweneens deel van die Grand Vitara 2.4-pakket is afstandbeheerde, selektiewe sentrale sluiting wat aan die sleutellose toegang- en aansitstelsel gekoppel is. Die stuurwiel is kantelverstelbaar, en die hervuldeksel vir die brandstoftenk kan van binne oopgemaak word.

Die bagasieruim bied ‘n 12V-kragprop, handige ingeboude hakies, ‘n liggie wat aan- en afgeskakel kan word en ‘n verskuilde kompartement in die vloer waar kleiner items gerieflike en veilig gebêre kan word.

Die Grand Vitara 2.4 het ‘n middelste bêrekassie wat ook as ‘n verstelbare armleuning diens doen. Daarbenewens is daar twee voorste en twee agterste bekerhouers, kaartvakke aan die agterkant van die voorste sitplekleunings, en handige bergingsrakke in die deurpanele voor en agter. Die voorste deurpanele beskik boonop oor ‘n bottelhouer.

Die instrumenthuisie reg voor die bestuurder bevat drie groot, ronde instrumente met metaalomsoomde gesigte wat ‘n snelheidsmeter, toereteller, temperatuurmeter en brandstofvlakmeter insluit.

Die instrumenthuisie bevat ook twee digitale uitleespanele. Met die eerste kan daar uit inligting soos twee afsonderlike ritmeters, ‘n algehele afstandmeter en die buitetemperatuur gekies word.

Die tweede uitleespaneel kan gewissel word om ‘n verskeidenheid ritgerigte inligting te voorsien. Daaronder tel ‘n grafiese voorstelling van die onmiddellike brandstofverbruik, asook die gemiddelde brandstofverbruik, gemiddelde snelheid, die reikafstand op die beskikbare brandstof, en selfs sleutelwenke oor die gebruik van die 4×4-stelsel.

Die instrumentgesigte is swart met wit grafika en rooi wysers, terwyl die kontroles en skakelaars in die middelkonsole snags in lugvaartstyl rooi verlig word.

Die leeroorgetrekte stuurwiel bied hulpkontroles vir die Grand Vitara 2.4 se indrukwekkende klankstelsel, wat in die middelkonsole gehuisves word, net bo die beheerpaneel vir die klimaatbeheerstelsel.

Die geïntegreerde klankstelsel koppel ‘n FM Stereo/AM RDS-instemmer aan ‘n CD-speler met ‘n interne sesskyf-magasyn, terwyl ‘n totaal van sewe luidsprekers vir kragtige klanklewering voor en agter sorg. Die stelsel lees boonop MP3-musiekleêrs.

Pryse
Die voorgestelde kleinhandelpryse is as volg :Grand Vitara Suzuki Grand Vitara 2.4 Handrat : R269 900Grand Vitara Suzuki Grand Vitara 2.4 Outomaties : R282 900

Die Grand Vitara 3.2 V6 is die vlagskip van Suzuki se nuwe kompakte SNV-reeks.

Hoewel dié model met dieselfde vyfdeur-bakvorm en belangrikste visuele kenmerke as die 2.4-weergawes spog, plaas die bykomende krag en verfyning van die V6-kragbron die voertuig in ‘n hoër liga.

Die supergladde kraglewering van die V6 pas volmaak by die outomatiese vyfgangratkas, wat dan ook die enigste ratkasopsie vir dié model is. Heeltydse vierwielaandrywing bly standaardtoerusting. Van buite is die mees opmerklike kenmerk van die 3.2 V6 die groot allooivellings van 18 duim, wat met 225/60 R18 Bridgestone Dueler-meerdoelbande toegerus is.

Hierdie topmodel kry boonop ‘n glassondak met skuif- en kantelaksie, xenon-hoëintensiteitkopligte, en donkergetinte kantruite agter.

Die vlagskip-Grand Vitara 3.2 se V6-kragbron het ‘n inhoud van 3 195 cc en is met dubbele bonokaste per silinderbank toegerus. Die 24 kleppe spog met VVT veranderlike kleptydreëling.

Maksimumkrag beloop 165 kW by 6 200 r/min, terwyl die maksimum-wringkragsyfer op 284 Nm by 3 500 r/min te staan kom.

Die 3.2 V6 is net met ‘n outomatiese vyfgangratkas beskikbaar. Die ratverhoudings is spesifiek gekies om vinnige reaksies in die laer ratte te beklemtoon, terwyl die hoër ratte weer die kollig op ooppad-kruisvermoë plaas. Suzuki se heeltydse vierwieldryfstelsel bly standaardtoerusting.

Die Grand Vitara 3.2 V6 is dinamies ‘n ware uitblinker. Die voertuigmassa van 1 713 kg is steeds relatief laag, gemeet aan SNV-standaarde, en danksy die aansienlike spierkrag van die V6 is die krag tot massa-verhouding ‘n indrukwekkende 99 kW/ton.

Dit het tot gevolg dat die Grand Vitara in net 9,3 sek van 0 tot 100 km/h draf, terwyl die topsnelheid op 200 km/h te staan kom.

Suzuki se gevorderde enjinbeheerstelsel sorg dat die 3,2-liter V6 nie ‘n brandstofvraat is nie. Die verbruiksyfer vir die gekombineerde siklus is 10,5 liter/100 km, terwyl die ooppadsyfer merkbaar laer is, en op ‘n suinige 8,3 liter/100 km te staan kom.

Met die Grand Vitara se brandstoftenk van 66 liter is ‘n reikafstand van meer as 600 km in ‘n verskeidenheid ryomstandighede haalbaar. Die CO2-uitlaatsyfer van die 3.2 V6 word as 249 g/km aangegee.

Die Grand Vitara 3.2 V6 voldoen aan die hoë verwagtinge wat met ‘n vlagskipmodel gepaard gaan. Dit bied ‘n lys weelde- en geriefkenmerke wat selfs meer volledig is as dié van die Grand Vitara 2.4-weergawes.

Bo en behalwe wat die 2.4’s reeds bied, beskik die 3.2 V6-model oor xenon-kopligte wat self aanskakel en outomatiese hoogteverstelling bied, togsnelheidsbeheer met skakelaars op die stuurwiel, sitplekverwarmers en hoflikheidsliggies.

Die sitplekke is met weelderige leerbekleedsel oorgetrek, pleks van die doekstofbekleedsel van die 2.4-modelle, en die buitespieëls is verhit.

Wat veldryvermoë betref, baat die 3.2 V6 by die toevoeging van hellingdaalbeheer, wat keer dat die voertuig te vinnig by steil afdraandes afjaag.

In die 4HL-modus word die voertuigsnelheid tot 10 km/h beperk, terwyl die maksimumsnelheid by afdraandes in 4LL-modus net 5 km/h is. Die stelsel werk deur die remstelsel selektief te aktiveer terwyl daar by steiltes afgery word.

Daarby is die 3.2 V6 ook met hellingwegtrekbeheer toegerus, wat keer dat die Grand Vitara agteruit rol wanneer daar op ‘n steil helling weggetrek word.

Nes die 2.4-weergawes, kry die 3.2 V6 ‘n volledige stel instrumente, wat onder meer ‘n toereteller, snelheidsmeter, temperatuurmeter en brandstofvlakmeter insluit.

Daarbenewens is daar ook die twee digitale LCD-uitleespanele vir rit- en algehele afstandlesings, tesame met ‘n ritrekenaar wat onmiddellike en gemiddelde brandstofverbruik aandui. Gemiddelde snelheid, beskikbare reikafstand en wenke oor die gebruik van die 4×4-stelsel word ook vertoon.

Die Grand Vitara 3.2 V6 se klankstelsel is identies aan dié wat in die 2.4-weergawes ingespan word.

Dit koppel ‘n FM Stereo/AM RDS-instemmer aan ‘n CD-speler met ‘n ingeboude sesskyf-magasyn en MP3-terugspeelvermoë. Sewe luidsprekers word ingespan om seker te maak dat insittendes voor en agter die suiwer, kragtige musieklewering van die stelsel kan geniet.

Die voorgestelde kleinhandelsprys van die Grand Vitara 3.2 V6 is soos volg:
Grand Vitara 3.2 V6 Outomaties : R323 900

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar