Die aankoms vandeesmaand van twee nuwelinge op die plaaslike passasiermotormark verteenwoordig die oopslaan van ‘n nuwe hoofstuk vir die Suzuki-maak in Suid-Afrika.
Die nuwe Swift- en SX4-luikruigmotors se bekendstelling vier nie net die begin van die Suzuki-Motorkorporasie se eerste werklike toetrede tot die SA-passasiermotormark nie, maar verteenwoordig ook ‘n groot verbintenis tot die mark deur dié internasionale motorvervaardiger.
Vir die nuutgestigte Suzuki Auto Suid-Afrika is die Swift en SX4 die eerste twee voertuie in ‘n aggressiewe en toegewyde produkplan wat sal sorg dat Suzuki ‘n beduidende speler in die plaaslike motormark word.
Suzuki is uiteraard geen nuweling onder Suid-Afrikaners nie. Die maatskappy se motorfietse, vierwielers en buiteboord-bootenjins word al sedert 1964 deur Suzuki SA ingevoer en versprei.
Hierdie produkte tel gereeld onder die markleiers wat verrigting, gehalte, betroubaarheid en waarde betref.
Tot 2004 is Suzuki-voertuie – vernaamlik Vitara en Jimny-modelle – plaaslik deur die voormalige Delta-Motorkorporasie verkoop. Dié voertuie geniet nou nog besonder getroue ondersteuning, vernaam as gevolg van hul naam vir buitengewone gehalte.
Suzuki word reeds gekoppel aan kenmerke soos pasaangee-ontwerpe, verrigting en waarde, wat daarvoor gesorg het dat die maatskappy bekend staan as ‘n vervaardiger van uiters begeerlike voertuie.
As ‘n dogtermaatskappy van die Suzuki-Motorkorporasie, verteenwoordig Suzuki Auto SA ‘n geheel nuwe era vir die Suzuki-maak op plaaslike bodem. Die SA maatskappy sal van meet af aan ‘n integrale deel wees van die dinamiese, wêreldwye Suzuki-netwerk.
Suzuki Auto SA is ‘n gesamentlike inisiatief tussen die Suzuki-Motorkorporasie (SMK) en Suzuki SA. SMK het ‘n aandeelhouding van 85 persent in die nuwe maatskappy. Suzuki SA, wat vir Suzuki-motorfietse, -vierwielers, en -bootprodukte verantwoordelik is, besit die oorblywende 15 persent.
Suzuki Auto SA se hoofkantoor in die Linbro-sakepark in Marlboro, Sandton is sentraal geleë, en sluit onder meer ‘n afsonderlike opleidingsentrum en uitgebreide onderdele-pakhuisgeriewe in.
Die belangrikheid van die plaaslike maatskappy in Suzuki se oorhoofse wêreldstrategie word onderstreep deur die feit dat die topbestuur van Suzuki Auto SA regstreeks deur die Japanese moedermaatskappy aangestel is.
Suzuki Auto SA se besturende direkteur, Kazuyuki Yamashita het na SA verhuis om die nuwe maatskappy aan te voer nadat hy verskeie senior sleutelposisies in ‘n verkope- en bemarkingsrol binne die Suzuki-netwerk beklee het, mees onlangs in Kanada. Yamashita-san word binne Suzuki Auto SA bygestaan deur sy Finansiële Assistent, Koji Fujita.
Die maatskappy se drie afdelingsbestuurders dra ‘n magdom motorbedryf-ervaring by. Berto van der Lith staan aan die hoof van Finansies en Administrasie, terwyl Roger van Dyck die Naverkope-afdeling beheer. Charl Timms is aan die stuur van die Verkope- en Bemarking-portefeulje.
“Die Suzuki-Motorkorporasie is ‘n belangrike speler in die globale motorbedryf, en ontwerp en vervaardig passasiersmotors, handelsvoertuie, motorfietse, vierwielmotorfietse, buiteboordenjins en verskeie ander verwante produkte,” verduidelik Yamashita-san.
Hy voeg by dat Suzuki in 192 lande verteenwoordig word, met vervaardigingsaanlegte in 23 lande wêreldwyd. “Daarom geniet die Suzuki-naam daadwerklike internasionale status.”
Die maatskappy se globale mededingendheid word onderstreep deur sy tegniese samewerking en strategiese ooreenkomste met verskeie motormaatskappye wêreldwyd.
“Ons besluit om die SA-motorbedryf te betree is gegrond op die voortgesette groei wat dié mark die afgelope jare behaal het,” sê Yamashita.
“SMK het uitgebreide navorsing en lewensvatbaarheidstudies betreffende die unieke en uiters mededingende SA-motorbedryf laat uitvoer, en ons het tot die slotsom gekom dat die mark gereed is vir die bekendstelling van ‘n groter verskeidenheid Suzuki-voertuie.
“Dit is ‘n besluit met ‘n stewige fondament wat op die dinamiek van die Suzuki-naam gebou is, tesame met die opwinding en die waarde wat ons produkreeks bied, en die uiters gemotiveerde aanslag van ons organisasie.
“Bowendien sluit dit aan by Suzuki se doelwit om teen 2020 die voorste mobiliteitsmaak in die globale motorvervaardigingsbedryf te word,” het Yamashita-san benadruk.
Hoewel so ‘n doelwit taamlik vooruitstrewend voorkom, bewys Suzuki se geskiedenis dat die maatskappy wel die deursettingsvermoë het om sy teikens te bereik, selfs wanneer die kanse om welslae bra skraal lyk.
Die maatskappy is in 1909 deur Michio Suzuki gestig en is vandag nog in die kusdorp van Hamamatsu geleë. Dit het aanvanklik as die Suzuki Loom Company bekend gestaan en het weeframe vir Japan se reuse sybedryf vervaardig.
Die maatskappy het in die jare Dertig begin uitbrei en in 1937 met die ontwerp van sy eerste klein motor begin. ‘n Hele paar prototipes is in die daaropvolgende twee jaar gebou, aangedryf deur ‘n vernuftige viersilinder-vierslagenjin met waterverkoeling.
Die Tweede Wêreldoorlog het ‘n stokkie voor die ontwikkelingsprogram gesteek, maar na afloop van die oorlog was daar ‘n groot tekort aan bekostigbare en betroubare vervoer. Suzuki se antwoord was ‘n aangedrewe fiets, wat in 1952 as die sogenaamde ‘Power Free’ bekendgestel is.
Die aandryfstelsel van dié voertuig was só vindingryk dat Suzuki ‘n subsidie van die Japanese regering ontvang het om met die navorsing en ontwikkeling van motorfietse voort te gaan. Dit het tot die ontstaan van die Suzuki-Motorkorporasie gelei.
Teen 1954 het Suzuki reeds 6 000 motorfietse maandeliks vervaardig, terwyl die maatskappy se eerste motor, die liggewig ‘Suzulight’ in 1955 bekendgestel is. In die 54 jaar sedertdien het die Suzuki-Motorkorporasie met rasse skrede gegroei, en is dit vandag ‘n belangrike voertuigvervaardiger wat wêreldwyd aktief is.
In 2007 het SMK se voertuigverkope wêreldwyd 2 405 487 eenhede beloop, terwyl verkope van motorfietse en vierwielers 3 343 624 eenhede beloop het. Suzuki se algehele, globale produksie het terselfdertyd die negende jaar agtereenvolgens gestyg. In 2007 is 2,6-miljoen motors en ligte handelsvoertuie, en meer as 3,3-miljoen motorfietse en vierwielers vervaardig.
Teen hierdie belowende agtergrond maak SMK se vooruitskattings vir 2008 huidiglik voorsiening vir ‘n verdere groei in verkope van 7 persent, vergeleke met 2007. Dit sal na verwagting vanjaar vir ‘n verkoopsyfer van 2 550 000 motors en ligte handelsvoertuie sorg.
Die maatskappy se voortgesette positiewe finansiële uitslae toon tans ‘n jaar-op-jaar groeikoers van 8,5 persent. Die teikenvolume vir 2010 is 3-miljoen eenhede.
“Hoewel ons algehele verkoopsyfers in SA nie werklik in wêreldterme as beduidend beskryf kan word, en veral nie aanvanklik nie, sal hulle steeds ‘n waardevolle bydrae tot SMK se 2010-teiken verteenwoordig,” sê Yamashita.
“Ons is in alle geval vasbeslote om in die jare vorentoe ‘n beduidende impak op die SA-passasiermotormark te maak,” het hy afgesluit.
