Heelwat tussenseisoen-aktiwiteite het plaasgevind terwyl spanne vir die openingsronde van vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap, die Adenco 400 wat op 11 en 12 Maart by Darling in die Wes-Kaap plaasvind, voorberei.
Daar was heelwat skuiwe in beide die Produksievoertuig- en Spesiale Voertuigkategorieë met ‘n paar belangrike verwikkelinge. Die skuiwe agter die skerms het bykomende kleur aan die aktiwiteite gegee wat die seisoen voorafgaan en hoë verwagtinge word vir nóg ‘n uiters mededingende reeks gekoester.
Wat die Produksievoertuie betref, sal die fabrieks-Toyota-span nuwe dubbelkajuit-Toyota Hilux-inskrywings in die veld stoot terwyl hulle hul staatmaker-navigator, Robin Houghton, verloor het. Ná amper twee dekades saam met die Toyota-span waartydens hy veelvuldige kampioenskappe saam met Apie Reyneke gewen het, verlaat die veelsydige Houghton die span om kragte met die voormalige Toyota-fabrieksjaer, Mark Cronje, in die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap saam te span.
Die ervare Chris Birkin keer na die Toyota-geledere terug en sal Houghton se plek langs Anthony Taylor, wat die vennootskap laas seisoen met ‘n sege tydens die RFS Magalies 400 afgesluit het, vul. Birkin het voorheen langs Cronje gesit.
Ander ontwikkelings onder die Produksievoertuie sluit ‘n tweede RFS BMW X3 vir Christiaan du Plooy en Henk Janse van Vuuren in terwyl die tiener, Lance Woolridge en die ervare Ward Huxtable met ‘n fabrieks-Ford Racing Ranger na Klas D sal opskuif. Du Plooy en Janse van Vuuren sal by Darling met die RFS Toyota Hilux deelneem en sal later by hul spanmaats, Hannes Grobler en Hennie ter Stege in die BMW-stal aansluit.
Tydens hul eerste volledige nasionale seisoen het Woolridge, die seun van die voormalige SA-kampioen, Neil, die Klas E-kampioenskap laas jaar nét gemis. ‘n Rugbesering het veroorsaak dat hy nie aan die finale ren van die jaar kon deelneem nie en Pikkie Labuschagne het by die agterdeur ingekom om die jaerstitel te verower met Huxtable wat die navigatorkampioenskap ingepalm het.
Verskeie intriges het ook in die Spesiale Voertuigkategorie ontwikkel. Bo-aan die lys is die Klas P-kampioene, Johan van Staden en James Rossouw wat met ‘n nuwe Spec 5-BAT na Klas A skuif.
Die Pretoria-paar het Klas P laas seisoen oorheers en het geskiedenis gemaak deur die eerste Klas P-span te word om ‘n nasionale byeenkoms algeheel te wen. Die paar sal weer onder die Atlas Copco-sambreel deelneem.
Die pa- en seun-paar, Nick en Ryan Harper, gaan ‘n skuif in ‘n ander rigting maak. Hulle verlaat die Atlas Copco-span en sluit by die voormalige Suid-Afrikaanse kampioen, Evan Hutchison in die Motorite-groep aan.
Hutchison sal ook ‘n nuwe navigator, Danie Stassen, hê met die Motorite-span wat uit die SA Nasionale Tydrenkampioenskap onttrek het om op die Absa-reeks te konsentreer. Hutchison en Stassen sal met die Motorite Revo 4×4 deelneem terwyl die Harpers in ‘n BAT sal wees.
Daar sal ten minste een nuwe span in Klas A wees. Daniel en Louw Zeelie sal in ‘n Porter wees en sal met belangstelling dopgehou word.
Die Adenco 400 sorg altyd dat die seisoen op ‘n interessante noot afskop. Dit sal vanjaar wéér die geval wees en die organiseerders het nuwe gedeeltes op die roete ingesluit.
Die Donaldson-voorren vind op 11 Maart plaas en sal 45 kilometer beslaan terwyl die hoofren op 12 Maart uit drie sirkelroetes van ongeveer 120 kilometer sal bestaan. Die renhoofkantoor; die begin- en eindpunte asook die aangewese dienspunt sal by die Darling-klub wees.
Soos gewoonlik sal die roete uiters toeskouervriendelik wees met verskeie uitkykpunte. Publieke toegang tot die wegspring- en eindpunte; die DSP en toeskouerpunte is gratis.
bydrae: Charmaine Fortune
