Kieslys

Close


*/

14 Januarie
2009
Aardig
1703 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Die legende keer terug

Met die bekendstelling van die jongste-geslag Suzuki Jimny vier Suid-Afrikaners die terugkeer van ‘n ikoon. ‘n Regstreekse nakomeling van legendariese ultraklein-4x4s soos die Suzuki SJ410 en die Samurai, behou die Jimny die verstommende veelterreinvermoë en ratse reaksies van sy voorgangers.

Terselfdertyd word vars, hedendaagse stilering, ‘n gevorderde en kragtiger VVT-enjin van 1,3 liter, en ‘n binneruim wat heeltemal opgeknap is, ook deel van dié wenresep.

Sleutelkenmerke wat behoue gebly het sluit die starre voor- en agterasse in, asook langaksie-kronkelvere, 4×4-aandrywing met ‘n oordraratkas en laestrek-ratverhoudings, en ‘n geharde vierkantpyp-onderstel.

“Die Suzuki Jimny het ‘n uiters belangrike rol in die geskiedenis van die Suzuki-naam gespeel, en meer spesifiek as ‘n Suzuki-ambassadeur in die veldrymark,” sê Kazuyuki Yamashita, Besturende Direkteur van Suzuki Auto SA.

2008 Suzuki Jimny

2008 Suzuki Jimny

“Veldrygeesdriftiges regoor die wêreld kan nie uitgepraat raak oor ons ultraklein-Jimny 4×4 en sy voorgangers nie. Sy vermoë om veel groter en kragtiger 4×4-voertuie uit te stof is reeds legendaries.”

“Wat SA betref, het die SJ-reeks 4×4-voertuie en die Samurai lankal getroue ondersteuning vir Suzuki geskep wat vandag nog geld. Daarom is dit juis gepas dat ons die jongste, aansienlik verbeterde weergawe van dié voertuie nou hier bekendstel.”

“Die Suzuki Jimny is nie net uiters geskik vir die buitelewenstyl van Suid-Afrikaners nie, maar bewys ook dat ‘n 4×4 bekostigbaar, veilig, ekonomies en veral hope pret kan wees.”

“Dit is belangrik teen ‘n agtergrond van toenemend duurder brandstof en stygende pryse wat al hoe meer motorryers onder druk plaas om kleiner, meer bekostigbare vervoeroplossings te ondersoek,” het Yamashita afgesluit.

Hoewel die Jimny se herkoms oor amper 40 jaar terugstrek na 1969, begin sy geskiedenis in Suid-Afrika in die middel 1980s, toe General Motors ‘n piepklein 4×4-voertuig bekendgestel het. Sy naam? Die Suzuki SJ410.

Die SJ410 het met ‘n enjin van net 1 000 cc gespog wat ‘n hele 34 kW kon lewer. Wat vering betref, was daar starre asse met bladvere voor en agter. Die nuweling is as ‘n speelgoed-4×4 afgemaak, maar sy lae massa het vir ‘n skaflike krag tot massa-verhouding gesorg, terwyl die geharde vering en die laestrek-ratkas die Suzuki behoorlik laat uitblink het.

Die SJ410 is deur die SJ413 vervang, wat onder die Delta-Motorkorporasie plaaslik bemark is. Die SJ413 het met ‘n kragtiger enjin van 1,3 liter gespog. Die SJ het daarna in die vroeë jare neëntig in die meer moderne Suzuki Samurai ontwikkel.

Die Samurai was ook in ‘n sagtekap-weergawe beskikbaar en is deur ‘n 1300 cc-kragbron van 49 kW aangedryf. Die spoorwydte voor en agter is breër gemaak, terwyl die bladvere deur kronkelvere vervang is.

Vandag nog word die legendariese kaskenades van dié klein Suzuki 4x4s en hul vermoë om groter, kragtiger veldryers die loef af te steek, oorvertel.

Die Samurai was die laaste van die ultraklein-4x4s wat plaaslik bemark is. Maar met die terugkeer van Suzuki na Suid-Afrika met die goedkeuring van die Suzuki-Motorkorporasie van Japan, het daar ‘n nuwe deur vir die legende op plaaslike bodem oopgegaan.

Die goeie nuus is dat die nuwe Suzuki Jimny selfs beter as sy beroemde voorgangers is. Sy voorkoms is aansienlik meer modern, maar sonder om die ontwerp van die oorspronklike heeltemal te verander.

Daarom bly selfs hierdie jongste Jimny steeds bonkig en funksioneel – ‘n voorkoms wat nie net anders as die norm is nie, maar ook onmiddellik kenmerkend is.

Die sterk voorkant het ‘n ry van vyf splete wat as luginlate vir die enjin dien en ook ‘n moderne interpretasie van die oorspronklike SJ se vooraansig is.

‘n Geïntegreerde stamper voor bied ‘n tuiste aan twee ronde misligte, terwyl kleurbypassende skutpanele die Jimny meer gespierd laat vertoon. Die uitgeboude wielboë bied ‘n tuiste vir die allooiwiele van 15 duim, wat met 205/70 R15-veelterreinbande geskoei is.

Die noodwiel is aan die agterdeur gemonteer, wat sywaarts oopmaak om maklike toegang tot die bagasieruim te bied. Die gestileerde stamper agter rond die prentjie netjies af, sonder om die Jimny se vertrekhoek te benadeel.

Hoewel die enjin steeds ‘n verplasingsinhoud van 1,3 liter het, is dié weergawe ‘n jongste-geslag, uiters doeltreffende ontwerp wat met veranderlike kleptydreëling en 16 kleppe toegerus is. Dit het tot gevolg dat krag- en wringkraglewering aansienlik gestyg het.

Die M13A-kragbron se kapasiteit is 1 328 cc. Maksimumkrag kom op 63 kW by 6 000 r/min te staan, terwyl die wringkragpiek van 110 Nm by 4 100 r/min beskikbaar is.

Veranderlike kleptydreëling verbeter onder meer die wringkraglewering by lae toere. In hierdie geval is die meerderheid wringkrag reeds by 2 500 r/min beskikbaar. Die stelsel baat egter ook kraglewering by hoër enjinsnelhede.

Die VVT-stelsel het ‘n voordelige invloed op brandstofdoeltreffendheid en sorg daarbenewens dat die enjin aan die Euro IV-vereistes voldoen. Die Jimny se CO2-uitlaatvlak is 171 g/km, terwyl sy brandstofverbruik in die gekombineerde siklus 7,2 liter/100 km beloop.

Die enjin se krag word deur middel van ‘n vyfgang-handratkas en ‘n oordraratkas na die wiele gestuur. Die 4×4-stelsel in die Jimny gebruik elektriese skakelaars om tussen agterwielaandrywing, gewone 4×4 en laestrek-4×4 te kies.

Die skakelaksie is elektromeganies en is aansienlik meer gerieflik as die vorige hefboomskakeling. Daar kan in die ry tussen agter- en vierwielaandrywing, en andersom, geskakel word, mits die snelheid nie 100 km/h oorskry nie.

Die voorste nawe sluit ook outomaties wanneer daar na vierwielaandrywing geskakel word.

Die Jimny se vering weerspieël ‘n deeglik bewese kombinasie van tradisionele en moderne ingenieursvernuf. Die swaardiens-onderstel is gehard en duursaam, met ‘n starre as voor en agter.

Dié aste word met ‘n drieskakel-uitleg aan die onderstel gekoppel, met teenkantelstawe voor en agter as standaard. Die aste hang aan kronkelvere met ekstra speling en gasgevulde skokbrekers, wat saam vir goeie ritgerief op padoppervlakke sorg.

Die vinnige tandstang en kleinrat-stuurstelsel met kraghulp behaal ‘n draaisirkel van net 9,8 meter, wat verder tot die Jimny se ratse reaksies bydra. Vir die klein 4×4 is selfs die nouste ruimtes toeganklik en word parkering verspot maklik.

Die groot allooiwiele en vet 205/50-bande klou nie net behoorlik op die pad nie, maar vaar ook goed in die veld. Wat remme betref, spog die Jimny met groot, geventileerde skyfremme voor en selfverstellende remtrommels agter. ‘n ABS-sluitweerstelsel is standaard.

Hoewel die nuwe Jimny groter en meer ingewikkeld as sy voorganger is, weeg hy steeds net 1 070 kg, wat die krag tot massa-verhouding op ‘n skaflike 58,8 kW/ton te staan bring.

Dit laat toe dat die klein Suzuki van 0 tot 100 km/h in 14,1 sekondes versnel, terwyl sy topsnelheid 140 km/h is. Die Jimny voel altyd rats, met oorgenoeg woema onderlangs, wat sorg dat hy ook in stedelike omstandighede goed vaar.

Maar dié rakker blink werklik uit as dit by veldry kom. Dis ‘n voertuig wat bedoel is om die soort 4×4-uitdagings te aanvaar wat onmoontlik lyk – en hulle dan met gemak kafdraf. Sy lae massa, puik veerstelsel en goeie wringkraglewering by lae toere werk saam om ‘n besonder vaardige veldrypakket te skep.

‘n Belangrike bydraende faktor is die Jimny se kompakte afmetings. Dié Suzuki is net 3 645 mm lank, 1 600 mm wyd en 1 705 mm hoog, en is net so rats soos sy voorkoms wil voorgee. ‘n Grondvryhoogte van 190 mm help verder om moeilike terrein baas te raak.

Die Suzuki se aanvalshoek is ‘n indrukwekkende 37 grade, terwyl sy vertrekhoek op ‘n selfs nog meer uitstekende 46 grade te staan kom. Sy oorbreekhoek is 31 grade. Saam sorg dié kenmerke vir veldrytalent wat op hierdie prysvlak sonder weerga is.

Terwyl die Jimny se 4×4-vermoë en tegniese vaardigheid bo verdenking staan, is die binneruim vêr verwyderd van die basiese kajuite van daardie eerste SJ- en Samurai-weergawes. Baie moeite is gedoen om ‘n gerieflike, deeglik toegeruste en stylvolle bestuursomgewing te skep, wat die Jimny meer aantrekliker as ooit maak.

Die nuwe sitplekke voor is gevorm om gerief en ondersteuning te bied, terwyl die sagteraam-stuurwiel lekker in die hand val. Die herontwerpte instrumentepaneel bied duidelik leesbare instrumentgesigte met rooi beligting. Daar is ‘n goed deurdagte uitleg vir die skakelaars en kontroles, terwyl ‘n klankstelsel met ‘n CD-speler en FM/AM-instemmer ingebou is.

Duursame en gerieflike doekstofbekleedsel, silwerkleurige aksentstroke en -panele, en skakelaars met ‘n solied en positiewe werking sorg dat die ervaring binne-in die Jimny altyd aangenaam is. Boonop dra die hoë bestuursposisie en goeie sig na buite verder tot ‘n genotvolle bestuurservaring by. Trouens, dit is altyd pret om met die Jimny rond te rits!

Die lys standaardtoerusting is verdere bewys van die Jimny se ontwikkeling tot ‘n veelsydige veelterreinvoertuig wat ewe vaardig op die pad en in die veld is. Elektries-beheerde ruite, sentrale sluiting, lugreëling, kragstuur en elektries-verstelbare buitespieëls is almal standaard.

Daar is twee bekerhouers voor en agter, terwyl hoogteverstelling vir die bestuurder se sitplek ‘n gerieflike bestuursposisie waarborg. Die voorste passasiersitplek gly vêr vorentoe om toegang tot die agtersitplek te vergemaklik.

Vir so ‘n kompakte voertuig is daar onverwags baie plek binne. Die verstelbare rugleuning van die agterste banksitplek is 50:50 verdeel en kan platgevou word om die bagasieruim se inhoud van 113 liter na 324 liter (VDA-meetstandaard) te vergroot. Die algehele vragruiminhoud, tot by dakhoogte, beloop 816 liter.

Die nuwe Suzuki Jimny stel hoë standaarde van veiligheid en sekuriteit vir ‘n voertuig in die ultrakompakte 4×4-segment. Voorste SRS-lugsakke, rukstopgordels met verstelbare boonste ankerpunte, en progressiewe frommelsones in die geval van ‘n botsing is almal standaard. Die ABS-sluitweerremme sorg vir betroubare remkrag.

‘n Verdere bydraende faktor is die uitstekende sig na buite wat deur die Jimny se rithoogte en hoër sitposisie gebied word. Helder halogeenkopligte en voorste misligte sorg vir hope beligting snags en wanneer die sig swak is.

In Suid-Afrika word die Suzuki Jimny deur die sogenaamde Suzuki Complete-pakket gerugsteun. Dit kombineer die waarborg, diensplan en padbystanddiens in ‘n enkele, waardetoegevoegde pakket waaruit die klant groot voordeel trek.

Dus word die Jimny gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar/100 000 km en ‘n diensplan van vier jaar/60 000km, asook ‘n drie-jaar AA-padbystanddiens, wat sorg dat die Suzuki Jimny-eienaar volle gemoedsrus geniet.

Die Jimny word as standaard met ‘n Netstar Early Warning-opspoorstelsel toegerus wat teen minimale bykomende koste geaktiveer kan word. Daarby word ‘n gratis 4×4-bestuurkursus aan elke Suzuki Jimny-koper aangebied.

Die nuwe Suzuki Jimny word van September 2008 deur Suzuki Auto SA se nasionale netwerk van 19 handelaars te koop aangebied. Sy prysetiket sorg dat die Jimny nou Suid-Afrika se mees bekostigbare 4×4-voertuig is.

Die Suzuki-handelaarnetwerk voorsien in die volle spektrum klantebehoeftes wat diens en onderdele betref, terwyl ‘n reeks Suzuki-goedgekeurde bybehore ook toenemend beskikbaar raak.

Suzuki Jimny 1.3 Handrat R149 900




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Aardig
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Aardig
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Aardig
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Aardig
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Aardig
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Die Konings (drag kings) | Roekeloos
2018-10-16 08:07:07
[…] Die Konings is ’n werkswinkel kabaret wat trek uit die tradisies van drag kings, sat...
Gedigte van Fransi Nieuwoudt | Roekeloos
2018-10-12 08:22:10
[…] Digters […]...
Wat die water bring, ’n gedig deur Sheridan Walter | Roekeloos
2018-10-09 09:34:28
[…] Nog gedigte van Sheridan Walter […]...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD | Ons toets tans ’n kode om wiskundige probleme op te los met behulp van gebruikers se blaaiers; om nie afhanklik te wees van advertensies nie.