Die nuwe Prado sal aanvanklik verkrygbaar wees met die luuksueuse vlagskip-VX-sewesitplekspesifikasie en ‘n keuse tussen ‘n V6-petrolenjin van vier liter en ‘n viersilinder-turbodiesel van drie liter. Albei modelle bied aan kopers ‘n omvattende reeks nuts- en geriefseienskappe sowel as die volle bestek van aktiewe en passiewe veiligheidseienskappe en Toyota se jongste, gevorderde veldry-bestuurstegnologie.
Die maksimum-kraglewering is 202 kW @ 5 600 r/min (179 kW @ 5 200 r/min in die huidige model). Die wringkrag, teen 381 Nm @ 4 400 r/min, is effens hoër as die 376 Nm van die vorige enjin. Dubbele VVT-i (Variable Valve Timing-intelligent), uiters doeltreffende inlaat- en uitlaatpoorte, ‘n aantal lae wrywingskomponente en ‘n 10.4:1-drukverhouding dra by tot die uitstekende verrigting van hierdie liggewigenjin.
In die klepgang word roltuimelarms gebruik, wat die wrywing tussen die nokasse en skuifkomponente grootliks beperk. Dit bevorder brandstofekonomie. En die gebruik van instandhoudingsvrye hidrouliese spelingstellers help om enjingeraas te verminder.
Die gebruik van die Dubbele VVT-i-stelsel verseker dat die tydreëling van die inlaat- en uitlaatbonokasse geoptimaliseer word in ooreenstemming met die enjin se bedryfstoestande. Dit verbetering kraglewering en brandstofekonomie, asook enjinemissies. Die deursnee van die versnellerromp is vergroot om enjinkraglewering te verbeter en die grootte en lengte van die inlaatspruitstuk en -poorte is geoptimaliseer om krag en wringkrag te verbeter. ‘n Aantal verbeterings in die elektronika van die enjin help verder om brandstofverbruik te verminder.
In die nuwe Prado word die uitlaatkatalisators in die uitlaatspruitstuk geïntegreer om doeltreffendheid te verbeter en gewig te bespaar. Die uitlaatgasvloei is geoptimaliseer om drukverlies te verminder en dit dra by tot beter verrigting.
Die Prado 3.0 VX Diesel is toegerus met die 1KD-FTV-enjin met direkte deelpypinspuiting. Die viersilinderkragbron van drie liter spog met 16 kleppe, turboaanjaer en tussenkoeler. Die maksimum-krag van 120 kW word by 3 400 r/min gelewer en die top-wringkrag van 400 Nm tussen 1 600 en 2 800 r/min. Die enjin lewer 25 persent meer krag en 17 persent meer wringkrag as die huidige een.
‘n Besonder doeltreffende wiektipe turboaanjaer met wisselnossel en aangedryf deur ‘n GS-motor word ingespan. Die wisselnosseltipe turboaanjaer pas die vloeikoers en die druk van die uitlaatgas aan wat die turbine binnevloei deur die wisselnosselwiek-meganisme wat aan die omtrek van die turbine aangebring is. Dit beteken dat die turboaanjaagdruk presies beheer kan word afhangende van die vereistes van die enjin en die bedryfstoestande. Verbeterings aan die inlaat- en brandstofinspuitstelsel verhoog wringkrag by lae enjintoere en help om emissies te verminder.
Die elektronies beheerde deelpyp-brandstofinspuitstelsel bied buitengewoon goeie brandstofbeheer, met ‘n mikrorekenaar wat die inspuitdruk, inspuittydreëling en die volume van die brandstoflading beheer.
Albei die enjins is gekoppel aan ‘n elektronies beheerde outomatiese vyfspoedratkas. Die ratkas het ‘n uitstekende verrigting, is besonder brandstofdoeltreffend en spog met gladde ratwisseling en lae geraasvlakke.
Eienskappe van die ratkas sluit in Flex Lock-up Control and AI- (Artificial Intelligence) Shift Control. Flex Lock-up Control vergroot die bedryfsbestek van die sluitkoppelaar deur glip presies te beheer om brandstofekonomie te verbeter. AI-Shift Control verseker groter bestuursgerief deur die ratwisselpatroon outomaties aan te pas by die padtoestande en die waargenome intensie van die bestuurder op grond van sy beheerinsette. Wanneer daar teen ‘n opdraande uitgery word, voorkom die stelsel onnodige wisselings tot ‘n hoër rat, en wanneer teen ‘n afdraande af gery word, sal die stelsel outomaties ‘n laer rat kies vir optimum-enjinremming.
Die Prado is toegerus met ‘n heeltydse vierwieldryfstelsel met ‘n Torsen-tipe wringkragbespeurende halfglip-middelewenaar. ‘n 4WD-beheerskakelaar vervang die tradisionele vloergemonteerde oordraskakelhefboom in die vorige modelle en maak die bedryf van die stelsel eenvoudiger. Hierdie radiaal-tipe beheerskakelaar word saam met die ewenaarslotkontroles vir die middel- en die agterewenaar in die sentrale konsole gehuisves.
Die 4WD-stelsel werk saam met Toyota se unieke Crawl Control- en die Multi-terrain Select-stelsel en bied ‘n ongeëwenaarde veldry-ondervinding.
Die nuut ontwikkelde Crawl Control-stelsel, wat vir die eerste keer in die Land Cruiser 200 gebruik is, stel die voertuig in staat om ‘n bestendige, lae snelheid oor die strafste terrein te handhaaf deur die enjinversnellerinsette (kraglewering) en remdruk na die individuele wiele te beheer. Dit vergemaklik die bestuurder se taak en bied ‘n geriefliker rit. Enige neiging van die wiele om te sluit of te tol, word beperk.
Multi-terrain Select is nog ‘n tegnologiese “eerste” vir Toyota. Dit vertoon bedryfsprosedures vir die bestuurder en beheer terselfdertyd die versnellingsdinamika van die voertuig. Deur een van vier beskikbare modusse te selekteer wat die beste by die terrein aanpas, bied die stelsel maklik verstaanbare leiding terwyl dit die versneller- en rembeheer optimaliseer. Danksy hierdie gevorderde stelsel kan selfs onervare veldryers die strafste terrein met vertroue aanpak.
In die nuwe Land Cruiser Prado word hierdie gevorderde kragoorbringstelsel gekombineer met ‘n uitsonderlike toerustingvlak in die VX-spesifikasie vir die petrol- sowel as die dieselmodel.
Belangrikste eienskappe van die Land Cruiser Prado:
Veelterrein-ABS-remstelsel
Remhulp
Elektroniese remkragverspreiding
Voertuigstabiliteitsbeheer
Heuwelwegtrekhulpbeheer
Kruipbeheer (Crawl Control)
Multi-terrain Select
Trumonitor met sonarbeheer agter
Voorste sonarbeheer
Elektriese kantspieëls met terugklapmeganisme
Elektrochromatiese truspieël
Oorhoofse konsole met “gesprek”-spieël, sonbrilhouer en Bluetooth-mikrofoon
Lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, knielugsak vir die bestuurder en sitplekkantlugsakke
Vollengte-gordynlugsakke vir die beskerming van insittendes op al drie rye sitplekke
Kinderstoelstelsel
Outomatiese koplighoogtestelling
Kopligwassers
Misligte voor en agter
Kanttreetjies
18 duim-allooiwiele met 265/60 R18-bande
Volgrootte-noodwiel met volle wielbedekking aan agterdeur
Leerbekleedsel en -kajuitbeslag
Kragstuur
Elektriese kantel- en teleskopiese stuurwielverstelling met geheuefunksie
Vierspeek-leerstuurwiel met satellietkontroles vir die klankstelsel en veelinligtingskieser
Snelheidsbeheer
Dubbele, outomatiese lugreëlingstelsel met vloeikristal-vertoonpaneel agter
Optitron-instrumentasie
Veelinligtingsvertoon
Ekobestuur-aanwyser
Stuurhoekvertoon
Multi-terrain Select-monitor met wye uitsig na voor en na die kant
Elektriese ruitverstelling
EMV HDD-satellietnavigasiestelsel met stemherkenning
EMV-klankstelsel met DVD-wisselaar, RDS-radiostelsel met 14 luidsprekers en USB- en Bluetooth-versoenbaarheid
Reëngevoelige ruitveër
Kragverstelling vir die voorsitplekke – op agt maniere vir die bestuurder plus geheuefunksie en op vier maniere vir die voorste passasier. Sitplekverwarmers standaard.
Gerookte glas vir agterruite
Agterste konsolehouer met koelkassie
Drie 12V-kragpunte vir toebehore
Slim toegangstelsel met “Push-to-Start”-funksie
Elektriese deurslotte
Transponder-immobiliseerstelsel
Indring-alarmstelsel
87 liter-brandstoftenk met ‘n tweede tenk van 63 liter (altesame 150 liter)
