Ek is steeds ’n U2 aanhanger

Ek het genoeg U2 CD’s op my rak om myself ’n aanhanger te noem. Nie genoeg om die massas by hul konsert te trotseer nie, maar genoeg om hulle musiek te geniet ten spyte van my opinie van Bono.

My opinie van Bono is nie rêrig relevant tot die storie nie, maar laat ek dit vir die rekord stel: In my oë is Bono ’n toonbeeld van hoe dinge verkeerd kan loop as jy die lot van die wêreld in die hande van celebs sou laat. Bono werk hoofsaaklik vir sy eie sak en nie veel meer nie. Gaan lees gerus wat The Tax Justice Network skryf oor wat belastingontduikers soos hy doen of vra hom uit oor sy aandeel in Elevation Partners. Tot verdere kennisgewing sien ek hom as iemand wat net soveel omgee vir Afrika, armoede en Vigs soos wat Julius Malema omgee vir die waarde van Afrikaans as ’n onderrigmedium.

Dit beteken egter nie ons moet leuens oor die man versprei nie. In die onderhoud wat die herrie rondom Bono se kop laat losbars het, het hy nooit gesê hy ondersteun Julius Malema nie of enige verwysing na “Skiet die Boer” gemaak nie.

Die storie het begin met die aanvang van U2 se toer in Suid-Afrika toe ’n hand vol joernaliste genooi is vir ete saam met die groep. Drie van die vyf genooide name is belangrik om te onthou: Buddy Naidu, Diane Coetzer en Evan Milton.

Buddy Naidu het die gewraakte storie vir die Sunday Times geskryf. Milton het later die wêreld ingelig dat, hoewel aanhalings in Naidu se storie korrek was, dit misbruik is om sy eie storie op te maak. Diane Coetzer ondersteun Milton se weergawe. Coetzer is die plaaslike verteenwoordiger van die bekende Amerikaanse publikasie Billboard. Wat Naidu ons nooit vertel het nie, was dat Bono besig was om te praat van die bekende U2 liedjie “Sunday Bloody Sunday”.

Ek onthou Evan Milton van destyds toe Roekeloos inhoud verskaf het aan World Online (later Tiscali). Tot op datum het ek nog nie nodig gehad om sy integriteit in twyfel te trek nie.

Indien jy steeds twyfel in Milton se weergawe, vra hom vir ’n transkripsie van die aand, hy het alles op sy iPhone opgeneem.

U2
U2

(Evan Milton se artikel in Mail & Guardian)

(foto: Jack Newton)

Lewer kommentaar

Leave a Reply