Suzuki maak gereed om die kleinmotorsegment tromp-op te loop met die opwindende nuwe Alto – die maatskappy se strategiese wêreldmotor met vlakke van styl, verrigting en doeltreffendheid wat tot dusver ongekend in die segment was.
“Die Suzuki Alto koppel kopdraai-stilering en gebruiksvriendelike stadsmobiliteit aan uitstekende verrigting, puik brandstofdoeltreffendheid en lae CO2-uitlaatvlakke,” sê Kazuyuki Yamashita, besturende direkteur van Suzuki Auto Suid-Afrika.
“Die motor is pasgemaak vir die lewenstyl van die hedendaagse motorryer, en spreek ook die toenemend belangrike, wêreldwye behoefte na omgewingsvriendelikheid aan. Ondanks sy kompakte afmetings is die Alto besonder goed verpak, en bied boonop indrukwekkende ruimte en gerief.”
Yamashita voeg by dat die Alto een van die prettigste stadmotors is om te bestuur, wat sorg dat die luikrug ’n gepaste ambassadeur is van Suzuki se ‘Way of Life!’-filosofie.
Suzuki Alto
Uit ’n internasionale perspektief beskou is die Alto die tweede model in die tweede fase van Suzuki se wêreldstrategie – ’n konsep wat daarop gerig is om motors te vervaardig wat gebruiksvriendelik is en uitgebreide vervoermoontlikhede aan gesinsmense bied.
Die Alto bied nie net hoë vlakke van gemak en gerief nie, maar word ook onderskei deur ’n ontwerp wat ’n sportiewe, Europees-gerigte voorkoms aan besonderse lugdinamika koppel, en sodoende sorg dat die nuwe Alto een van die aantreklikste klein motors is.
“Die Alto weerspieël die ongeëwenaarde kennis van klein motors wat wêreldwyd soveel welslae in dié segment aan Suzuki besorg het,” sê Yamashita. “Die doelwit is om ’n jaarlikse afset van 60 000 eenhede in Europa te bereik wanneer die motor in April aanstaande jaar daar op verkope gaan.
“Ons verwag dat die Alto ’n merkbare impak op die uiters belangrike kleinmotorsegment sal hê wanneer dit in die derde kwartaal aanstaande jaar in SA bekend gestel word. Dit sal ’n dinamiese en opwindende vyfde model by ons beskikbare reeks Suzukis voeg, en ons bestaande SX4-, Swift-, Jimny- en Grand Vitara-modelle goed aanvul,” het hy afgesluit.
Suzuki Alto binneruim
Kompak en stylvol
Die Suzuki Alto is veral gerig op stadsmense wat ’n behoefte het aan ’n klein motor wat ook styl en rygenot bied, maar ook op omgewingsvlak uitblink.
Die Alto-konsep wentel om Suzuki se geloof dat motorry ekonomies en omgewingsvriendelik kan wees sonder om styl, gerief, verrigting of praktiese eienskappe prys te gee.
’n Bepalende aspek van die Alto se aantrekkingskrag is sy sportiewe voorkoms. Die ontwerp is tegelyk elegant en energiek, met die bykomende voordeel van dat die vorm ook lugdinamies is: die Alto se sleursyfer beloop Cd 0,30. Dit dra by tot laer brandstofverbruik en uitlaatgasvlakke.
Die leeue-aandeel van die kajuit se beskikbare ruimte word aan die voorsitplekke afgestaan, maar daar is steeds genoeg plek vir vier volwassenes. En ondanks die motor se kompakte afmetings bied die standaarduitleg steeds heelwat bruikbare laairuimte agter die agterste sitplek.
Die laairuim kan aansienlik vergroot word deur die agtersitplek se rugleuning plat te vou, wat uiteraard ook tot die veelsydigheid van die motor bydra.
Doeltreffende verrigting
Die Suzuki Alto word aangedryf deur ’n eenliter-driesilinderenjin met meerpunt-brandstofinspuiting. Die kragbron is lig en kompak, met lae wrywingskenmerke.
Maksimumkraglewering beloop 50 kW by 6 000 r/min, terwyl die wringkragpiek op 90 Nm by 4 800 r/min te staan kom. ’n Gladskakelende vyfgang-handratkas is standaardtoerusting.
Danksy die doeltreffende ontwerp van die gevorderde enjin, wat aan die jongste Euro 5-standaarde voldoen, is die brandstofverbruik ’n uitstekende 4,5 liter/100 km terwyl die CO2-uitlaatvlakke ’n skamele 103 g/km beloop.
Suzuki het sy motorsportervaring ingespan om die Alto met die soort hantering toe te rus wat vir hope rygenot sorg. Die bestuurservaring is boeiend en bekoorlik, met liniêre reaksies, matige rolbewegings, ’n ligte stuurgevoel en goeie skok- en vibrasiedemping.
Dié puik padgedrag is die gevolg van ’n gevorderde voorveringstelsel, wat van MacPherson-stutte, ’n uiters stywe veringraam en verdere versterking van die stutmonterings gebruik maak om uitnemende hantering te bewerkstellig.
Die agtervering koppel Suzuki se eie starre drieskakelas aan kronkelvere en skokbrekers wat spesifiek vir die bes moontlike hantering en stabiliteit ingestel is. Die veringstelsel is ontwikkel na ’n indringende toetsprogram op Europese paaie.
Om volmaak by sy stedelike rol te pas, het die Alto ’n minimum-draairadius van net 4,5 meter wat dit besonder maklik om die motortjie in selfs die nouste gapings te beweeg en te parkeer.
Veiligheid uit die boonste rakke
Die onwrikbare vlak van veiligheid waarvoor Suzuki se bestaande reeks voertuie reeds bekend is, is ook na die Alto oorgedra, terwyl nuwe kenmerke spesifiek vir die nuweling ontwikkel is.
Die Alto se bak weerspieël Suzuki se sogenaamde Geheel Doeltreffende Beheer-Tegnologie, ’n konsep wat met ’n uiters sterk passasier-veiligheidsel begin, en verder onderskraag word deur frommelstrukture wat botsingsenergie kan absorbeer, asook raambene wat die botsingsenergie van die insittendes wegvoer.
Die gebruik van uiters hoë-sterkte staal vir die belangrikste bakonderdele beteken dat die gevolglike hoë vlak van beskerming vir die insittendes behaal word sonder om onnodige massa by te voeg. Energie-absorberende afwerkings op die pilare bied verderde beskerming teen kopbeserings.
Hoewel die spesifikasievlakke vir modelle wat plaaslike aangebied sal word eers nader aan die bekendstellingsdatum vasgestel sal word, beskik die Alto oor ’n volledige stel veiligheidskenmerke. Daaronder tel twee lugsakke voor, ISOFIX-ankerpunte vir kindersitplekke, en ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding.
Kopers kan ook heelwat toegevoegde waarde verwag, wat onder meer ’n lang lys gemak- en geriefkenmerke aan ’n mededingende prysstruktuur sal koppel. Dit sal gepaard gaan met ’n volledige eienaarskap-ervaring wat nuwe standaarde in dié segment sal stel.
