Regisseur Robert Zemeckis hou daarvan om bekende akteurs in animasiekarakters te verander, sy vorige twee films was Beowulf (2007) en The Polar Express (2004).
Ek is nou nog nie gewoond aan die tegniek nie. Die tipe karakters lyk gewoonlik asof hulle iets in gemeen het met zombies. Tot voordeel van A Christmas Carol is Jim Carrey in die hoofrol van Ebenezer Scrooge. Mens is so gewoond daaraan dat die man sy gesig op allerhande maniere verwring dat dit jou ‘n tydjie vat om te besef dit is nie grimering nie, maar ‘n animasieweergawe.
Die kombinasie van Carrey en die spesifieke animasietegniek werk uiters goed saam om uitdrukking te gee aan Dickens se karakter. Die geanimeerde Scrooge toon ongekende diepte – wat besonder indrukwekkend is as jy in ag neem dat Carrey ook die rolle van die drie geeste vertolk. Carrey klink weer asof hy ‘n oorgelaaide bol energie is, soos destyds in In Living Colour.
Robert Zemeckis slaag daarin om getrou te bly aan die oorspronklike teks en steeds die massas te bekoor met hierdie sterbelaaide produksie. Luister ook vir die stemme van Bob Hoskins, Gary Oldman, Colin Firth, Cary Elwes en Robin Wright Penn.

A Christmas Carol is nommerpas vir die vakansie.
Regisseur: Robert Zemeckis
Met: Jim Carrey, Bob Hoskins, Gary Oldman, Colin Firth, Cary Elwes & Robin Wright Penn
3½ / 5
bydrae: JM
6 November 2009
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)