Die kompakte sportnuts wat niks prysgee nie

Die nuwe Subaru Forester is ontwerp as ‘n voertuig wat uitstaan en die doelpale vir kompakte sportnutsvoertuie verskuif om Subaru se posisie te bevestig as kopers se eerste keuse van ‘n topgehalte veeldoelvoertuig wat nie geraak is deur die middeweg-toegewings wat tradisioneel met hierdie segment vereenselwig word nie.

Subaru is in die benydenswaardige posisie om dit reg te kry danksy ‘n unieke ontwerpfilosofie, wat sy motors in staat stel om ‘n werklik dinamiese voordeel te geniet. Soos elke Subaru wat al in Suid-Afrika verkoop is, is die derde geslag Forester ook gebou vanuit die beginsel van aandrywing deur al vier wiele met behulp van ‘n horisontaal-teenoorstaande kragbron.

Subaru het sy enjinontwerp al sedert 1966 op hierdie BoxerT-enjins geskoei, en in 1971 voltydse simmetriese aandrywing deur al vier wiele in gebruik geneem. ‘n Horisontaal-teenoorstaande enjin het min vibrasies danksy die uitkansellering van die kragte wat deur die afwaartse slag van elke suier geskep word, deur sy ‘maat’ wat op die teenoorstaande bank silinders in die teenoorgestelde rigting beweeg. Weens hierdie inherente balans kan ‘n ligter kruk-as gebruik word en die kruk-kas is ook stewiger omdat dit tussen die twee silinderbanke ingewig is.

Dit word algemeen aanvaar dat aandrywing deur al vier wiele die ideale manier is om die beste gebruik te maak van al die enjin se wringkrag deur kleiner hoeveelhede aan elke wiel te lewer vir maksimum vastrapvermoë. Dit maak die voertuig meer beheerbaar, veral op onvoorspelbare oppervlakke wanneer ‘n klein toename in wringkrag kan lei tot wieltol en ‘n verlies aan beheer. Subaru het sy AWD mettertyd ontwikkel tot ‘n ligte, doeltreffende en kompakte stelsel. Die kombinasie maak die motorervaring makliker, veiliger en meer genotvol.

2008 Subaru Forester
2008 Subaru Forester

Die Forester deel sy basiese platformontwerp soos voorheen met die Impreza, en dit dra by tot merkwaardig beter afronding en passiewe veiligheid, terwyl rygerief sowel as bagasievolume deur ‘n besonder kompakte veelskakel dubbelmik-agterveerstelsel bevoordeel word.

Die Forester is in 1998 plaaslik bekend gestel en het sinoniem geword met ‘n taai en praktiese oplossing vir dubbeldoel-motorgenot. Weergawes met gewone vergassing en vyfgang-handratkaste pronk met laestrek-ratverhoudings – ‘n kenmerk wat ongeëwenaard in dié segment is. Hierdie kenmerk word onveranderd in die jongste weergawe gebruik en sal help om die Forester se posisie as die perfekte keuse te handhaaf vir diegene wie se lewenstyl ‘n voertuig vereis wat maklik uit ‘n moeilike terrein kan kom of moeiteloos met ‘n sleepwa, perdewaentjie of woonwa kan wegtrek. Hellingwegtrekhulp (Hill Start Assist) dra verder hiertoe by en veldryvermoë is met selfs nog meer grondvryhoogte verder verbeter.

Die ontwerpdoel met die derde geslag Forester was om te antwoord op die veranderinge in die mark en gevolglik het die Forester wegbeweeg van die stasiewa-tipe ontwerp na ‘n meer ooglopende kompakte SNV-vorm met ‘n merkbaar hoër profiel. Die algehele hoogte, insluitend die dakspore wat regdeur die hele reeks aangetref word, is nou 1 700mm – ‘n toename van 110mm – waarvan 20mm opgemaak word deur ‘n toename in grondvryhoogte. Die algehele lengte is 75mm meer.

Kopers wou ook ‘n ruimer binnekant hê met meer moontlikhede wanneer dit kom by die verstelling van die uitleg om voorsiening te maak vir verskillende soorte vrag. Deur die as-afstand met 90mm te verleng en die deur-tot-deur afstand met 45mm te verleng tot 1 780mm, asook ‘n reeks ander innoverende oplossings vir die beste benutting van die binneruim vir verskillende soorte vrag, is gemaklik aan hierdie vereiste voldoen.

Die mark het ook vooruit beweeg in terme van afronding, en deur die Impreza-platform as beginpunt te gebruik, het die Subaru-ingenieurs geweet hulle is op die regte pad om die regte soort sintuiglike ervaring te bied. Die derdegeslag Forester se struktuur is baie stewiger en moderne ontwerptegnieke en -materiale het geraas, vibrasies en grofheid (NVH) aansienlik verminder. Die gebruik van die subraam-gemonteerde veelskakel-veringstelsel wat oorspronklik vir die Legacy uitgedink is en sedertdien ook in die Impreza gebruik is, het in hierdie opsig baie gehelp.

Omdat so baie kopers in hierdie segment ook progressief en omgewingsbewus is, wou Subaru hê hulle moet gerus wees dat hulle kopie so brandstofdoeltreffend is as wat die bestaande tegnologie toelaat. Dit is moontlik gemaak deur die uitlaatgasse van die bestaande enjins te verlaag sonder om die sportiewe bestuurservaring in te boet wat so kenmerkend van die Forester geword het, veral in die turbo-aangejaagde 2.5 liter XT-modelle.

Laastens wou tipiese Forester-kopers hê hul gesinne moet so veilig as moontlik wees, ongeag die toestande. Met deurlopende aandrywing deur al vier wiele en die lae swaartepunt van die BoxerT-enjin het Subaru duidelik al die basisse gedek wat dinamiese en hanteringsvermoëns betref, maar die jongste modelle verhoog dit selfs verder met die toevoeging van die stabiliteitsbeheer wat nou in al die modelle aangetref word. ‘n Remstelsel met ‘n volledige reeks elektroniese en hidrouliese hulpmiddels is ook aangebring. Boonop is al ses modelle met ses lugsakke toegerus, terwyl die splinternuwe bakwerk baie meer botsbestand is en die Forester in staat gestel het om ‘n volmaakte vyfster-gradering te behaal vir die beskerming van insittendes in die botsingtoetse van die Australiese program vir die taksering van nuwe motors (Australian New Car Assessment Programme – ANCAP). Die Forester is ook deur die Amerikaanse instituut vir snelwegveiligheid aangewys as die “Top-veiligheidskeuse”.

Die stiliste se doelwit was om ‘n voertuig te skep wat ‘n samevloei is van funksionaliteit en skoonheid: ‘n moderne SNV wat goed pas by ‘n sakevoorkoms.

Die gevolg is ‘n motor met sweempies van die Tribeca: dit het ‘n hoë, trotse enjinkap, luginlaat-sierrooster met ‘n reeks gleuwe en ‘n smaakvolle, donker metaalafwerking. Die enjinkap word van die sierrooster geskei deur ‘n stewige chroomstaaf met die kenmerkende Subaru Pleiades-sesster-kenteken in die middel daarvan. Die oorkoepelende effek is gekunsteld en elegant.

Kyk ‘n bietjie laer en jy sien ‘n meer atletiese aspek van die voorste stilering. Die stamper du vorentoe terwyl ‘n bakkleurige skuurplaat om die Forster se kennebak vou om so die kort oorhang te beklemtoon. Aan die kante van die skuurplaat is swart plastiek insetsels waarin groot, ronde misligte gepas is met chroom-afwerking op die XS- en XT-modelle.

Alle ander ligfunksies is in ‘n enkelstuk geïnkorporeer wat om die hoeke vou, met die opwaartse kurwe van die sykante wat die lyn van die stamper volg en die oë lei na die halfronde kurwe van die voorste wielboë. Die agterste wielboë neem dieselfde vorm aan as voor, en word tot boordens toe gevul met 16- of 17-duim-bande, eersgenoemde vir die modelle met normale vergassing en laasgenoemde vir alle turbo-modelle.

‘n Spanningslyn wat sagkens oor die lengte van die motor strek, gee die flanke ‘n gebeitelde voorkoms. Die deurrame (vir die eerste keer nou aan die Forester) is swart.

Om by te dra tot die effek wat die Forester uit die stasiewa-mark skuif tot in die segment vir kompakte sportnutse, is sydrempels en vergrote sykantspieëls aangebring wat, ondanks hul groter oppervlak in werklikheid bydra om die afstand tussen die spieëls met agt millimeter teenoor die vorige model te verminder.

Die D-pilaar is doelbewus smal gehou (soos die ander pilare ook) om sigbaarheid reg rondom te verbeter. Die onderste rand van die agterste glas is net 1,1m van die grond af, wat dit heelwat makliker maak om die Forester te parkeer terwyl dit ook bydra tot die veiligheid van voetgangers. Die vyfde deur maak baie wyer en hoër oop en word deur ‘n elektroniese skakelaar beheer wat deur sagte aanraking geaktiveer word.

Die agterste stamper het ‘n driedimensionele voorkoms met ‘n swart plastiek strook as afwerking langs die onderste rand wat in die middel verbreed om by te dra om die Forester soos ‘n SNV te laat lyk.

Dit is nou makliker om die Forester se binneruim te waardeer omdat die deure nou wyer oopmaak – van 63 tot 68 grade – en die agterste deure maak nou tot 75 grade van die bakwerk af oop met drie duidelike oopmaakfases. Hierdie oënskynlik onbelangrike detail in samewerking met die verhoogde agterste sitplekhoogte het ‘n merkwaardige impak op die gemak van toegang tot die kajuit – ‘n belangrike oorweging wanneer ‘n kindersitplek vasgemaak moet word.

Die deure seël nou beter en skep ‘n gedempte atmosfeer. Die kombinasie van dubbellaag seëls en volle deurrame dra ook by tot beter lugversorging en laer windgeraas.

Nuwe sitplekke voorsien uitsonderlike gerief en soos die in die nuwe Impreza word voorsien deur Pulmaflex, ‘n Belgiese maatskappy wat ‘n wêreldleier is in die vervaardiging van motorsitplekke. Vergeleke met die vorige model is die heuppunthoogte nou 30mm hoër en die afstand tussen die voorste en agterste insittendes het met 95mm toegeneem.

Die ontwerp van die 60/40-verdeelde agterste sitplek stel die insittendes in staat om maklik te kies tussen een van twee hoeke vir die rugleuning deur ‘n knoppie langs die agterdeure te druk. Nog ‘n nuwigheid op al die modelle behalwe die intreevlakmodel is ‘n wegvoubare middelste kussingtafel: die voorste helfte van die middelste sitplek draai 180 grade om ‘n kombinasie van ‘n bergplek/werkoppervlak/bekerhouers te ontbloot. Sagte blou beligting maak dit maklik om dit snags te gebruik.

Al die sitplekke se nate is dubbel gestik sodat dit langer hou, en dit is deeglik gestoffeer vir uitstekende dy-steun en algehele gemaklikheid. Die XS en XT Premium-modelle se sitplekke is met leer oorgetrek wat in die middel geperforeer is vir goeie ventilasie onder die dye.

Die veeldoelige kompartement tussen die voorste sitplekke moet ook spesiaal genoem word. Dit is ontwerp om as ‘n armleuning, stoorplek, bekerhouer en ‘n multimediastasie alles in een te dien. Laasgenoemde word moontlik gemaak deur ‘n geïntegreerde prop vir mediaspelers asook ‘n 12 V kragpunt. ‘n Klein stoorlaaitjie is die ideale plek om ‘n iPod of ‘n foon te bêre, maar met die laai uitgetrek en een van die skeidings vir bekerhouers ook verwyder, kan selfs ‘n skootrekenaar regop tussen die sitplekke staan. Andersins is daar oorgenoeg ruimte vir ‘n middelslag handsak – ‘n handige veiligheidskenmerk. Laastens kan die boonste deel deur ‘n afstand van 100mm swaai om as ‘n perfek geposisioneerde armleuning te dien. Handratmodelle met ‘n laestrekfunksie het ‘n effens ander ontwerp deurdat een van die bekerhouers ingeboet word om plek te maak vir die laestrek-hefboom.

‘n Oorhoofse konsole met ‘n sonbrilkassie, ‘n stoorplek in die middel wat ‘n halfdosyn CD-kassies kan hou, deursakkies met geïntegreerde bekerhouers en ‘n groot paneelkissie verseker dat daar vir almal genoeg stoorplek is om sodoende die kajuit skoon te kan hou.

Die bagasieruim het ook ‘n paar nuwighede. Daar is baie hake vir sakke en ook vier bindgordels in die kante van die bagasieruim sodat dit steeds toeganklik is selfs wanneer ‘n opsionele vloermat in gebruik is. Die volgrootte noodwiel is onder die bagasieruim se vloerbord, waar ‘n paar kompartemente in die rubbervorm geskep is. Daar is ‘n derde 12 Volt prop (die tweede een is waar die sigaretaansteker gewoonlik sou wees), ‘n sterk oorhoofse lig en ‘n bagasieseil wat terugtrek in ‘n aluminiumskede wanneer dit nie in gebruik is nie.

Die bagasieruim is ‘n indrukwekkende 450 liter groot, wat verder kan vergroot tot 1 660 liter wanneer dit tot die dak gepak word en met die agterste sitplekke platgeslaan.

Die oormaat oplossings vir stoor- en pakplek is nie die ding wat die blywende indrukke laat nie. Dit wat ‘n mens lank na die tyd onthou is die topgehalte gevoel van die kajuit, met elke paneel wat van klas getuig.

‘n Dekoratiewe paneel vloei van die voorste deure oor die paneelbord, kurwe afwaarts om die middelste deel te omraam en die voorste insittendes se oë natuurlikerwys na die groot klankstelsel en ‘n trio van meters vir die lugversorging te lei. ‘n LCD-paneeltjie in ‘n venster net onder oogvlak vertoon permanent die aanvoelbare temperatuur, die tyd en gemiddelde brandstofverbruik.

Die instrumente is groot en eenvoudig, met al drie die meters wat die “Subaru-swoesj” doen wanneer die motor aangeskakel word. Enjintemperatuur word gemonitor deur waarskuwingsligte: blou vir lae temperatuur, flikkerende rooi ligte om moontlike oorverhitting aan te dui en soliede rooi ligte vir hoë temperature. Geen lig word vertoon as die enjintemperatuur normaal is nie.

In al die modelle is die instrumente duidelik sigbaar deur die speke van die stuurwiel, wat 10 mm kleiner in deursnee is as voorheen, en dit is sowel vertikaal as teleskopies verstelbaar. Die snelheidsbeheerkontrole is op die regterkantste speek.

Die kajuit van die Forester skep snags ‘n baie uitnodigende atmosfeer. Wanneer die hoofligte aangeskakel word, word ‘n subtiele beligting in die kajuit ook aangeskakel asook ‘n ligte blou beligting wat die middelste konsole verlig.

‘n Primêre doelwit in die ontwerpproses van die nuwe geslag Forester was om al die meganiese stelsels meer doeltreffend te maak met die oog daarop om verrigting te verbeter terwyl brandstofverbruik en uitlaatgasse verminder word, terwyl die Forester se buitengewone dinamiese vermoëns en bestuurservaring behoue bly. ‘n Beginpunt in hierdie proses was om die gewig van die bakwerk met 20 kilogram te verminder en dan detail veranderings aan die enjin en ratkaste te maak.

Subaru se ingenieurs het in interne toetse daarin geslaag om die voordele van die Forester se basiese ontwerpfilosofie te kwantifiseer. Al word die beskrywing ‘soos ‘n motor’ ‘n gewilde term om die hanteringseienskappe van kompakte sportnutsvoertuie te beskryf, is die Forester in staat om net sulke goeie en selfs beter resultate te lewer as C- en D-segment-motors en luikrugmotors in terme van stabiliteit deur draaie, stuurterugvoer, remvermoë en rygerief.

– Die 2.5 liter enkelbonokas-enjin lewer nou 126kW @ 6 000 r/min en 229 Nm @ 4 400 r/min (121 kW en 226 Nm voorheen). Hierdie verbeterings is moontlik gemaak deur die byvoeging van die aktiewe klepligstelsel (AVLS), wat ook die wringkrag in die lae tot middelstrek en brandstofdoeltreffendheid verbeter het. Ander detail veranderings sluit in die veranderde silinderblokgietstukke, veranderings aan die oliepomp, hersiene nok-as tydreëling om in te pas by die nuwe klepligstelsel, verbeterde lugvloei-eienskappe vir die inlaat-spruitstuk en ‘n nuwe uitlaatstelsel met dubbele uitlaatpype.

– Die 2.5 liter dubbel bonokas turbo-aangejaagde enjin is soortgelyk aan die wat in die Impreza WRX gevind word, en gebruik dubbelrol turbo-aanjaertegnologie om 169 kW @ 5 200 r/min en 320 Nm @ 2 800 r/min te ontwikkel. Al is hierdie syfers identies dieselfde as die vorige model, is die nuweling se meeste krag beskikbaar teen 400 r/min minder as voorheen en die wringkragpiek word bereik teen 800 r/min laer. Die AVCS verander die inlaat-nokastydreëling deurlopend en verbeter die wringkrageienskappe tussen 1 500 en 3 500 r/min dramaties – die sleutel tot die voertuig se buitengewone bestuurbaarheid.

– Daar is ‘n magdom interne veranderings, maar die meer presiese enjingietstukke, lae-wrywing oliepomp, verbeterde inlaat om pompverliese te verminder en meer doeltreffende uitlaatgasstelsels dra alles daartoe by om die enjin gouer teen maksimum doeltreffendheid te laat hardloop. ‘n Nuwe tussenverkoeler met ‘n groter kapasiteit en beter lugvloei-eienskappe is ook aangebring.

– Die E-4AT outomatiese ratkas trek voordeel uit die meer akkurate drukbeheer wat interne verliese verminder, terwyl ‘n nuwe soort transmissievloeistof wrywing verminder en ratskakelgehalte verbeter. ‘n Verandering in die hoek waarteen die enjin gemonteer is en die gebruik van hidrouliese enjinhegstukke op turbo-aangejaagde modelle dra by tot verminderde geraas en wrywing. Die veranderings aan die ratkas sluit in ‘n korter strek in die ‘Sport’-modus en ‘n ligter, lekkerder aksie danksy verminderde wrywing. Danksy die beskikbaarheid van wringkrag oor ‘n wye reeks, is die E-4AT perfek om klein veranderings te maak sonder om voortdurend deur die ratte op en af te skakel.

– Op die vyfspoed handratkas is die inskakel-las (die moeite wat dit vat in die tweede deel van die ratverandering) verminder danksy laer voor-belading. Ander interne veranderings verminder wrywing. Verder het die aanbring van die Vehicle Dynamics Control-stabiliteitstelsel op alle modelle Subaru in staat gestel om weg te doen met die beperkte gly-ewenaar wat voorheen gebruik is. Ratverhoudings in alle transmissies bly onveranderd, soos ook die 1.196:1 lae-strek reduksie-verhouding wat op handratmodelle met normale vergassing aangebring is.

– Die nuwe dubbelmik- agterste veringstelsel verminder geraas en grofheid deur al die sleeparms aan agterste subrame te monteer. Vir die Forester se doeleindes het die vering ‘n bykomende 20 mm wielspeling en ‘n groter spoorwydte. Die boonste mikke is ook van ‘n ligter konstruksie. Die voorste veringstelsel gebruik McPherson-stutte, wat saam met ‘n laer mik so geplaas is om neusduik teen te werk. Sleeparmbusse is verander na ‘n ontwerp wat beter gerief bied. Die verandering na ‘n boks-tipe dwarsbalk het dit moontlik gemaak om die voorste subraam te elimineer en so gewig te bespaar.

– Stuurgehalte is verbeter deur ‘n stywer stuurstang en ‘n stewiger koppeling tussen die stuurkolom en die stuurstang lewer beter terugvoer – veral rondom die reguit vorentoe posisie. Die stuurverhouding is ook vinniger vir ‘n sportiewe gevoel. Laastens, ondanks die verhoging in asafstand en wydte is die nuwe Forester se draaisirkel verminder tot 10.6 meter – een van die bestes in sy klas.

– ‘n Beter remversterker, groter agterste remskywe en ‘n verandering aan die pedaalverhouding het alles bygedra tot verbeterde stopvermoë. Die Forester oortref die gemiddelde nat en droog 100 km/h stopresultate vir sportnutsvoertuie in die Japannese weergawe van die takseringsprogram vir nuwe motors, JNCAP. Om die waarheid te sê is die Forester beter as die gemiddeld vir passasiersmotors ook en het al sy teenstanders geklop in die stoptoetse onder nat omstandighede.

Modelle

Forester 2.5 X 5-spoed handrat R269,000.00

Standaardeienskappe:
1.Ses lugsakke
2.Skyfremme reg rondom met ABS, EBD en BAS
3.Elektries verstelbare vensters en spieëls
4.16-duim staalwiele
5.Volgrootte noodwiel
6.Lugversorging
7.Kragstuur
8.Sentrale sluitingstelsel met afstandbeheer
9.Brandstofflap kan met afstandbeheer oopgemaak word
10.Hoogteverstelbare bestuurdersitplek
11.Stuurkolom is verstelbaar vir hoogte en reikafstand
12.MP3/WMA-versoenbare RDS radio/voorlaaier CD met vier luidsprekers
13.Stuurwielkontroles vir oudiostelsel en snelheidbeheer
14.iPod-versoenbare kragprop
15.Drie 12 Volt/120 Watt kragproppe
16.Immobiliseerder
17.Snelheidbeheer
18.’n “Vehicle Dynamics Control”-stabiliteitstelsel
19.Hill Start Assist (vir handratmodelle)
20.Lae-strek ratverhoudings (vir handratmodelle)

Forester 2.5 XS 5-spoed R289,000.00
Forester 2.5 XS 4-spoed SportShiftT Automatic R301,000.00
Forester 2.5 XS 4-spoed SportShiftT Automatic Premium R330,000.00

Standaardeienskappe (bykomend tot Forester X):
1.’n 6-CD wisselaar in die instrumentepaneel met 6 luidsprekers en klankversterker
2.Bakkleur buitenste spieëls en chroomafwerking op die deurhandvatsels (binne en buite)
3.Klimaatbeheer
4.16-duim allooiwiele
5.Voorste misligte met chroom-omlystings
6.’n Agterste veringstelsel wat self gelyk maak
7.’n Opvoubare tafel agter met bekerhouers
8.Die opsie van platinum-afwerking binne bykomend tot die swart

Forester 2.5 XT 5-spoed handrat R349,000.00
Forester 2.5 XT 4-spoed SportShiftT Automatic R364,000.00
Forester 2.5 XT 4-spoed SportShiftT Automatic Premium R387,000.00

Standaardeienskappe (bykomend tot die XS):
1.Outomaties verstellende Xenon-hoofligte met wassers
2.17-duim allooiwiele met 225/55 bande
3.Sportbekleedsel
4.Geboorde aluminium pedale
5.Leeroorgetrekte stuurwiel en rathefboom op alle modelle
6.’n Agterste drukvlerk op die dak

Die Premium-spesifikasie is eksklusief beskikbaar op XS- en XT-modelle met outomatiese transmissie (SportShiftT) en voeg ook ‘n dubbelvolume elektries beheerde sondak, volle leerafwerking in of antrasiet of platinumgrys (insluitend die rathefboomknop en stuurwiel vir die XS-model) en ‘n bestuurdersitplek wat in 8 rigtings verstelbaar is. Die XS Premium beskik ook oor selfverstellende hoofligte met uitskiet-wassers.

Die Forester is al lank die keuse van diegene wat ‘n regte dubbeldoel-voertuig soek en die nuwe geslag sal beslis ‘n nog wyer aanhang hê soos wat kopers al meer die konsep verwelkom van ‘n voertuig wat in ‘n wye verskeidenheid behoeftes kan voorsien.

Bewys hiervan is die groot aanvraag vir die vorige model en die goeie herverkoopwaarde as ‘n voertuig wat talle toekennings sowel plaaslik as oorsee ontvang het en ‘n maatstaf geword het in die segment vir kompakte sportnutsvoertuie. Deel hiervan is die uitstekende sekuriteit – alle modelle kom standaard met ‘n topgehalte, rollende kode immobiliseerstelsel.

Met ‘n drie jaar of 100 000 km waarborg, ‘n drie jaar/63 000 km instandhouingsplan en 12 500 km versieningsintervalle is dit ‘n pynlose langtermynervaring om ‘n Forester te besit. Boonop getuig talle internasionale ondersoeke van die Subaru-merk se inherente ontwerpintegriteit.

In baie gevalle het ‘crossover’ sinoniem geraak met ‘kompromie’. Of vervaardigers in hierdie segment nou hulle ontwerpe aanbied as ‘n ‘crossover’, ‘n ‘soft-roader’ of ‘n ontspannings-4×4, hulle sit almal met dieselfde dilemma: hulle dinamika is gedoem wanneer dit met ‘n konvensionele motor vergelyk word en is ook nie van veel nut af van die gebaande weë nie.

Die ontwerpfilosofie agter die Forester maak voorsiening vir dinamika sonder kompromieë op teer, terwyl bykans vier dekades van verfyning van die voltydse aandrywingstelsel deur vier wiele met ‘n simmetriese dryfstelsel beteken die voertuig het regtig die vermoë om op alle soorte paaie te ry. Die sewe modelle in die Forester-reeks maak dit vir kopers moontlik om die ideale oplossing te vind vir hul dubbeldoelige behoeftes.

As daar ‘n voertuig is wat Subaru se beste-van-beide-filosofie die beste versinnebeeld, is dit sonder twyfel die derdegeslag Forester.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar