Veldrenreeks sal provinsiale koffers vul

Vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap sal weer eens goed berese lyk en sal belangrike bydraes tot die provinsiale gemeenskapskoffers regoor Suid-Afrika maak.

Die agt byeenkomste waaruit vanjaar se kampioenskap bestaan, sal in sewe verskillende provinsies asook in Botswana aangebied word. Daar word bereken dat rondes van die Absa-kampioenskap ‘n meevaller van meer as R3 miljoen vir plaaslike regerings en gemeenskapsfinansies beteken.

Die Adenco 400, wat by Darling in die Wes-Kaap gebaseer sal wees, sit die bal op 20 en 21 Maart aan die rol. Adenco, ‘n Kaap-gebaseerde elektriese diensleweringmaatskappy, is ‘n nuwe borg vir die Absa-kampioenskap.

Die eerste ren van die seisoen sal deur die Oos-Kaap 400 by Jeffriesbaai en die Nissan Sugarbelt 400 by Eston in KwaZulu-Natal opgevolg word. Die enigste maratonbyeenkoms op die kalender, die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren, sal in Junie oor drie dae in Botswana plaasvind en bring ‘n internasionale geur na die kampioenskap.

Die oorblywende vier byeenkomste – die Sun City 400, die Limpopo 400, die Toyota-handelaars 400 en die RFS Magalies 400 – sal in die Noord-Wes Provinsie, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng plaasvind. Die renne sal ook deur ses versillende motorsportklubs georganiseer word.

“Die Absa-Veldrenkampioenskap het ‘n gesonde basis en is een van die mededingendste kampioenskappe van sy soort in internasionale motorsport,” het die president van Motorsport SA se Veldrenvoertuigkommissie, Richard Schilling, gesê. “Een van die reeks se sterkpunte is die verskeidenheid van byeenkomste en die verspreiding van renne regdeur Suid-Afrika.

“Die Botswana-byeenkoms beskik oor ‘n spesiale plek in die kampioenskap en ons sien weer eens uit na ‘n seisoen waar titelkwessies in beide die Spesiale Voertuig- en Produksievoertuigkategorieë eers teen die einde van die seisoen gefinaliseer sal word.”

Die Absa-Veldrenkampioenskap sal moontlik ook ‘n hupstoot van die Suid-Afrikaanse suksesse tydens die onlangse Dakar-ren in Chilie en Argentinië ontvang. Giniel de Villiers het die byeenkoms in ‘n VW Ren-Touareg gewen met navigator Ralph Pitchford tweede in nóg ‘n fabrieks-Touareg saam met die Amerikaner, Mark Miller.

Twee Nissan Navara-spanne, wat by Nissan Motorsport se hoofkantore in Midrand ontwerp en gebou is, het vierde en vyfde klaargemaak. Die vierdegeplaasde Nissan het aan die Noorweër, Ivar Tollefsen en die Brit, Quin Evans, wat die afgelope twee jaar aan die Absa-kampioenskap deelneem, behoort.

Lewer kommentaar

Leave a Reply