Groot het ek geskrik toe ek my hand uitsteek na waar die gidspuppy-geëmbosseerde toiletpapier gewoonlik in my huis hang, en al wat ek raakvat is ‘n plastiek soplepel wat dryf in ‘n emmer vol goudvisse.

Ek wou roep: “Toiletpapier, asseblief!”, maar my Baya-Indonees was beperk tot “tidak ada kaki ayam”, vry vertaal as “Baie dankie, maar ek was nog nooit so honger dat ek ‘n tweede porsie hoenderpote sou eet nie.” Ek het vinnig gesnap waarvoor die water en die lepel was, maar dit was eers die aand, met oë rooi en branderig van muskietafweermiddel, dat die teenwoordigheid van die vis vir my begin sin maak het.

Danksy bogenoemde blootstelling aan nie-konvensionele gebruike van vis in en om die huis, kon ek daarin slaag om nie op te spring en hardop te skree “Help! Piranhas!” toe ‘n laerskool garra rufa vissies met toewyding, asof opgelei deur ‘n goeie juffrou, aan my voete begin knibbel tydens my onlangse spa-besoek nie. En ek was seker ek het vir ‘n pedikuur gevra!

Dié nuwe, ekovriendelike skoonheidsgier is egter nie sonder kontroversie nie. Die hoofmanne oor gesondheid in Brittanje het reeds hul kommer uitgespreek oor die risiko vir die oordrag van siektes soos HIV, Hepatitus C en ander bose swere. Kanadese owerhede het egter voet neergesit en vispedikure summier verbied. Die meer gematigde houding is glo dat die behandeling ‘n minimale risiko inhou wat verder verlaag kan word deur jou spa met sorg te kies.

(Oorspronklik verskyn 21 Oktober 2021.)

Lewer kommentaar

Leave a Reply