Ervaar die Suzuki-lewenstyl

Suzuki is wêreldwyd bekend as ‘n vervaardiger van opwindende en dinamiese rygoed – op twee en vier wiele.

Onder die Suid-Afrikaanse kooppubliek is dit veral dié maak se blitsige, markbepalende tweewiel- en vierwielmotorfietse, wat Suzuki as ‘n wennaam gevestig het deur voortdurend onder die topverkopers in hul onderskeie segmente te tel.

Suzuki-sportnutsvoertuie soos die vorige Vitara en die Grand Vitara, asook die oulike SJ en Samurai, is lankal nie meer in SA beskikbaar nie, maar geniet steeds getroue ondersteuning vanweë hul vermoë om enige terrein baas te raak, en boonop hul waarde te behou.

Maar met die stig van Suzuki Auto SA word ‘n nuwe hoofstuk vir die Suzuki-handelsmerk plaaslik oopgeslaan.

Terwyl daar steeds op die welslae van Suzuki se bestaande produkreekse in SA voortgebou word, sal die maak se toetrede tot die plaaslike motormark ongetwyfeld vir bykomende momentum sorg. Daarbenewens spog die maatskappy met ‘n beeld wat Suzuki beslis bo die norm in die motorbedryf laat uitstyg.

“Suzuki is op internasionale vlak vasbeslote om teen 2020 die wêreld se nommer een-mobiliteitsmaak te word,” verduidelik Charl Timms, Hoof van Verkope en Bemarking by Suzuki Auto SA.

“Aldrie ons afdelings – motors, motorfietse en mariene produkte – werk ten nouste saam om die sterk, aantreklike beeld van die Suzuki-maak ten beste te benut. Ons is terselfdertyd besig om die toekomsrigting en welslae van die maatskappy te bepaal.”

Hierdie strategie word treffend deur Suzuki se ‘Way of Life’-slagspreuk uitgedruk. Dit benadruk dat die maatskappy innoverend en progressief optree, en produkte ontwikkel wat nie net duursaam en betroubaar is nie, maar ook puik verrigting, uitstekende waarde en pure genot as sleutelbestanddele bied.

Suzuki se filosofie balanseer rasionele en emosionele elemente. Rasionele besluitnemers beskryf Suzuki as ‘reguit en eerlik’, en as ‘n maatskappy wat ongekende ‘waarde’ bied. Die meer emosionele raakpunte sluit ‘sportief’ en ‘geesdriftig’ as bepalende faktore in.

Saam onderskraag dié elemente Suzuki se kernwaarde: opwinding. Dit is ‘n kernwoord wat die hele Suzuki-organisasie betrek, en wat ook ‘n sleutelrol in elke Suzuki-produk speel.

“Suzuki se oogmerk is om mobiliteit ‘n werklikheid te maak deur ‘n volledige, besielde en aantreklike produkreeks te bied wat in elke vervoerbehoefte van ons klante voldoen,” voeg Timms by.

Die tydsberekening van Suzuki Auto SA se plaaslike bekendstelling is besonder gepas. Dit val mooi saam met Suzuki se doelbewuste strategie om nie net as ‘n nisverskaffer beskou te word nie, maar om wêreldwyd ‘n hoofspeler in die motorarena te word.

Die unieke werkverrigting, voorkoms, spesifikasie en waarde-vir-geld van sy uitgebreide reeks voertuie sal egter steeds sorg dat Suzuki maklik van ander motorvervaardigers onderskei sal word.

Plaaslik pas Suzuki Auto SA se planne netjies by dié oorhoofse strategie in. Die maatskappy se aanvanklike modelreeks vir die SA mark bestaan uit die oulike Swift-luikrugmotor en die sportiewe SX4-kruisdoeler.

Maar dit is bloot die begin. Die aankoms van dié twee nuwelinge sal binne maande opgevolg word deur die langverwagte bekendstelling van die splinternuwe Grand Vitara-sportnutsvoertuig, en die kompakte Jimny 4×4.

“En dit is ook nie waar dit ophou nie. Ons opwindende produkplanne strek oor die volgende vyf jaar. Ons teikenverkope vir die res van vanjaar beloop sowat 2 700 eenhede, maar as al Suzuki se produkplanne waar word, verwag ons sterk verkopegroei wêreldwyd, en spesifiek in Suid-Afrika,” voeg Timms by.

“Ons glo dat ons klante uiteindelik Suzuki as ‘n uitblinkermaak sal beskou wat die beste waardepakket in die mark bied. Hulle sal Suzuki verbind met bekostigbare, opwindende, aantreklike en betroubare motors wat hoë vlakke van verrigting, buitengewone gehalte en uitstekende herverkoopwaarde bied.”

Hierdie benadering sal ook deur Suzuki Auto se handelaarnetwerk benadruk word. ‘n Aanvanklike netwerk van 15 handelaars is reeds na ‘n indringende evaluasie- en keuringsproses aangestel.

Suzuki Auto-handelaars sal ‘n onomwonde, klantgerigte ervaring bied deur professionele verkope- en naverkopediens te lewer, gekoppel aan ‘n uiters mededingende produk en prysplasing.

Die unieke trefkrag van die Suzuki-naam, en die puik waarde-aanbod van sy groeiende getal modelle in ag, behoort daarvoor te sorg dat Suzuki Auto se doelwit om teen 2010 ‘n beduidende markaandeel in meervoudige marksegmente te geniet, haalbaar word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply