Tarlton, Saterdag 7 November 2009 – Die pa- en seun-jaers Nick en Ryan Harper het die 2009-seisoen op ’n hoë noot afgesluit toe hulle die Spesiale Voertuig-afdeling in die RFS-Magalies 400, die laaste ronde van vanjaar se Absa-veldrenkampioenskap, wat Saterdag by die Tarlton-renbaan geëindig het, gewen het.
Die Harpers was voor die ren net een punt voor Shameer Variawa en Siegfried Rousseau in hul Total-Porter. ’n Stukkende koppelaar in die eerste van die twee rondtes waaruit die roete bestaan het, het Variawa en Rousseau, wat uiteindelik ver agtertoe geëindig het, gekelder.
Die Harpers het egter ook ’n groot skrik reg aan die einde gehad toe hul motor teen ’n steil opdraande gaan staan en die enjin geweier het om te vat.
“Ons het ’n paar ongemaklike oomblikke gehad voordat die enjin uiteindelik lewe gekry het,” het Harper senior gesê. “Dit was ’n goeie manier om die seisoen mee af te sluit, maar dit was ’n moeilike ren.”
Die Limpopose jaers Naeem Moosajee en Feroz Doodha was tweede oor die wenstreep. Hul Tyre Rack-Jimco het by die eindpunt maar siekerig geklink, maar ’n bestendige rit het hulle met ’n voorsprong van ’n stewige drie minute voor Johan van Staden en James Rossouw in hul KEC-BAT laat eindig.
Van Staden en Rossouw het Klas P in wat uiteindelik hul heel eerste nasionale kampioenskap was, gewen. Die verdedigende Klas P-kampioene, Johan en Etienne Bezuidenhout, was vierde in hul Adenco-BAT, terwyl Boela Botes en Johan Pretorius (Botes Vervoer-BAT) die top-vyf in hul beste uitslag van die seisoen afgerond het.
Die Bezuidenhout-vertoning het dié Kaapstadse broers hul tweede agtereenvolgende Klas P-kampioenskap besorg. Hulle was voor die ren net een punt voor nog twee broers, David en Gary White, wat in die Ruwacon-BAT jaag.
Dit was egter ’n nagmerrie-naweek vir die White-broers. Hulle kon nie die voorren waarin die wegspringposisies bepaal word, voltooi nie, en die hoofren self was nie veel beter nie.
Die KwaZulu-Natalse jaer Don Thompson (Zarco) was voor die ren net vyf punte agter in die jaerskampioenskap, maar sy derde posisie in die klas met die hulp van sy navigator, Hjalmar von Gessellen, was nie genoeg om toe te sien dat Thompson by die agterdeur inglip nie.
Die Kaapse jaers Derrick du Toit en Ian Pienaar het hul vyfde Klas B-oorwinning van die seisoen in hul Orange Tree-BAT beklink. Dié oorwinning het die Klas B-navigatorskampioenskap vir Pienaar, wat nie volgende jaar sal deelneem nie, verseker.
Die enigste ander Klas B-span wat die wenstreep gehaal het, was Johan de Klerk en Louis Pretorius in ’n Zarco, wat weer hope deursettingsvermoë ten toon gestel het. Die Makenete-broers Keith en Andrew is die naaswenners in die kampioenskap, hoewel hulle nie die ren in hul Zarco voltooi het nie.
bydrae: Charmaine Fortune
