Daar is talle motiveringsprekers en lewensafrigters wat graag oor tienersake gesels, maar nie elke dag in die skoene van ‘n tiener stap nie. Dis maklik om advies vir ouers te gee en aan tieners uit te deel, maar die implementering en die praktiese toepassing is nie altyd so maklik as jy nie self meer ‘n tiener is nie. Hildegard Havenga het ‘n passie vir jongmense en haar visie is om hulle op te hef en te bemagtig waar sy kan. Sy doen dit deur haar eie ervarings te deel, want as ‘n doodgewone tiener van Pretoria, sukkel sy ook gereeld met haar eie uitdagings en struikelblokke.
Sý verstaan die geestesgesondheid van tieners beter as wat enige van ons kan en deel ‘n paar baie belangrike en
insiggewende punte wat belangrik is om op ag te slaan.
Oktober was daar baie fokus geplaas op geestesgesondheid, maar volgens Hildegard kan daar nie net een maand
van die jaar daarop gefokus word nie. Veral nie wanneer dit by tieners kom nie. Daar moet konstante bewusmaking wees onder alle tieners, deurentyd.
Hildegard sê: “Tienerlewe is vir baie van ons ’n sosiale oorlewingstryd wat diep impak het op ons geestesgesondheid.
Ek het onlangs self bietjie gaan reflekteer uit my eie ervaring van die afgelope jaar en gaan stilstaan by die uitdagings waarmee ek en ander tieners daagliks gekonfronteer word. En toe tref ‘n harde realiteit my.
“Terwyl dit maklik is om eksterne faktore soos die druk van ouers, onderwysers, sosiale media, en akademiese en
ander prestasies as die grootste struikelblokke te sien, het ek besef die werklike uitdaging is dalk nog nader aan die hart as wat ons besef (en moeilik om te erken). Tieners se grootste vyand wanneer dit kom by geestesgesondheid is, is eintlik mekaar“, voeg sy by.
“Kom ons wees maar eerlik oor hierdie realiteit: ons grootste uitdagings lê dikwels in hoe ons mekaar hanteer en
beïnvloed in ‘n baie brose tyd van ons lewens. Hier is ’n paar maniere waarop ek gesien het dit tipies uitspeel:
- Die vrees om te misluk: Perfeksionisme en gevolge. “Tieners word dikwels oorval met die vrees om te
misluk, en dit is ‘n direkte gevolg van die konstante druk om in ‘n wêreld vol prestasiegedrewe maatstawwe
te oorleef. Die druk om op elke gebied – akademies, sosiaal, sportief – uit te blink, skep ’n omgewing waar
mislukking amper as ‘n doodsvonnis gesien word. Die konstante strewe na onbereikbare standaarde lei
dikwels tot angs, lae selfbeeld, en gevoelens van uitbranding omdat ons voel ons moet alles regkry en niks
verkeerd mag loop nie. Die verwagting om foutloos te wees, maak dat ons eie sukses nooit goed genoeg voel nie.
Maar wat veral skadelik is, is dat hierdie perfeksionistiese denkwyse nie net ons gesondheid affekteer nie,
maar ook ons verhouding met onsself. Perfeksionisme bevorder ‘n “alles of niks” manier van dink, waar ‘n
enkele fout of mislukking gesien word as ‘n volledige gebrek aan waarde. Dit lei dan tot ‘n vrees vir
mislukking wat so sterk is dat dit tieners verhoed om nuwe dinge te probeer of om risiko’s te neem wat nodig is vir groei en leer. Ons raak verlore in ’n siklus van selfkritiek, en ons geestesgesondheid begin onder die swaar las van verwagtinge verbrokkel.“
2
Hildegard stel voor: “In plaas daarvan om mislukking as die eindpunt te sien, moet ons leer om dit as ‘n
geleentheid vir leer en verbetering te beskou. Dit beteken dat jy ook ‘n “fout“ vir jouself moet herforumuleer
as ’n ervaring, want dis dan wanneer ons werklik insig kry en beter voorberei word vir toekomstige suksesse.
Tieners moet besef dat hulle waarde nie in hul prestasies lê nie, maar in wie hulle as mense is.“
Praktiese wenk: Kies iets wat jy geniet, maar wat jy nog nie goed onder die knie het nie, en probeer dit net
vir die pret sonder om enige erkenning daarvoor te verwag. Die doel is nie om perfek te wees nie (of om
dit met die wêreld te deel nie), maar om die vrees vir mislukking te oorkom deur bloot die proses te geniet.
Dis soms in hierdie klein suksesse sonder die druk van sosiale media “likes“, dat ons werklik vry voel om te
leer en te groei.
- Sosiale uitsluiting: Die seer van verwerping. “Vir tieners is sosiale aanvaarding een van die belangrikste
aspekte van ons lewens, en die vrees om uit die groep gelaat te word, is ‘n emosionele las wat ons daagliks
dra. Hierdie vrees vir verwerping kan so intens wees dat dit ons selfbeeld diep beïnvloed, en ons selfs
weerhou om onsself uit te druk of aan aktiwiteite deel te neem wat ons gelukkig maak. In plaas daarvan om
ons uniekheid te vier, probeer ons dikwels om aan te pas by die norme en verwagtinge van die groep of die
omgewing waarin jy jouself bevind, selfs wanneer dit in stryd is met ons eie persoonlikhede of waardes.
Die impak van hierdie vrees gaan verder as net oppervlakkige ongemak. Sosiale uitsluiting, of net die gedagte daaraan, kan lei tot ernstige emosionele skade. Dit versterk gevoelens van eensaamheid, isolasie, en
minderwaardigheid – wat alles ‘n direkte impak het op ‘n tiener se geestelike welstand. Verwerping, of selfs
die vrees daarvoor, kan veroorsaak dat ons onsself meer en meer onttrek, minder geneig is om nuwe
verhoudings aan te knoop, en uiteindelik onsself in ‘n emosionele vakuum bevind waar ons nie net ander
verloor nie, maar ook ons eie selfvertroue en identiteit“.
Hildegard stel voor: “Tieners moet leer dat nie almal dieselfde hoef te wees om aanvaar te word nie. Ware
vriendskappe vereis dat ons mekaar juis in ons verskille omarm, in plaas daarvan om almal in ‘n boks te
probeer druk. Soms is die beste manier om te floreer, om weg te beweeg van enige iets wat jou inperk. Om
jouself te wees is‚ ‘n daad van moed – en dis een van die grootste geskenke wat jy vir jou eie
geestesgesondheid kan gee.“
Praktiese wenk: Skep ‘n veilige plek met vriende waar julle kan wees wie julle regtig is. Deel jou gevoelens
en ervarings oor sosiale druk en verwerping. Deur oop gesprekke te hê, bou julle ‘n ondersteunende
netwerk en herinner mekaar dat ware vriendskap oor aanvaarding gaan, nie oor aanpassing nie. - Kansellasiekultuur (cancel culture): “Die druk om aan bepaalde verwagtinge te voldoen, word versterk deur
die skrikwekkende verskynsel van kansellasiekultuur – ‘n verskynsel waar iemand vinnig verwerp kan word as hulle ‘n fout maak of bloot net teen die stroom beweeg. Hierdie vrees om “gekanselleer” te word, raak veral tieners diep omdat ons reeds in ‘n fase van ons lewe is waar sosiale aanvaarding so belangrik is. Die gedagte dat een verkeerde opmerking, een onpopulêre opinie, of selfs ‘n eerlike fout wat ons sosiale lewe kan verwoes, is oorweldigend.
Wat kansellasiekultuur so toksies maak, is dat dit ‘n omgewing kweek waar eerlike kommunikasie en
groeiende verhoudings stilstaan. Ons raak bang om onsself uit te druk, om foute te maak, of om ‘n opinie te
hê wat anders is as dié van die meerderheid, omdat ons nie net bang is vir kritiek nie, maar vir die totale
verwerping wat met kansellasiekultuur gepaard gaan. Dit versterk die idee dat jy altyd moet reg wees, altyd
in lyn met die hoofstroom moet wees, en altyd onberispelik moet optree – wat onrealisties en vernietigend is.
Die gevolge van hierdie kultuur op ons tieners se geestesgesondheid is enorm. In plaas daarvan om in ‘n
omgewing van begrip en aanvaarding te floreer, leef ons in ‘n konstante toestand van selfbewustheid en
angs. In plaas daarvan om ons uniekheid ten volle te kan uitleef, om foute te maak en daaruit te groei, leer
ons om dit liewer te vermy, om stil te bly en om onsself terug te hou weens vrees vir verwerping. En dan
bereik mens nooit jou volle potensiaal nie.“
3 Hildegard stel voor: “Ons moet onthou dat perfeksie ‘n onmoontlike ideaal is. Ons maak almal foute. In plaas
daarvan om mekaar te oordeel en te verwerp vir iets wat jy dalk mag dink is ‘n onpopulêre opinie, moet ons
leer om mekaar met genade en begrip te hanteer. Die Elon Musk’s en Charlize Theron‘s van die wêreld het
juis sukses behaal deur hul uniekheid te vier en risiko’s te neem, ondanks geweldige kritiek. Dit beteken ook
dat ons mekaar die ruimte moet gee om van ons foute te herstel, om verskoning te vra, en om beter te doen.
Deur genade en begrip kan ons ‘n kultuur van empatie en ondersteuning bou – wat tieners broodnodig het
om geestelik gesond te bly in ‘n wêreld vol druk.“
Praktiese wenk: Herskryf ‘n ”fout“ vir jouself as net ‘n “ervaring“. Begin ‘n beweging waar julle in ‘n ligte
luim ‘n “ervaring van die week” deel en hoe julle daaruit gegroei het. Dit help om ‘n atmosfeer van genade
en begrip te skep, en herinner julle daaraan dat dit OK is om nie perfek te wees nie.
“Met die jaar wat nou vinnig sy einde nader, is dit die perfekte tyd om terug te kyk en te besef hoe ver jy
hierdie jaar gekom het, en jouself bietjie op die skouer te klop. Miskien was dit nie altyd maklik nie, en dalk
was daar uitdagings wat jou laat voel het of jy nie kan byhou nie. Party houe het jou dalk selfs totaal
uitgeklop. Tienerwees is beslis ’n tyd van oorlewing – maar dit kan ook een van ontdekking en kosbare groei
wees selfs in die moeilike tye. Elke stap, of dit nou klein of groot is, is vooruitgang“.
So as jy dalk voel dat jy nie inpas nie of voel dat jy nie “goed genoeg” is nie, weet dat jou waarde nie deur ander
bepaal word nie. Jy is genoeg, presies soos jy is. Die nuwe jaar hou nuwe kanse en geleenthede in. Gebruik hierdie tyd om jouself te herontdek, om weer te fokus op dit wat jou uniek maak, en om jou geestesgesondheid ‘n prioriteit te maak, deurentyd.
Dis wonderlik om altyd daar te wees vir ander as ‘n goeie vriend, maar moenie jou eie pad verloor in die proses nie.
Dis belangrik om jouself te omring met mense wat jou waardeer vir wie jy werklik is en vir jou regtig lief is. En ouers: julle speel ‘n enorme rol om ons te herinner aan ons waarde en potensiaal. Moet nooit ophou om ons te inspireer om ons eie pad met trots en vasberadenheid te volg nie.

