Die liefde is ´n Mondvol

Susan Coetzer-Moolman is een van ons land se talentvolste maar onbenutte aktrises. As Daisy de Melcker, Suid-Afrika se gifmoordenares wie se verhoor op 17 Oktober 1932 begin het, het sy die volk aan die praat gehad met beheersde, berekende en intense toneelspel. Trouens, Susan en sterk karaktergedrewe rolle is sinoniem al kan sy hulle op haar een hand uittel. In Meester (die Afrikaanse kleinood) was sy Ralie in ‘n storie wat handel oor ‘n gemeenskap en sy opbou na die Tweede Boere-Oorlog in 1902/03, haar professionele verhoogdebuut maak sy in Reza de Wet se Diepe Grond maar soos met die meeste van ons plaaslike akteurs, is daar min kontinuïteit en moet sy self skep om die drang aan uitdrukking en interpretasie te bevredig.

Daar is wel die werk as vryskut joernalis en rubriekskrywer vir tydskrifte soos Rooi Rose, Finesse en Maksiman wat sy baie geniet. Intussen is sy getroud met sanger/akteur Philip Moolman van Prins van Pretoria & Egoli-faam en saam het hulle ‘n unieke familiestempel op Gautengers afgedruk in die vorm van Die Blou Hond (Susan as hoofteef en Philip as hoofreun in hul webkennel) – ‘n naam wat hom uitleen tot allerlei woordspelings, veronderstellings en suggesties.

Susan Coetzer-Moolman is ´n bekroonde aktrise met drie Vita’s en ´n Artes (vir Meester) toekenning vir beide haar verhoog en televisie vertolkings. Sy skilder ook en haar werk is te sien by die teaterrestaurant se ‘kens gallery’.

Philip Moolman het bekendheid verwerf met sy rol in Egoli (as André Vorster), Sonkring (Neil Macdonnald) en die romantiese held in Die Prins van Pretoria. Maar hy is in hoofsaak sanger en liedjieskrywer en toer reeds vir meer as twaalf jaar met sy eie komposisies sowel as die Neil Diamond vertoning Diamond is Forever.

Met die vrystelling van sy derde album, is Philip in 1999 deur KEUR aangewys as sanger van die jaar. Hy het ook opspraak gemaak na sy veelsydige aanbiedinge op Geraas en Maak ‘n Las waartydens hy verskeie sangers en kunstenaars komies en geloofwaardig nageboots het.

Die onderhoud is per e-poot gevoer en hoofsaaklik met Susan om saam te val met 17 Oktober 1932 (die dag toe Daisy de Melker se verhoor in Pretoria begin het) en daarom kan ek dus nie my indrukke van hulle (nuwe) webkennel en hartstog vir mekaar met Roekeloos lesers deel nie. Die intro hierbo is geskryf voor die onderhoud en die menings daarin vervat is uitsluitlik dié van die onderhoudvoerder.

Eerstens wou ek by hulle weet waarom die naam Die Blou Hond? Die liefde is tog nie blou nie (of is dit.)?

Philip & Susan: Die woord blou hond is nie intellektueel “ontleed” as ´n betekenisvolle naam vir ons restaurant nie. Dit het net spontaan van nêrens op die tong gespring. Daarna het ons 300 name op ´n lys geskryf en ontleed. Nie een het so reg geproe soos Die Blou Hond nie. Soms moet ´n mens nie te veel vrae vra as “magic” gebeur nie. Net dankie sê. Maar noudat ek die woorde moet ontleed: Die slimmes sê die kleur van jou kreatiewe chakra is blou, dit sit daar by jou keel waar jy express. Die Blou Hond is ´n kreatiewe projek van ons hele gesin. Die geel of rooi hond klink vir my nie soos ons blou hond nie. Dis ´n ander man se hond. Dit is ook ´n liefdesprojek. En die liefde is baie kleure. Baie keer blou op ´n Blou Maandag.

Haydee: Wat was die dryfveer agter Die Blou Hond?

Susan & Philip: Ons was pas getroud toe ons besef dis ontwrigtend op ons gesinslewe om baie te toer. En as ek of Philip of Frankie tuisbly, dan voel dit net so sleg oor ons hegte bande. Toe besluit ons om dapper te wees en ons hartslewe eerste te stel en oorwegend net werk te aanvaar in en om Johannesburg / Pretoria. En toe word ons besluit getoets. Werk het deur die mat geval, daar was nie werk in die toekoms nie, ons kar is gesteel, daar was ´n inbraak. You name it. Ons het die hele movie gesien. En uiteindelik ´n ernstige finansiële krisis beleef. Philip is platgeslaan deur depressie en sy “vis pak in Alaska” en “pyramid schemes” het my laat dink aan ´n hond wat sy eie stert jaag.

Ek wou nie na mense gaan met ons finansiële probleme nie- want die mens kan mos maar geniepsig wees- ek het wel onder die avokadopeerboom gaan sit en die hele dilemma met Die Groot Skepper uitgepraat. Sy antwoord was subtiel, maar baie DUIDELIK in die kleinskrif van ´n toiletboekie: “Do what you can with what you have where you are.” Die hele blou hond is so geinspireer en ontwikkel.

So die dryfveer agter Die Blou Hond was aanvanklik finansiële nood. Nou is die dryfveer daai kleinskrif: om ons talente binne die Blou Hond te bly ontwikkel, te vernuwe en uit te brei. (En onthou om vrygewig te wees met al jou seëninge wat jy ontvang.) Dis ongelooflik wat als gebeur as jy so begin leef. Daar bly net nuwe verskuilde talente kop uitsteek. Ek staan byvoorbeeld op die vooraand van my eerste solo kunsuitstalling by Zerk de Villiers Galery. Nie ´n talent wat ek voorheen eers bewus van was nie.

Haydee: Die Blou Hond het so vinnig uitgebrei dat julle in Januarie vanjaar na ‘n groter perseel moes skuif waar dubbel die hoeveelheid mense akkommodeer kan word?

Philip & Susan: Die teater-restaurant funksioneer slegs naweke, of meestal net naweke, maar kunstenaars van buite tree soms in die week hier op omdat hulle dan meer beskikbaar is. En ons maak ook ons deure in die week oop as iemand verjaar of ´n spesiale ekslusiewe funksie wil hou.

Haydee: Is dit moontlik om weer en weer lief te kry, jouself met oorgawe vir ‘n ander te gee?

Susan: Dit is sekerlik moontlik. Ons was albei voorheen getroud en ons kan tog nie sê die huwelike het in liefdeloosheid plaasgevind nie. Daar was beloftes en hoop. Maar daar is ‘n verskil as jy “Die Liefde” in jou lewe ontmoet. Dan is jy by die huis en gooi jy jou padkaarte na ander opsies weg. En as ons ongelukkig is (ons is soms) wil ons steeds eerder met mekaar “ongelukkig” wees. As Philip iets moet oorkom, sal ek kreatiwiteit my “lover” maak, eerder as om te dink ek kan hom met iemand ander vervang. As ek 18 was, was daar dalk nog hoop vir ander.

Philip: Ma ma, Marie, was met my pa, Gerrie (‘n Dominee) getroud. Toe hy doodgaan trou sy met Neels, ‘n treindrywer. Lyk my dit is moontlik, ja, maar dit is obviously nooit dieselfde nie. As Susan moet doodgaan is ek moer toe, dit weet ek. Ek sal maar ‘n budgie of goudvis of iets moet kry – anders sal ek dit nie maak nie. Maar ek sal haar waaragtig nooit ooit kan vervang nie.

Haydee: Is die liefde nie gif nie, ‘n magsspel?

Susan: Die liefde is als. Gif, ‘n magspel, ‘n ego battle. Dit krap jou soms erg om as jy in die “traps” beland, maar jy leer met tyd om die ander lekkerder kant van die liefde te soek en te geniet. Die anderkant is die hemelse “flow” waar twee mense saam dans op dieselfde streslose sensuele stasie. Dis die TEENGIF vir gif. En ek beveel dit sterk aan.

Philip: Dit is definitief ‘n drug. ‘n Lekker een. En ‘n magsspel, ja. Maar die trick is: hoe meer jy bereid is om te verloor, hoe meer wen jy.

Haydee: Wat maak van iemand ‘n goeie minnaar/minnares?

Susan: Oop kommunikasie en eerlikheid. Daar waar die liefde sonder blokke na mekaar vloei, daar raak die bed vuurwarm…

Philip: Wel, ek dink nie dit gaan oor hoe jy lyk, hoeveel jy spandeer, watter tricks jy ken, waarheen jy haar vat of wat jy alles doen nie, maar hoe jy haar laat voel. Ek moet my vrou laat voel sy is die mooiste ding op aarde en die enigste een vir my, en dat ek voor ‘n Putco-bus sal inspring vir haar, dan gaan die hemelpoorte vir my oop. As ek dit nie regkry nie, wel, dan weet ek my kommunikasie was alweer #@$&! Ek dink dinkwels sy is ‘n mind-reader.

Nee wat, ‘n mens moet maar leer om hierdie goed duidelik te kommunikeer. Ek probeer myself herinner: wat is die goed wat ék graag sal wil hoor? Dit is wat ek moet sê en wys dat ek dit bedoel. Al die lekker goed soos: Daar’s baie mense op aarde, maar daar’s net een vir my, en dis jy. Ek sal jou nooit los nie, al los jy my. Ek sal jou altyd liefhê. Ek het jou nodig. Ek wil net met jou vry. daai is die tipe goed wat die juices laat flow.

Haydee: Wat is julle definisie van die liefde? Wanneer weet jy dat jy liefhet?

Susan: Liefde is sekerlik vir almal iets anders. “Some say it’s a river, some say it’s a storm.” Vir my is dit al die elemente, al die seisoene, al die kleure. Die dag wat jy iemand liefhet, sal jy nie jouself vrae vrae nie, jy sal weet. Jy sal honderd persent seker wees- diep binne-in jou. Dis bekend en veilig, maar nie vervelig nie. Ek weet ek het Philip lief. Punt. Hy is my beste vriend op wie ek ook verlief is. En nou moet ek byvoeg, ek was al so woedend vir hom dat ek hom wou vermoor. Maar die liefde is altyd getrou teenwoordig, al is ek ook briesend en bewend. My liefde vir hom is instinktief, nie iets wat ek probeer analiseer nie. Ek is ook nie lief vir hom oor al die goeie dinge wat hy doen of is nie. Ek is net lief vir hom. Maak nie saak hoe die weer tussen ons is nie. Die liefde is in elke storm, in elke stil windlose dag.

Philip: Daar is nie ‘n definisie vir die liefde nie. Jy kan my maar net sowel vra om God te definieer. Niemand kon dit nog ooit regkry nie. Dis meer ‘n demonstrasie as ‘n definisie, dink ek. Jesus was ‘n goeie demonstrasie. So, ek imagine, as ‘n mens bereid is om alles te gee, selfs jou eie lewe, dan kom jy naby aan die ondefinieerbare definisie van liefde. Wanneer weet jy dat jy liefhet? Dit is as die dink-gedeelte van jou brein idioties-klein word en die voel-gedeelte geniaal groot word, en jy’s bang vir niks.

Haydee: Selfskep in dié bedryf is al meer aan die orde van die dag. Jy en Philip het die oorspronklike konsep van Die Blou Hond geskep en so pas het Elzabé Zietsman haar huis in ‘n boere-fusion restaurant omskep met die titel Zietsies. Kos en entertainment gaan hand aan hand en bied geleenthede vir spesialis teater en musiek. Maar dit laat mens tog met die vraag of ons dan nooit weer professionele akteurs op professionele verhoë met professionele geriewe gaan sien nie?

Susan: Dit sal wonderlik wees, dit wil sê as die publiek ‘n commitment maak om een keer ‘n week hul sepies en hulle TV meals te los en te sorg dat hulle ondersteuning bied aan die spesialiste. Wat is ‘n groot leë teater tog werd? Nou die dag hoor ek weer by ‘n bekende akteur wat aand na aand vir iets soos 17 mense in ‘n groot teater moet speel. Wat beteken al die professionele geriewe dan?? Mense raak al hoe meer ongewillig om hulle huise sonder ‘n BAIE goeie rede te verlaat (die kompeterende vermaak in die sitkamer en natuurlik die gevaar van misdaad buite die voorhek.) Daarom is ons baie dankbaar dat hulle wel hulle sterte by Die Blou Hond kom lig waar dit veilig en entertaining is.

Philip: Ons doen heerlike professionele werk hier by Die Blou Hond. As die werk daarbuite net so lonend en lekker kon wees sou ons dit oorweeg het, glo ek.

Haydee: Selfskep groepe is ook ‘n alternatief maar so ‘n groep moet bestaan uit goeie akteurs, goeie skrywers (vir die tailor-made stukke wat nie bestaan nie) én goeie regisseurs?

Susan: Beslis. Maar bums on seats is waaroor dit gaan om ook ‘n finansiële sukses daarvan te maak. En daar is nie baie “tailor made bums” in ons land nie. Daarom seker dan ook nie baie “tailor made” stukke nie. Vandaar die bose siklus. Dit maak tog sin?

Haydee: Strignien is kleurlose kristalpoeier. En die liefde?

Susan: Die liefde is als behalwe kleurloos!

Philip: Die kleur van liefde is lig. Helder, suiwer, seer en lekker, ‘n alles-ontblotende waarheidslig.

Ons beweeg bietjie weg van hul liefde vir mekaar na hulle (gesamentlike) liefde vir die teater, die verhoog. Die volgende paar vrae is gerig aan Susan.

Haydee: Susan, in 1990 was daar aanvalle in die pers oor Gone with the Wind in Afrikaans en hoe lang duur SAUK-TV reekse oor die Anglo Boere-Oorlog geregverdig kan word terwyl daar genoeg eietydse konflikte is wat ryp is aan ontleding en uitbeelding?

Susan: Ek het (gelukkig) nie daai koerant gelees nie. Ek kyk gereeld na oorsese movies wat afspeel teen die agtergrond van een of ander oorlog iewers in die wêreld. Dit beteken nie dat ek nie bewus is van hedendaagse issues en as kreatiewe persoon ook daaraan aandag gee nie. Soms wonder ek of mense nie maar net in die gewoonte verval het om “oorsensitief” te wees nie.

(Die koerant-artikel het gehandel oor die reeks Meester en die regverdiging daarvan) Haydee: Meester is interessant verpak. Daar is byvoorbeeld nie van flashbacks gebruik gemaak nie. Jy moes deur middel van spel die toestande in konsentrasiekampe vir kykers herskep?

Susan: Die akteur/aktrise se sterkste “tool” is sy verbeelding en die vermoë om in te leef. As die akteurs dit kan doen, kan die skrywer sonder flashbacks groter spanning en drama skep, glo ek. Ek self is nie ‘n groot flashback fan nie.

Haydee: Hoe is jou beskouing nou ten opsigte van die Boere-Oorlog na ‘n reeks soos Meester?

Susan: Ek is meer op die individu ingestel as op ‘n hele nasie. Oorlog op enige vlak, in enige land is altyd vir my ‘n lelike ding. Selfs al voel jy jy het ‘n sterk rede tot oorlogvoering, bloedvergieting, verloor almal altyd. Om mense wat jy nie ken nie en wat moontlik gaaf is, dood te skiet oor hulle deel van die “vyand” se identiteit is, bly vir my onmenslik. Daar was sekerlik nare Boere en gawe Engelse in die oorlog…. Maar nou moet ek byvoeg as iemand Philip of Frankie voor my oë doodskiet, mag ek dalk my “geestelike aanslag” verloor en van oorlog begin hou…

Haydee: Van die tonele in Meester gryp aan die hart soos toe jy ‘n kind uit draad moes haal en hom in ‘n kombers toewerk. In ‘n onderhoud sê jy “Ralie is by smart verby. Sy praat soos een wat klaar gehuil het.” Verduidelik?

Susan: As jy als verloor het, is huil aanvanklik die verligting vir die diep smart, maar dit bring gou nie meer die vertroosting wat jy eintlik soek nie: Dit bring die dooie kind nie terug nie. Ek dink die verlies kan so groot wees dat trane (hoe baie ook al) nie die smart verlig nie. Dis wat ek bedoel met by smart verby. Die dood van ‘n kind is “by smart verby”, dis ‘n emosionele plek wat nie ‘n naam in die woordeboek het nie.

Ek ervaar dit op die oomblik met ´n vriendin wat haar enigste kind (Frankie se maat) onlangs verloor het. Daar is baie gesigte van smart, die vriendin se smart is “by smart verby”, groter en verder as smart soos ons dit ken. Ralie was ook by smart verby. Klaar gehuil suggereer die emosionele doodsheid in Ralie se stem.

Haydee: Min is al vir die verhoog geskryf ten opsigte van die intelligente boere-vroue wat in huise opgesluit en vasgekeer was met die Bybel as voorskriftelike (en enigste) leesstof. Die moontlikhede vir dramaturge is legio: seksuele begeerte en onderdrukking, uitdrukkingsvermoë, geselskap. Meester het van die elemente en vrae aangespreek. Verstaan Venter begeertes (en vroue)?

Susan: Ek dink Paul is as skrywer baie in touch met vroue se emosies. Ek het ten tye van die reeks dit vir hom genoem. Hy’t ‘n telegram gestuur om dankie te sê! Ek dink regtig hy is een van die min mans in ons land wat ware vleis en bloed karakters vir vroue kan skep.

Haydee: Meester was jou eerste kennismaking met ‘n regisseuse – het julle ooit verskil oor interpretasie?

Susan: Nee. Eers het ek net met gespitste ore na Annie se regie geluister en als ingedrink oor Ralie. Maar ek het die karakter gou deel gemaak van myself en toe kon ek die rol instinktief net begin uitleef op die doek sonder te veel intellek en diskussies betrokke by die skietery.

Haydee: Ralie was nie mooi in Meester nie – hoe beeld jy sensualiteit uit met gebarste hande en lippe?

Susan: Sensualiteit lê baie dieper as gebarsde lippe en hande anders kan ons maar almal net Nivea of Palm Olive koop. Sensualiteit is ‘n ding onder die vel. Dis in die bloed. Ralie se bloed het niks makeer nie… dit was die regte temperatuur. Die grootste “pass” wat Philip maak, is wanneer ek op my lelikste lyk: My naels vuil en vol olieverf, my lippe droog van inspanning voor die doek, my oudste sweetpak aan. My suster vertel dieselfde van haar man. Miskien is dit omdat ons vroue juis in so ‘n “lelike” oomblik totaal vulnerable en onpretensieus voorkom. Miskien is die tipe “naaktheid” vir hulle sensueel.

Haydee: Philip, jy slaag ook goed as komediant. Ek dink maar aan kort reekse en insetsels wat ‘n paar jaar terug deur jong filmmakers en skrywers vir televisie vervaardig was. Ook dink ek jy het die postuur en lyf van ‘n akrobaat wat nodig is om ‘n suksesvolle komediant te wees. Sou jy jou nie iewers in die toekoms meer op komedie wil toespits nie?

Philip: Om op komedie te fokus? Ek weet darem nie. Wanneer ek myself die ernstigste opneem, dit is wanneer mense die meeste lag.

Haydee: Susan, jy het al by geleentheid gesê “vroue is of sleg, ‘n sex bomb of ‘n ma-figuur.” En die sogenaamde supervroue, die yuppie-ma’s? Bestaan hulle?

Susan: Definitief. Hulle is oral om my. Hulle is real. Hulle kook, hulle maak geld, hulle het kinders, hulle is kreatief en snaaks ook, hulle maak liefde met hulle mans… Maar ons sien hulle nie sommer op ons TV skerms nie. Net ‘n glimpse, een faset….

Haydee: Ek stel altyd baie belang in akteurs se voorbereiding vir ‘n rol, die navorsing en saamstel van ‘n profiel voor en tydens repetisies. Elke akteur se werkspatroon verskil. Vertel ons van julle werkspatrone?

Susan: Ek wil nie te veel om ‘n tafel sit en vergadering hou oor ‘n rol nie. Ek wil eerder begin doen as praat- anders raak ek angstig. Ek werk graag op my eie by die huis aan ‘n emosionele rol, sodat ek ‘n bydrae kan maak wanneer ons repeteer. Ek wil so gou moontlik die teks neersit en die moves blok. Met die tegniese goed uit die weg kan ek begin vlieg. As aktrise is dit vir my belangrik om my brein af te skakel en die karakter te begin voel, beleef en veral te geniet. As jy mannerismes of tegnieke het wat herkenbaar is aan jouself, moet jy TEEN dit werk. Anders is jy te voorspelbaar as aktrise.

Philip: Mens moet net probeer onthou hoe jy as kind was: Inleef-inleef, speel-speel, verbeel-verbeel, maak-maak.

Haydee: Motief speel ‘n belangrik rol in voorbereiding en karakterisering. Daisy se motiewe was nooit ten volle vasgestel nie, hoewel geld ‘n groot rol gespeel het. Sy was byvoorbeeld nie ‘n ‘serial killer’ nie.

Susan: Nee, sy was nie ‘n serial killer nie, maar wel ‘n sosiopaat. Ons het baie navorsing oor haar gedoen- drie maande pre-produksie. ‘n Sosiopaat is heel gesellig en warm en lyk sosiaal goed aangepas, maar daar is geen gewete agter die gesellige gesig nie. ALS draai om die sosiopaat se wêreld – asof sy die enigste mens op aarde is. Dis ‘n denkpatroon. Whatever in haar pad staan, moet uit die weg geruim word. Moord is so eenvoudig soos tandeborsel. Die feit dat dit haar man of kind is, het geen invloed op so ´n persoon se gewete nie. Sy sal enige optrede kan regverdig in haar siek brein.

Haydee: Die S.A. verhoog het al verskeie akteurspaartjies opgelewer wat ook saam optree. Hedendaagse paartjies is Francois Toerien & Nicole Holm. Sal ons julle in die toekoms saam op die verhoog sien?

Susan: Miskien. Ons het niks teen die idee nie. Ons het vier jaar gelede Kaalgat as familieproduksie by Potch opgevoer en al drie maklik saamgewerk. Do what you can with what you have where you are. Dalk doen ons dit weer.

Haydee: Buiten vir die teater-restaurant, waarmee is julle nou besig, enige projekte vir 2005?

Susan: Ek het my eerste solo kunsuitstalling, MYSTERIOUS MOMENTS IN DRIFTWOOD van 17 November tot 11 Desember by Zerk de Villiers Galery in Parkhurst. Vir die projek moet ek 30 tot 40 nuwe skilderye verskaf. Dit hou my op die oomblik met my kwas in my hand. Na die kunsuitstalling gaan ons vakansie hou aan die kus en op die oujaar van 2004 sal ons oesters eet, sjampanje drink en dink wat ons als in 2005 kan aanvang.

Philip: Ons wil Die Blou Hond se bestuur en bemarking al meer begin delegeer aan betroubare brakke, sodat ons meer en meer tyd kan spandeer aan ander kreatiewe projekte soos skilder, sing (ek wil ‘n nuwe CD opneem en vrystel), liedjies skryf en seks. Om gereelde rustye in te bou vir siel volmaak. Een lang vakansie, ver van alles wat bekend is.

Haydee: As julle boeke, musiek, gunsteling kos en oomblikke aan die liefde kan koppel, wat sou dit wees?

Susan: Ek lees hom in elke boek raak. Van die Bybel tot Bollie. Hy is nie juis ‘n leser nie, so ek lees sommer vir hom voor. Musiek Oh my Love van John Lennon het gespeel toe ek in die kerk ingeloop het met Frankie wat my inbring en wonder hoekom ek so huil. “Oor ek te gelukkig is,” het ek gesê. En natuurlik David Bowie se Wild is the Wind, wat die eerste song is wat ons gehoor het as man en vrou. Ons speel nie die songs baie nie, sodat ons emosies nie uitgeput raak nie…. Oesters en sushi is ons kos. Ek kan dit nie sonder hom eet nie- dit sal voel soos verneuk. En ons sluk dit natuurlik af met sjampanje. Die dag toe hy ons verloofring aan my vinger gesteek het sommer in die Rosebank winkelsentrum. Ons was so groot en sterk soos reuse. Us against the world. En natuurlik ons troudag. Sy twee oë was helderblou soos die see buite. Ek het gesien die ou meen besigheid. Hy’s ernstig. Hy’t daai one way ticket look in sy oë gehad. En nou byna ses jaar later klop my hart steeds wild as hy singend terugkom van sy reise buite: “Babie- Babietjie”, en dan kruip ek weg oor ek steeds op ‘n manier skaam voel daai dag toe ek sy bruid geword het.

Philip: Boeke – daar’s ‘n bybelversie wat sê ‘Eet en drink en geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet’. Dis flippen cool. Musiek – Wild is the wind van David Bowie. Dit het in die kerk gespeel toe ons getrou het, net nadat die dominee gesê het ons is nou man en vrou en you may kiss the bride en al daai goed. Toe soen ek vir Susan en druk haar styf vas en daar waai die Groot Wind deur my. Ek begin toe snot en trane snik en bid: “Ag Here, dis te groot vir my lyf om te vat – dankie dankie dankie”. Daar tjank ek toe verder en soen haar weer; ons teken toe die boek en daar sing David Bowie ‘like the leaf clings to the tree, oh my darling cling to me, for we are creatures of the wind. And wild is the wind, wild is the wind.’ Dit was die beautifulste oomblik. My hart wou sommer bars. Ek kan dit nie oorvertel nie. Kos – Oesters en Sjampanje. En sushi. Dan die tuna- en mosselslaai wat Susan in die koekblik maak om saam te vat beach toe. Oomblikke – Elke keer as sy vir my daai “look” gee en vir my alles sê wat ek graag wil hoor en voel, al verdien ek dit nie. En die manier hoe sy in die kerk na my aangestap gekom het op ons troudag. one way. En elke keer as ons die moer in is vir mekaar. en sy gooi haar arms oop om op te maak, al is ek nie lus nie en al wil sy my eintlik klap. dis liefde.

skrywer: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Leave a Reply