Fortuner, ‘n uitstekende waardeproposisie

 

Die Toyota Fortuner, een van die modelle van die Toyota-Motorkorporasie (TMK) se IVV (Innoverende Internasionale Veeldoelvoertuig) -produkprogram, bied kopers nie net uitstekende waarde vir geld nie, maar die modelreeks word geheel en al buite Japan vervaardig – die eerste keer in die geskiedenis van die TMK dat so iets gebeur.

Vir die IVV-projek het die ontwerp- en ingenieursopdragte vir die nuwe produkreeks gefokus op produksiedoeltreffendhede en kostebesparings om nuwe vlakke van voertuigbekostigbaarheid moontlik te maak sonder om gehalte in te boet.

Vir die Fortuner het hierdie benadering groot voordele ingehou. Hierdie Toyota spog met ‘n hoë vlak van luukse-toerusting, uitstekende rygerief en besondere bekwaamheid op en van die pad af teen ‘n uiters mededingende prys.

Toe die Fortuner vroeg in 2006 bekend gestel word, het dit ‘n nuwe era in SNV-bekostigbaarheid ingelui. Die mark het flink gereageer en daar was onmiddellik ‘n waglys vir die nuwe Toyota. ‘n Voortgesette sterk vraag het veroorsaak dat die Fortuner verlede jaar die negende plek op die lys van Suid-Afrika se top tien passasiervoertuie ingeneem het met ‘n afset van 7 193 eenhede.

Die Fortuner bied kopers die volle luukse-SNV-spesifikasie en pas in die omvattende Toyota-produkreeks in tussen die ikoniese RAV4 en die ewe gewilde Toyota Prado. Leersitplekke, elektriese ruitverstelling, lugreëling voor en agter en ‘n deftige radio/CD-klankstelsel vorm alles deel van die standaard-toerustingpakket.

Die Fortuner bied ‘n gerieflike en ruim bestuursondervinding op die pad en besondere bekwaamheid van die pad af – wat met dié van die legendariese Hilux vergelyk kan word. As ‘n sleepvoertuig blink die Fortuner uit met meer as voldoende krag en wringkrag. Die Toyota het ‘n aangeslane sleepvermoë van 750 kg vir ‘n sleepwa sonder en 1 500 kg vir ‘n sleepwa met remme. As sodanig bied dit die ideale oplossing vir ontspanningsdoeleindes. Hetsy jy ‘n woonwa, boot of perdesleepwa sleep, die Fortuner sal jou sonder inspanning en ‘n gesukkel by jou bestemming kry.

‘n Ander glanspunt van die Fortuner-reeks is hul mededingende pryse. Die 4.0 V6-petrolmodelle moet elke 15 000 km en die 3.0 D-4D-dieselmodelle elke 10 000 km gediens word. ‘n Diensplan van drie jaar/90 000 km is by die prys van die Fortuners ingesluit en hulle word gedek deur ‘n waarborg van drie jaar/100 000 km plus 24 uur se padbystand vir die duur van die waarborgtydperk.

Die reeks bestaan uit vyf modelle, wat voorsiening maak vir verskillende klantbehoeftes. Al die modelle spog met die sleutel-ontwerpeienskappe wat vir die IVV-produkreeks gestel is, naamlik duursaamheid, lae bedryfskoste, gerief en bekostigbaarheid – plus ‘n ware SNV-styl, luukse-toerusting en uitstekende verrigting op en van die pad af.

Die vyf Fortuner-modelle het ‘n vyfdeur-sewesitplek-busmotoruitleg en die kajuitspesifikasie is dieselfde vir almal, maar daar is ‘n keuse tussen aandrywingstelsels. Die verskillende modelle is soos volg:

Petrol
• Fortuner 4.0 V6 4×2 Raised Body met outomatiese vyfspoedhandratkas
• Fortuner 4.0 V6 4×4 met outomatiese vyfspoedhandratkas

Diesel
• Fortuner 3.0 D-4D 4×2 Raised Body met vyfspoedhandratkas
• Fortuner 3.0 D-4D 4×4 met vyfspoedhandratkas
• Fortuner 3.0 D-4D 4×2 Raised Body met outomatiese vierspoedratkas

Die petrolmodelle word aangedryf deur ‘n die nuwegeslag-1GR-FE-enjin. Dis ‘n 4 liter-V6-kragbron met 24 kleppe en dubbelnokasse. Maksimum-krag is 175 kW @ 5 200 r/min en daar is ‘n stewige 376 Nm se wringkrag by 3 800 r/min.

Die dieselmodelle is toegerus met die 1KD-FTV-enjin, ‘n 3 liter-viersilindereenheid met turboaanjaer en tussenkoeler en 16 kleppe en dubbele bonokasse. Maksimum-krag is 120 kW @ 3 400 r/min en die top-wringkrag van 343 Nm word tussen 1 400 en 3 200 r/min ontwikkel.

Die elektronies beheerde deelpyp-brandstofinspuitstelsel van hierdie enjin bied uiters doeltreffende brandstofbestuur, met ‘n mikrorekenaar wat die inspuitdruk, inspuittydreëling en die volume van die brandstoflading beheer.

Die Fortuner spog met talle nuts- en geriefseienskappe. Een hiervan is die dubbele lugreëlingstelsel met onafhanklike beheer en stelsels vir die voorste en agterste dele van die voertuig.

Dun en ligte RS (Revolusionêr Slanke)-verdampers met ‘n besonder hoë verkoelingsverrigting en korrosiebestandheid word vir die voorste sowel as die agterste stelsel gebruik. ‘n Harsbedekking op die verdampers voorkom die voortplanting van bakterieë, wat die basiese oorsaak is van onaangename reuke in lugreëlingstelsels.

Al vier deure spog met groot houers – die houers aan die voordeure kan maklik ‘n A4-grootte dokument of tydskrif hanteer. Bekerhouers vorm deel van die deurhouers. ‘n Groot middelkonsole bied ekstra bêreruimte vir snuisterye. Dit het ‘n ekstra bekerhouer vir die voorste insittendes (daar is ook een vir die bestuurder in die instrumentpaneel) en twee bekerhouers vir die passasiers agter. In die plafon is nog ‘n bêreplek, geskik vir ‘n sonbril, en bokant die truspieël is daar geïntegreerde kaartleesliggies.

Intense navorsing is gedoen na die ergonomiese eienskappe van die twee skottelsitplekke voor, en hulle is ontwerp vir die optimum-steun en -gerief. Die bestuurder se sitplek het hoogteverstelling. Die hoogte kan verstel word sonder dat die gekose bestuurspostuur verander word – die opligmeganisme kan die sitplekkussing en die rugleuning terselfdertyd verstel.

Die rugleunings van die voorsitplekke kan deur 74 grade verstel word – van 8 grade na voor van die regop posisie tot 66 grade na agter van die regop posisie. Die sitplek kan ook 240 mm vorentoe en agtertoe geskuif word.

Die middelste ry sitplekke kan vorentoe gerol (sonder om die kopstutte te verwyder) en ook geskuif word. Die twee sitplekke heel agter kan twee volwassenes akkommodeer. Wanneer hulle nie benodig word nie, kan hulle heeltemal plat in die vloer platgeslaan word. Die rugleunings van hierdie twee sitplekke kan deur 18 grade verstel word in nege stadiums van 2 grade elk.

Die Fortuner het ook ‘n ander geriefseienskap: ‘n geut wat water van die bakklap na die kant van die bak toe afvoer, van waar dit afloop grond toe. Dit beteken dat jy nie papnat word wanneer jy die bakklap in die reën oplig nie.

Toyota Fortuner
Toyota Fortuner

Van die belangrikste eienskappe van die Fortuner is:

• Reënveërs met onderbroke aksie en misfunksie
• Dakrak
• Lugvlerk met hoë stoplig agter
• Misligte voor
• Lugdraad versteek in die voorruit
• Chroomdeurhandvatsels en kantspieëls
• Wielboogskerms in bakkleur
• Kanttreetjies
• Agterruitontwasemer
• 80 liter-brandstoftenk
• Elektriese ruitverstelling – met eendruk-af-verstelling vir bestuurdersruit
• Blikkerwerende truspieël
• Sluitbare rommelkissie
• Gerookte glas vir agterdeurruite en bakklap
• Elektriese verstelling (ses maniere) vir bestuurdersitplek
• Elektriese verstelling van kantspieëls met terugkantelfunksie
• Dubbele lugreëlingstelsel met afsonderlike kontroles voor (outomaties) en agter (hand)
• Leersitplekke
• Vierspeek-leerstuurwiel met satellietkontroles vir die klankstelsel
• Leeroortreksel vir ratkierieknop
• Veelfunksie-vertoon vir buitetemperatuur, gemiddelde brandstofverbruik, werklike brandstofverbruik, gemiddelde snelheid, reikafstand en ‘n horlosie
• Kragstuur
• RDS-radio/CD-kombinasie met vier luidsprekers en aanpasbare volumebeheer
• 12V-kragpunt
• Diefweerstelsel met transpondersleutel-immobiliseerder (sluit in talle programmeerbare funksies)
• Sentrale sluiting met selektiewe ontsluitingsfunksie
• Lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier
• Kant- en gordynlugsakke
• ABS-sluitweerremstelsel
• Snelheidsbeheer
• 17 duim-allooiwiele met 265/70R17-bande
• Volgrootte-allooinoodwiel
• Sluitbare Torsen-vastrapmiddelewenaar (4×4-modelle)
• Ewenaarslot agter in al die modelle
• Tweespoed-oordragratkas vir hoog- en laagstrek in 4×4-modelle

Die Fortuner 3.0 D-4D-modelle het Voertuigstabiliteitsbeheer met ABS, ERV en Remhulp.

(foto motorpics)

Lewer kommentaar

Leave a Reply