Die sterrekundige Galileo se vingers is gevind, 300 jaar nadat dit afgesny is.
Drie vingers is van sy hand af gesny in Maart 1737 toe sy liggaam verskuif is na sy finale rusplek in Florence in Italië. Die laaste tand in sy onderkaak is ook geneem. Twee van die vingers en die tand is saam bewaar, maar het in 1905 verdwyn.
Die verwydering van liggaamsdele van hooggeagte persone in daardie tyd was algemene praktyk. Die liggaamsdele is as heilig beskou.
Galileo is as alles behalwe heilig beskou deur die Rooms-Katolieke kerk. Die pous het hom onder huisarres gehou het vir die laaste ag jaar van sy lewe, omdat hy verkondig het dat die aarde om die son wentel. Die verwydering deur onbekende persone van sy vingers en tand was ‘n finale eerbetoon in weerwil van die kerk se oortuiginge.
Die Rooms-Katolieke kerk het in 1992 erken by monde van die pous dat hulle ‘n fout begaan het met Galileo.

