Die algeheel nuwe Toyota Land Cruiser Prado word in Suid-Afrika bekend gestel net enkele weke na sy internasionale debuut by September se Frankfurt-Motorskou in Duitsland.
Die ontwerpopdrag vir die nuwe Prado het vereis dat enige toename in die algehele grootte tot die minimum beperk word om die uitstekende ratsheid en maneuvreerbaarheid van die huidige model, en ook die Prado se mediumgrootte karakter te behou. Gevolglik is die lengte met net 45 mm en die algehele breedte met net 10 mm vergroot. Die hoogte is met 20 mm verminder, wat beter lugdinamiese eienskappe en gevolglik ook beter brandstofekonomie beteken.
Die nader- en die vertrekhoek, wat so belangrik is in die voertuig se uitmuntende veldryvermoë, is onderskeidelik 32 en 24 grade – dieselfde as in die vorige model.
Stileringseienskappe wat ‘n forse beeld aan die nuwe Prado verleen, sluit in ‘n gordellyn wat 20 mm hoër is, die enjintussenkap wat 45 mm verder vorentoe geplaas is en ‘n hoër enjinkaplyn. Hierdie eienskappe beteken beter sig, gevolglik is die bestuurder meer bewus van sy omgewing en die terrein waaroor hy bestuur.
Binne die nuwe buite-ontwerp van die nuwe Prado het die ontwerpspan die binneruimte en nutswaarde van die voertuig verbeter. Die kajuit is 35 mm langer, 5 mm breër en die ruimte tussen die bestuurder en die voorste passasier is met 30 mm vergroot.
Die tweede ry sitplekke kan vorentoe en agtertoe geskuif word, wat dit makliker maak om die derde ry sitplekke te gebruik. Dit vergroot ook beenruimte vir die passasiers in die tweede ry sitplekke. Die vloer heel agter is laer, gevolglik is daar meer been- en voetruimte vir die twee insittendes in die derde sitplekry, en sit hulle ook gemakliker. Die derde ry sitplekke kan onder die vloer gebêre word wanneer hulle nie gebruik word nie, wat ook die bruikbaarheid van die bagasieruim verbeter.
Trekvaste staal word op groot skaal in die bakstruktuur gebruik om bykomende sterkte te verleen, onder meer die area rondom die enjinruimte, die vloer, kantrame, insluitende die A- en die B-pilaar, die area rondom die agterbuffer en die dwarsversterkings in die dak. Dit verseker ‘n ligte, maar terselfdertyd uiters rigiede bakstruktuur.
Sinkbedekte plaatstaal word gebruik op al die plekke wat aan korrosie blootgestel is, soos die deurpanele, die sykante van die voertuig, enjinkap en die agterdeur. Die omvattende gebruik van hierdie materiaal verseker uitstekende roes- en korrosiebestandheid.
Baie aandag is ook bestee om die deurvoer van geraas, vibrasie en hardheid (GVH) na die kajuit hok te slaan om te voldoen aan klante se toenemende verwagtings ten opsigte van kajuitgerief en geraasvlakke. Met die oog hierop word milde gebruik gemaak van skuimisolasiemateriale deur die hele kajuit, terwyl klankdempmateriale op die vloerseksies ingespan word. Aandag is ook bestee om windgeraas tot die minimum te beperk. Die openinge tussen glas en bakpanele is verklein en ‘n akoestiese voorruit, met ‘n klankisolasiefilm tussen die glaslae, word gebruik.
Passiewe veiligheid
Die nuwe Prado spog met ‘n groot verskeidenheid van passiewe veiligheidskenmerke om die insittendes binne ‘n sterk en rigiede, botsbestande veiligheidsel te beskerm. Hierdie veiligheidsel (die voertuigbak) is gemonteer aan ‘n leertipe raam, wat op sy beurt ontwerp is om botsenergie te absorbeer en weg van die passasiersel af te gelei.
‘n Sleutelelement van die passiewe veiligheidseienskappe is die omvattende lugsakbeskerming. ‘n Dubbelstadium-lugsak vir die bestuurder en ‘n enkelstadium-lugsak vir die voorste passasier verskaf beskerming aan die voorste insittendes. Dit word aangevul deur sitplekkantlugsakke vir die voorste sitplekke en ‘n knielugsak vir die bestuurder. Gordynlugsakke bied kantbeskerming vir al drie sitplekrye.
Vir beskerming in die geval van ‘n botsing van voor het die versterkings van die voorste pilaar ‘n veellaagkonstruksie tussen die dakrelingversterking en die tussenkap vir groter weerstand teen vervorming, en groter weerstand teen botsenergie wanneer dit wel vervorm word. Dit beperk bakvervorming in die geval van ‘n botsing van voor. Die onderste deel van die voorste pilaarversterkings het ook ‘n veellaagkonstruksie en die buitenste tuimelaars het ekstra-sterk versterkings.
Die Prado se vermoë om botsenergie in die geval van ‘n botsing van die kant te absorbeer, word verbeter danksy die gebruik van trekvaste plaatstaal in die voorste pilare en ultra-sterk trekvaste staal vir die middelpilaar en die tuimelaarseksie. Dit alles verseker uitmuntende laterale sterkte.
Die posisie van die dwarsbalke in die vloer is geoptimaliseer om botsenergie doeltreffend te versprei en vervorming van die kajuit te beperk. Die dakversterking het ‘n geslote boonste en onderste seksie om sterkte met die geassosieerde komponente optimaal te balanseer om kajuitvervorming verder te beperk.
Die vloerstruktuur en die dwarsbalke is so ontwerp dat dit ‘n uiters doeltreffende, veelvoudige pad verskaf waarlangs botsenergie van die middelpilaar af weggelei kan word. Net so versprei die binneste tuimelaar-tot-raam-pad botsenergie van die buitenste tuimelaar af op ‘n uiters doeltreffende wyse.
Deurpanele en deurbeslag met ‘n skuimstopsel is strategies geplaas om bekkenbeserings in die geval van ‘n botsing van die kant te verminder. Die deurprofiele is geoptimaliseer en ‘n frommelbare armstutkonstruksie word gebruik om buikbeserings in die geval van ‘n sykantse botsing te beperk. Daarby is daar energie-absorberingstrukture en -materiale in die binnepilaar en die dakbeslag om kopbeserings te beperk.
Afgesien van al hierdie maatreëls om die insittendes te beskerm, is daar ook dié om voetgangers te vrywaar in die geval van ‘n botsing. Die voorste deel van die enjinkap is ontwerp om botsenergie te absorbeer, en in die enjinkapkonstruksie self word oorlangse versterkings ingespan.
Agter die versterking van die enjinkapslot is daar frommelpunte en energie-absorberende afsluitpunte om te verseker dat daar voldoende ruimte onder die enjinkap is om botsenergie te absorbeer in die geval van ‘n voetgangerbotsing. Die agterste deel van die tussenkap het ‘n energie-absorberende oop dwarsseksie om beserings te beperk.
Verskeie ander maatreëls is getref om voetgangerkop- en beenbeserings te beperk, onder meer in die plasing van die ruitveërs, die aanbring van frommelpunte in die bufferhegpunte, en dies meer.
Gevorderde aktiewe veiligheidskenmerke
Die 18 duim-allooiwiele van die Prado maak voorsiening vir grootdeursnee-remskywe en -knypers, wat uitstekende remverrigting en weerstand teen remverswakking verseker. Geventileerde skywe word voor en agter ingespan, met viersuierknypers voor en vry knypers agter.
‘n Volle bestek van elektroniese bestuurdershulpmiddels word aangebied. Dit sluit “Veelterrein-ABS” in. Afgesien van die konvensionele sluitweerfunksie wat voorkom dat die remme in normale bestuurstoestande sluit, bespeur hierdie jongste stelsel veldrytoestande soos los sand en klippe. Op grond van ‘n berekening van die enjinkraglewering, voertuigversnelling en voertuigsnelheid sal dit outomaties die optimum-ABS-beheer verskaf vir die gegewe bestuurstoestande. Dit bied uitstekende remterugvoering in veldrytoestande.
Afgesien van die wielspoedsensors, wat die belangrikste insette lewer vir ‘n konvensionele ABS-stelsel, is die enjin se elektroniese beheereenheid ook geïnkorporeer in die nuwe stelsel om die noukeurigheid van die terugvoer oor die voertuigtoestand te verbeter, insluitende die versnellingskoers, enjinkraglewering en wielspoed. Die ABS-stelsel gebruik hierdie insette om te bepaal wat die beste glipkoers is wat toegepas moet word om die optimum-spoedverminderingskoers te verkry.
Veelterrein-ABS is net in werking wanneer “Multi-terrain Select” aangeskakel is en die “Mud” and Sand”-modus geselekteer is. As hierdie modus nie geselekteer is nie, is die normale ABS-funksie beskikbaar.
Die stelsel spog ook met Elektroniese Remkragverspreiding (ERV) om te verseker dat die remkrag optimaal na al vier wiele versprei word vir die allerbeste remverrigting. Elektroniese remkragverspreiding gebruik die hidroulika van die ABS-stelsel om die remkrag tussen die voor- en die agterwiele ten beste te versprei afhangende van die bestuurstoestande en die voertuigvrag. Wanneer die bestuurder in ‘n draai rem, sal die ERV-beheer die verspreiding van die remkrag tussen die buitenste linker- en regterwiel optimaliseer om voertuigstabiliteit te handhaaf vir die optimum-remming.
‘n Ander element van die remstelsel is Remhulp. Wanneer hierdie stelsel ‘n noodremsituasie bespeur (van die rempedaalaksie van die bestuurder), wek dit meer remkrag op om die bestuurder te help om die voertuig binne die kortste moontlike afstand tot stilstand te bring.
Die Voertuigstabiliteitsbeheerstelsel (VSB) bespeur enige sywaartse glipbeweging en help die bestuurder om die voertuig onder beheer te kry deur die enjinkraglewering te beheer en elke wiel afsonderlik te rem.
Die bestuurder kan die VSB-stelsel met ‘n skakelaar ontkoppel. Dit word gebruik wanneer die vastrapbeheerelement van die stelsel die bestuurder verhinder om genoegsame enjinkrag te gebruik om voertuig uit diep sand, modder of sneeu te kry. Die stelsel kan deur die druk van ‘n skakelaar in die ry gekoppel en ontkoppel word. As die voertuig vasgeval het en stilstaan, moet die skakelaar vir drie sekondes lank ingedruk word. Die stelsel word gereaktiveer wanneer die skakelaar weer gedruk of die enjin aangeskakel word nadat dit afgeskakel was.
Heuwelwegtrekhulpbeheer (HHB). Hierdie stelsel voorkom dat die voertuig agteruitloop wanneer daar teen ‘n steil helling weggetrek word. Die stelsel bespeur enige trubeweging wanneer die bestuurder sy voet van die rempedaal afhaal om weg te trek en pas remkrag toe.
Veldryeienskappe
CRAWL (Kruipbeheer). Hierdie nuut ontwikkelde stelsel van Toyota is vir die eerste keer in die Land Cruiser 200 gebruik. Dit stel die bestuurder in staat om ‘n bestendige, lae snelheid oor die strafste terrein te handhaaf deur die enjinversnellerinsette (kraglewering) en remdruk na die individuele wiele te beheer. Dit vergemaklik die bestuurder se taak en bied ‘n geriefliker rit. Enige neiging van die wiele om te sluit of te tol, word beperk.
Omdat hy nie die versneller of die remme hoef te beheer nie, kan die bestuurder sy volle aandag skenk om die voertuig oor die beste roete te stuur. Toyota het die CRAWL-stelsel ontwikkel deur die pedaalaksies van ervare veldryers op te neem as die basis vir ‘n digitale model vir die stelsel. Die resultaat is ‘n uitstekende, geoutomatiseerde bestuursmodel wat selfs die mees ervare Toyota-veldrybestuurders wat by die ontwikkeling van die stelsel betrokke was, beïndruk het. Die gladde toepassing van beheer beperk wieltol en voorkom dat die wiele sluit, wat bydrae tot uitstekende verrigting oor moeilike begaanbare, gladde terrein.
Die stelsel help ook om skade aan die voertuig te beperk, veral in ekstreme veldrytoestande, deurdat ‘n baie lae snelheid gehandhaaf en die ongeveerde beweging van die voertuig verminder word. Las op die kragoorbringstelsel word ook verminder, aangesien die enjinkraglewering en die hidrouliese druk in die remstelsel baie glad beheer word.
Die kruipbeheerstelsel werk net in die volgende omstandighede en wanneer die “CRAWL ON/OFF”-skakelaar gedruk word:
Oordraratposisie – L4
Ratposisie – enige posisie buiten P en N
Deure – die bestuurder se deur is toe
VSB-stelsel – Normaal
Tweederat-wegtrek (2nd Start) – af
As tweederat-wegtrek geaktiveer is, sal die enjinbeheerfunksie van die kruipbeheerstelsel nie werk nie. Wanneer die geaktiveer is, sal die Crawl Control-klikliggie aanskakel.
In die volgende omstandighede sal Crawl Control gedeaktiveer word:
“CRAWL ON/OFF”-skakelaar word gedruk
Oordraratposisie – H4
Rathefboomposisie – P of N
Deure – die bestuurder se deur word oopgemaak
VSB-stelsel – Wanwerking
Hoë outomatiese ratkasvloeistoftemperatuur (ORV-waarskulig aan)
Tweederat-wegtrek – AAN
Wanneer Crawl Control saam met tweederat-wegtrek gebruik word, sal die enjinbeheerfunksie van die stelsel nie werk nie. Die remfunksie van die stelsel sal egter steeds werk.
Wanneer die voertuig ‘n snelheid van 25 km/h of meer bereik (10 km/h as die agterewenaar gesluit is), sal Crawl Control tydelik gedeaktiveer word en die Crawl Control-klikliggie sal flikker.
Die Crawl Control-stelsel maak voorsiening vir vyf snelheidstellings om aan te pas by die terrein waaroor gery word. Die snelheid word gestel met ‘n snelheidseleksieskakelaar.
Tipiese toestande waarin die kruipbeheerstelsel gebruik word:
Besonder strawwe terrein of terrein met groot, skerp rotse en klippe, waar die gevaar bestaan dat die onderkant van die voertuig beskadig kan word.
Wanneer steil hellings oor erg growwe terrein met rotse en los klippe aangepak word.
Wanneer steil afdraandes oor los klippe en rotse aangepak word, veral oor terrein waar daar min vastrap is. Crawl Control help die bestuurder om beheer te behou en handhaaf voertuigstabiliteit.
Wanneer die voertuig in diep modder of sneeu vasval.
Wanneer riviere of strome oorgesteek word. Crawl Control help die bestuurder om die hindernis gerieflik oor te steek deur ‘n stadige, bestendige pas te handhaaf.
Multi-terrain Select is nog ‘n “eerste” vir Toyota. Dit vertoon bedryfsprosedures vir die bestuurder en beheer terselfdertyd die versnellingsdinamika van die voertuig. Deur een van vier beskikbare modusse te selekteer wat die beste by die terrein aanpas, bied die stelsel maklik verstaanbare leiding terwyl dit die versneller- en rembeheer optimaliseer. Danksy hierdie gevorderde stelsel kan selfs onervare veldryers die strafste terrein met vertroue aanpak.
Deur wieltol en wielsluiting te beperk, verseker die Multi-terrain Select-stelsel dat die maksimum-vastrap in enige gegewe veldrytoestand beskikbaar is. Die gebruikersvriendelike funksies van die stelsel bied ‘n element van bestuursgenot vir groentjies sowel as ervare veldryers.
Die terreinmodusse wysig die vastrapbeheerstelsel om by die gekose toestande aan te pas en verhoog die voertuig se vermoë om strawwe terrein en hindernisse sonder probleme oor te steek.
Die vier modusse is:
Mud and Sand: Werk in H4- sowel as L4-ratskakelposisies. Die stelsel reageer op die bestuurder se versnellerinsette deur wieltol te beperk en te verseker dat die momentum van die voertuig gehandhaaf word.
Rock: Hierdie modus is net beskikbaar met die ratstelsel in L4. Dit verseker die allerbeste vastrap oor gebroke terrein deur wieltol te beperk.
Loose Rock: Hierdie modus is ook net in L4 beskikbaar. Dit stel versnellerinsette fyn oor terrein met los klippe en rotse om wieltol te beperk.
Moguls: ‘n “mogul” word gedefinieer as ‘n klein, harde boggel, wat dikwels in verharde sneeu of sand aangetref word. Dit veroorsaak ‘n soort golwende terrein wat die voertuig aan wringvervorming onderwerp. Hierdie modus optimaliseer versnellerinsette vir hierdie tipe terrein en is ook net in L4 beskikbaar.
Multi-terrain Select word geskakel deur die opsielys op die inligtingskontrole, wat aan die stuurwiel gemonteer is, te kies. Wanneer die MULTI-TERRAIN SELECT-opsielys verskyn, kan die bestuurder enige van die vier modusse kies deur die inligtingskakelaar op of af te wip.
Nadat die korrekte rathefboomposisie (H4 of L4) vir die vereiste bestuursmodus geselekteer is, sal die vertoonskerm die gekose modus aandui en sal die beheerstelsel in werking tree. Wanneer die Multi-terrain Select-stelsel geaktiveer word, sal die Multi-terrain-monitor outomaties ‘n kleurbeeld van die terrein voor die voertuig op die TFT-inligtingskerm van 4,2 duim vertoon.
Hersiene veerstelsel
Hoewel die jongste Prado op sy beroemde voorganger gegrond is, bied die nuwe model, met sy hersiene veerstelsel, selfs groter betroubaarheid, bekwamer veldryvermoë en meer gerief.
Voor word ‘n onafhanklike dubbelmik-veerstelsel ingespan, en agter ‘n vierskakelstelsel met sybalke. Albei die stelsels benut krulvere en is fyn gestel met die oog op uitstekende hantering, stabiliteit en rygerief. Die veerstelselslag is dieselfde as in die vorige model vir uitmuntende ryvermoë oor alle soorte terrein.
Die nuwe Prado spog ook met Toyota se unieke Kineties-Dinamiese Veerstelsel (Kinetic Dynamic Suspension System, ofte wel KDSS), ‘n nuut ontwikkelde stelsel wat vir die eerste keer in die Land Cruiser 200 gebruik is.
KDVS verbeter veiligheid en gerief deur voertuigrolbewegings te beperk. In veldrytoestande help die stelsel om optimum-wielartikulasie te verkry, wat beter vastrap oor strawwe terrein verseker.
Met KDVS word die werking van die voorste en die agterste stabiliseerder voortdurend geoptimaliseer deur ‘n interaksie tussen die twee via ‘n hidrouliese stelsel. Wanneer die voertuig ‘n rolbeweging ondervind, word die hidrouliese druk voor en agter gelykgemaak en die stabiliseerders werk normaal om die rolbeweging te onderdruk.
Wanneer die wiele aan een kant oplig, werk die hidrouliese silinders aan die voorste en die agterste veerstelsel in teenoorgestelde rigting. As gevolg hiervan is daar geen reaksie van die stabiliseerder om die veerstelselslag te beperk nie. Dit verleen ‘n meer gelykmatige rit en uitstekende stabiliteit in veldrytoestande.
Met sy omvattende lys elektroniese bestuurders- en veiligheidstoerusting stel die jongste Prado nuwe standaarde vir voertuigbeheer in sy klas.
