Die 2009-Absa-Veldrenkampioenskap sal wegspring met ‘n nuwe borg vir die eerste byeenkoms van die seisoen, die Adenco 400 wat op 20 en 21 Maart in die Wes-Kaap plaasvind.
Die 2008-seisoen het met ‘n nuwe byeenkoms, die RFS Magalies 400, afgesluit en die nuwe seisoen skop op ‘n soortgelyke noot af. En, soos die geval met die RFS Magalies-byeenkoms, word die Wes-Kaap-ren deur ‘n organisasie ondersteun wat sterk bande met veldrenne het.
Bes Bezuidenhout, ‘n stigterlid van Adenco Construction in Kaapstad vroeg in die 90s, is vir baie jare een van die staatmakers in veldrenne. Bezuidenout en sy navigator, Johann de Bruyn, het Klas B laas jaar tydens dié byeenkoms gewen toe dit as die Nissan-handelaars 400 bekend gestaan het.
Bezuidenhout se twee seuns, Johan en Etienne, het in sy veldrenvoetspore gevolg en het goeie suksesse aangeteken. Dié paar het laas jaar die Klas P-kampioenskap in die Adenco-BAT gewen.
Adenco Construction spesialiseer in die verskaffing, installering en ingebruikneming van medium- en ligte-spanning elektriese netvormige verdelingsnetwerke. Die maatskappye voorsien, installeer en onderhou straat- en sportveldbeligting.
Ander terreine van hul kundigheid sluit die voorsiening van arbeid vir langtermynkontrakte in asook die ontwerp, verskaffing en installering van rekenaardatanetwerke, -toerusting en -sagteware. Die verskaffing van elektriese komponente vir projekte is ook ‘n Adenco-spesialiteit en die maatskappy is betrokke by die ontwikkeling van die Groenpunt-Stadion, ‘n stadion vir die 2010-Wêreldbeker, en die Oubaai- en Tsitsikamma-gholfbaanoorde.
‘n Sustermaatskappy handel ook in Tanzanië en daar is Adenco Construction-takke in Knysna en Vredenburg. Die maatskappy se kliëntebasis sluit Regeringsdepartemente in asook plaaslike regeringsowerhede, eiendomontwikkelaars, privaatmaatskappye en individue.
“Deur die jare het die Bezuidenhout-familie, tesame met Johann de Bruyn, groot vreugde uit veldrenne geput,” het Bezuidenhout gesê. “Die strawwe kompetisie, die kameraderie en die hope pret wat ons in die bos het, kan nie geklop word nie.
“Soos Chris de Plooy van RFS Holdings, het ons besluit dat dit tyd is om iets in veldrenne terug te ploeg. Die eindresultaat is die Adenco 400 en ons sien uit na ‘n ongelooflike byeenkoms en natuurlik sal ons dit graag weer wil wen.”
Die president van Motorsport SA se Veldrenvoertuigkommissie, Richard Schilling, het gesê Adenco se besluit om die Wes-Kaap-byeenkoms te borg, word verwelkom.
“Die kommissie waardeer die Adenco-besluit baie,” het Schilling gesê. “Met Absa as ‘n toegewyde algehele borg en met ongelooflike ondersteuning van ons ander vennote, Ford, Nissan en Toyota en byeenkomsborge, het die kampioenskap nog altyd op vaste fondamente gestaan.
“Noudat organisasies soos RFS en Adenco aan boord gekom het, is die Absa-reeks sterker as ooit.”
Die hooforganiseerder van die Adenco 400, Bill Bright, het gesê die borgskapooreenkoms het aan die byeenkoms, wat weer in die Darling-omgewing aangebied gaan word, ‘n hupstoot gegee. Hy het bygevoeg dat hulle besig is met die afrondingswerk aan die roete wat weer eens ‘n strawwe toets vir Spesiale- en Produksievoertuigkategoriedeelnemers sal wees.
“Die roete sal heel moontlik nuwe gedeeltes wat nog nie vantevore gebruik is nie, insluit en sal straf wees,” het Bright gesê. “Die borgskappakket bied aan ons ‘n paar nuwe opsies en ons sal dit goed gebruik.”
skrywer: Charmaine Fortune
