Gedenkdiens by Voortrekkermonument

Daar is besluit om met ingang van 2010 jaarliks op die Sondag naaste aan 31 Mei, ’n groot herdenkingsdiens by die SA Weermag Muur van Herinnering op die Voortrekkermonument Erfenisterrein te hou. As gevolg van al die aktiwiteite wat oor die betrokke tydperk die 2010 Wêreldsokkerreeks voorafgaan, sal die jaarlikse herdenkingsdiens vanjaar eers later en wel op Sondag, 15 Augustus plaasvind.

Die SA Weermag Muur van Herinnering is op 25 Oktober 2009 tydens ’n onvergeetlike kransleggingsgeleentheid ingewy. Dit is bygewoon deur talle naasbestaandes van persone wat hul lewens verloor het gedurende die tydperk 31 Mei 1961 (Republiekwording) en 27 April 1994 (die datum waarop die SA Weermag in die nuwe SA Nasionale Weermag opgeneem is).

Daar is tydens die inwydingsplegtigheid meer as ’n honderd kranse gelê en kruise geplant. Selfs gesoute oud-soldate was sigbaar aangedaan en het na afloop van die seremonie gesê dat dit een van die heel hoogste punte van hul totale miltêre lewe was.

Die tyd sal graag intussen gebruik word om te verseker dat enige ontbrekende name wat op die Muur hoort, voor 15 Augustus op die panele wat spesiaal vir díe doel oopgelaat is, aangebring word. Naasbestaandes en ander belangstellendes word graag vriendelik dog dringend versoek om sodanige name aan die Voortrekkermonument deur te gee, sodat dit geverifieer en die nodige gravering betyds gedoen kan word. Die volgende inligting, sover moontlik, per geval benodig: Volle voorletters en van, rang, jaartal, weermagsdeel en oorsaak van dood.

Daar word ’n inklusiewe benadering gevolg ten opsigte van die insluiting van name op die Muur van Herinnering. Dit behels derhalwe nie net die name van persone wat tydens gevegsoperasies gedood is nie, maar ook ander wat oor die betrokke tydperk in die SA Weermag gedien en gesterf het. Aldus die Hoof Uitvoerende Beampte van die Voortrekkermonument, genl-maj (aft) Gert Opperman, word daar eerder gekyk na redes waarom ’n naam op die Muur ingesluit kan word, as na redes waarom die naam uitgesluit moet word. “Ons glo dit het ’n groot samebindende krag en help om afsluiting vir die naasbestaandes te bring,” sê hy.

Daar verskyn reeds bykans 2 489 name op die SAW Muur van Herinnering, insluitend díe van 516 swart soldate wat in diens van die SA Weermag gesterf het en ’n totaal van 772 wat tydens gevegsoperasies gedood is. (Die ooreenstemmende syfers wat op die Muur by Fort Klapperkop verskyn, is 2 024, 289 en 645 onderskeidelik.) Benewens die feit dat die naamlys op die SA Weermag Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument baie meer volledig en op datum is, is die Muur ook baie meer sigbaar en toeganklik, ook vir fisies-gestremde persone, en word dit gestut deur die VTM se uitstekende infrastruktuur en parkeer- en onthaalfasiliteite.

Voortrekkermonument
Voortrekkermonument

Die Muur Van Herinnering het sedert die inhuldiging daarvan in 2009 reeds ’n baie belangrike aanvullende besoekpunt op die VTM Erfenisterrein geword. Die VTM ontvang jaarliks bykans 200 000 betalende besoekers en talle meer geleentheidsbesoekers wat slegs van die VTM se fasiliteite gebruik maak.

Persone wat graag wil navraag doen oor name wat reeds op die Muur is of besonderhede wil deurgee van verdere name wat aangebring behoort te word, word vriendelik versoek om te skakel met die Navorser, mev Estelle Pretorius, by navorsing@voortrekkermon.org.za of 084 337 9505. Persone wat ook net graag hulle name op die gastelys vir die kranslegging van 15 Augustus 2010 geplaas wil hê, kan hul besonderhede ook aan mev Pretorius deurgee.

Die inwydingsplegtigheid van 25 Oktober 2009 is intussen op ’n uiters treffende DVD vasgelê, wat teen R80,00 elk te koop sal wees. Posgeld van R10,00 per DVD is van toepassing as dit aangestuur moet word. Bestellings kan nou reeds by mev Pretorius geplaas word.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply