Die groot uitdaging in die ontwerp van die nuwe geslag van die Prado was om dié van die huidige model, met sy uitstekende reputasie, verder te verbeter. Van die oomblik af toe dit in 2002 aan die kooppubliek beskikbaar gestel is tot nou, met die bekendstelling van sy plaasvervanger, het hierdie voertuig skitterend verkoop.
Wat kon ek doen word om hierdie uitmuntende voertuig verder te verbeter? Ek het dit as my missie beskou om hierdie droom van ‘n beter, meer suksesvolle Prado, te verwerklik.
Die Land Cruiser Prado beklee ‘n sentrale posisie in die Land Cruiser-voertuigfamilie. Almal het ‘n uitstekende reputasie as geharde, “feitlik onvernietigbare” voertuie. Ons klante sou verwag dat die nuwe Prado, as lid van die Land Cruiser-familie, aan hierdie reputasie sou voldoen en die hoogste vlakke van betroubaarheid en duursaamheid sou aanbied.
Met die nuwe model het ons daarin geslaag om voort te bou op die reputasie van die huidige model met selfs groter betroubaarheid, duursaamheid en gehardheid, terwyl ons ook die algehele verrigting en funksionaliteit van die voertuig verbeter het.
Toe ek met die ontwikkelingsproses van hierdie voertuig begin, het ek die wêreld deurgereis sodat ek vir myself kon sien hoe die Prado gebruik word in die markte waarin dit bemark word. Ek het gevind dat die voertuig gebruik word in die ekstreme, 50 grade-plus hitte van dorre woestyngebiede sowel as die humiditeit en digte plantegroei van tropiese oerwoude. Dit het my ‘n ware besef gegee van die hoë vlak van veldryvermoë wat van hierdie voertuig vereis en deur die Prado-klant verwag word.
Ek het ook gevind dat selfs in daardie dele waar goeie grond- en teerpaaie die norm is – waar die Prado as ‘n gesinsvoertuig gebruik word – daar ‘n sterk vraag is na uitstekende verrigting van die pad af. Hierdie eienaars kan moontlik hul voertuie net ‘n paar keer per jaar gebruik vir veld- en bosvakansies of om na ski-oorde te reis, maar hulle verwag nog altyd ‘n hoë vlak van veldryverrigting. Hulle vereis die gemoedsrus wat spruit uit die Prado se reputasie vir betroubaarheid en duursaamheid, sowel as ‘n uitstekende veldryvermoë ingeval hulle dit nodig sou kry – selfs al maak hulle nie normaalweg gebruik van die volle vermoëns van die voertuig nie.
Met hierdie behoeftes en vereistes in gedagte het ons baie van die klem in hierdie nuwe voertuig geplaas op die verbetering van die Prado se veldryvermoë deur die toepassing van nuwe tegnologieë.
Ons navorsing het ook getoon dat wat baie kopers nie net ware veldryfunksionaliteit wil hê nie, maar ook funksies wat onervare veldryers kan help met hul bestuurstegniek. In hierdie nuwe model het ons wat ons “Multi-terrain Select” noem, geïnkorporeer. Dit neem jou deur die bedryfsprosedures en beheer die voertuig op die meeste gepaste wyse.
Wanneer een van vier modusse gekies word – rotsagtige of bulterige terrein, en los gruis of sand en modder – gee die voertuig aanwysings wat maklik is om te volg, selfs vir onervare bestuurders, terwyl die toepassing van krag en remkrag terselfdertyd toepaslik beheer word.
Die mees betekenisvolle sleutelfrases vir die nuwe Prado is “veldry” en “gerief waarop jy kan staatmaak”. Hierdie nuwe model erf uit die aard van die saak die bewese kenmerke wat sinoniem met die Land Cruiser-handelsmerk is en dit is wat ons wil beklemtoon met die woord “veldry”. Die frase “gerief waarop jy kan staatmaak” druk die groter gevoel van gerief uit wat met die daaglikse gebruik van die voertuig vereenselwig word, insluitende sy verrigting op die pad, binnegerief, rygehalte en uitstekende nuts- en gebruikswaarde.
In ‘n voertuig se verrigting op en van die pad af moet teenstrydige elemente met mekaar versoen word. Byvoorbeeld, in veldry het jy die situasie dat, hoe groter die beweging van die wiele, hoe beter die veldryvermoë van die voertuig. Hierteenoor het jy die situasie dat, vir ritte op gewone paaie, sulke groot bewegings van die wiele tot groter rolgeneigdheid lei, wat op sy beurt ‘n negatiewe uitwerking op voertuigstabiliteit het.
Die algemene opvatting is dat dit moeilik is om goeie verrigting van die pad af en goeie padeienskappe in dieselfde voertuig te bewerkstellig. In hierdie nuwe model het ons egter daarin geslaag om die skynbaar teenstrydige elemente nie net te versoen nie, maar daarop te verbeter.
Een tegnologiese aspek wat help om dit moontlik te maak, is Toyota se Kineties-Dinamiese Veerstelsel (KDSS, ofte wel Kinetic Dynamic Suspension System), wat vir die eerste keer in die Land Cruiser 200 bekend gestel is. Hierdie stelsel beheer die doeltreffendheid van die voorste en die agterste stabiliseerders vir die geskikste veerstelselverrigting vir die heersende toestande. Die KDVS wat in die Land Cruiser 200 gebruik word, is ‘n meganiese weergawe, terwyl dié van die Prado ‘n elektronies beheerde ontwikkeling van daardie stelsel is. Dit bied ‘n baie meer verfynde beheer.
Die Prado se KDVS verleen uitstekende rygerief en -stabiliteit in alle bestuurstoestande, van veldry tot ritte op teerpaaie. Eienaars sal beïndruk wees met die feitlik “magiese” vermoëns van die stelsel.
Daar is ‘n toenemende neiging om sportnutsvoertuie te vervaardig met ‘n eenheids-, of skulpkonstruksie. Dit word aangespoor deur die toenemende gewildheid van premium-SNV’e. Ek reken dit kan van nut wees in gebiede waar mense hul voertuie selde in ware veldrytoestande gebruik en waar hulle hoofsaaklik op goeie paaie ry. Die Prado is, in die ware Land Cruiser-tradisie, nie net bedoel om op paaie bestuur te word nie. Dit word op groot skaal in opkomende en ontwikkelende lande gebruik, sowel as in afgeleë gebiede waar nuwe hulpbronne ontwikkel word, gevolglik is dit noodsaaklik dat die Prado gebaseer is op ‘n raamtipe struktuur wat voordele bied ten opsigte van betroubaarheid, duursaamheid en gehardheid.
Baie mense meen dat ‘n sportnutsvoertuig met ‘n raamtipe struktuur nie dieselfde rygerief bied as een met ‘n skulpkonstruksie nie. In die Prado het ons egter die rygerief verbeter deur die raam en die bak te versterk. Deur dit te doen, was ons ook in staat om voldoende veerstelselbeweging te bewerkstellig, wat die rygerief op groot skaal verbeter deurdat skokke van die padoppervlak geabsorbeer word.
Eerder as om die raamtipe struktuur te beskou as sinoniem met veldrygebruik, het ons die verrigting op die pad betekenisvol verbeter deur volle gebruik te maak van die glanspunte van ‘n raamgebaseerde SNV – betroubaarheid, duursaamheid en gehardheid.
Toe ons begin met die ontwerp van die nuwe Prado, het ons besluit om nie juis die afmetings van die huidige voertuig te verander nie. Die bestaande afmetings maak die voertuig maklik om te hanteer en is gewild by eienaars. Met hierdie beperking het die ontwerpers uiters hard moes werk om ‘n nuwe gevoel vir die voertuig te skep – ‘n voorvereiste vir die ontwerp. Die span het ‘n groot klomp werk ingesteek, maar dit was die moeite werd, aangesien een van die aanvanklike ontwerpvoorstelle besonder opwindend was en goed ontvang is in navorsing wat ons in Europa, die Nabye en die Midde-Ooste en in Australië gedoen het. Die uitslag van die navorsing het getoon dat ons heel vroeg in die ontwerpproses ‘n byna perfekte ontwerp geskep het.
Die sleutelwoorde vir hierdie ontwerp was “Intelligent en Modern”. Ons het ‘n styl gevisualiseer wat ewe tuis sou wees in die strate van Parys as die woestyne van Marokko. Uit ‘n persoonlike oogpunt gesien, is dit die buite-ontwerp van ‘n voertuig wat eerste my oog vang wanneer ek ‘n voertuig vir myself kies. As die buite-ontwerp nie vir my aantreklik is nie, kyk ek nie verder nie. Met ander woorde, dit maak nie saak hoe hard jy aan die res van die voertuig werk nie. As die voorkoms van die voertuig nie die kenmerkende eienskappe en die verrigting uitdruk nie, sal die klant nie belang stel nie.
Met die sleutelfrase “gerief waarop jy kan staatmaak” in gedagte, het ons besndere aandag bestee aan die funksionaliteit van die sitplekke, asook die doeltreffende benutting van die binneruimte.
Vir die tweede ry sitplekke in die sewesitplekvoertuig het ons inklim- en skuiffunksies gekies, en ‘n 40:20:40-verdeling van die rugleunings. As die derde ry sitplekke in die huidige model benut word, gebruik die passasiers ‘n tuimelmeganisme om in te klim. In die nuwe model skuif die passasiers bloot die tweede ry sitplekke vorentoe deur ‘n inklim-hefboom te gebruik. Om dit sitplekke na hul oorspronklike posisie te verstel, is net so maklik, wat die gebruik van die derde sitplekry aansienlik meer gebruikersvriendelik maak.
Voorts, as die derde ry sitplekke nie gebruik word nie, kan die beenruimte van die passasiers op die tweede ry baie maklik vergroot word bloot deur die sitplekke heeltemal agtertoe te skuif.
Wanneer hulle nie gebruik word nie, word die sitplekke heel agter in die vloer weggebêre. Boonop het ons die gerief van die agterste twee sitplekke aansienlik verbeter. Ons het die vloer met 50 mm laat sak om die afstand tussen die sitplekkussing en die vloer te vergroot, gevolglik hoef die agterste passasiers nie langer met hul knieë opgedruk teen hul bors te sit nie.
Meer as ‘n halfeeu het verstryk sedert die eerste geslag van die Land Cruiser sy debuut in 1951 gemaak het, en meer as 25 jaar sedert die Prado in 1984 as die Light Duty 70 Series bekend gestel is. Sedertdien het die Prado oor die hele wêreld bekend geword en vandag word hierdie Toyota in meer as 170 lande verkoop. Ek glo die grootste faktor in sy welslae is sy status as lid van die Land Cruiser-familie. Met die vierde geslag van die Prado het ons ‘n voertuig ontwikkel wat, glo ons, groter sukses sal behaal as die uiters gewilde huidige model.
In die markte waarin die Prado verkoop word, word wyd uiteenlopende vereistes aan die voertuig gestel. Die uitdaging was om al daardie vereistes te bevredig met ‘n voertuig wat in die geheel aan almal voldoen. Die oogmerk deur die hele ontwikkeling van die huidige model was om ‘n voertuig te skep wat beter as ‘n spesifieke mededinger sou wees. Dit is bereik ten opsigte van verkope en hierdie jongste model sal, as die voorloper in die klas, nog hoër standaarde stel.
Ons het die gerief van die voertuig grootliks verbeter – veral wat die tweede en die derde ry sitplekke betref – om te voldoen aan die verwagtinge van kopers in die groot passasiersvoertuigmark. Ons het ook die bagasieruim makliker gemaak om te gebruik. Dit, tesame met die omvattende reeks toerusting wat aangebied word, beteken dat die Prado voldoen aan die vereistes in die verskillende markte waarin dit te koop aangebied word.
Ook, deur die platform te verbeter, het ons die Prado se hantering en stabiliteit grootliks verbeter, terwyl ons ook die verrigting van die pad af verfyn en die rygehalte tot ‘n nuwe vlak opgestoot het.
Ons wou die nuwe Prado ‘n stylvolle voorkoms gee wat dit ewe tuis sou maak in die strate van Parys as in ‘n dorre woestynomgewing – ‘n bekwame veldvoertuig met ‘n tikkie wêreldstad-sofistikasie; ‘n voertuig wat goed lyk selfs al is dit morsig vuil. Net so het ons die kajuit ontwerp om die krag en sterkte van ‘n veldvoertuig te weerspieël, terwyl dit terselfdertyd ‘n gevoel van intelligensie, sofistikasie en verfyning oordra.
Makoto Arimoto
