Honda Accord bo-aan leer van betroubaarheid

Die Honda Accord, Suid-Afrika se 2009 Motor van die Jaar, beklee die voorste plek in ’n peiling oor betroubaarheid wat deur die Britse tydskrif Which? uitgevoer is.

Die peiling, wat 84 000 motors onder die loep geneem het, het bevind dat Accord-eienaars skaars probleme ondervind het. ’n Yslike 98,5 persent van eienaars het bevestig dat hul voertuie die afgelope jaar hoegenaamd geen aandag nodig gehad het nie.

Die betroubaarheidspeiling se vraelys het bepaal of voertuie gedurende die vorige 12 maande hul eienaars in die steek gelaat het, of die voertuig daarna by ’n handelaar herstel moes word, en watter probleme ondervind is.

Terwyl die Accord die voorste plek in die peiling beklee het, het nog drie Honda-modelle top 10-plekke in die peiling behaal.

Die jongste geslag Honda Jazz was tweede met ’n telling van 98,2 persent, terwyl die vorige Honda Jazz die sesde plek met ’n telling van 95,9 persent beklee het. Honda se Civic Hybrid was kort op die Jazz se hakke in die sewende plek, met
95,7 persent.

Sewe van die 10 motors in die voorste 10 was van Japanse fabrikate.

Honda geniet reeds ’n sterk naam vir betroubaarheid en klantetevredenheid in Suid-Afrika, waar die maak gereeld hoog op JD Power se Aanvanklike Gehalte-Peiling en die Klantetevredenheid-Indeks verskyn.

Honda het in 2006 die voorste plek in JD Power se Aanvanklike Gehalte-Peiling beklee, en was in 2006 en 2007 ook bo-aan die leer wat die Klantetevredenheid-Indeks betref. In 2008 het vier Hondas hul afdelings in die JD Power-gehaltepeiling gewen, met die Honda Jazz wat die louere in die afdeling vir kleiner kompakmotors ingepalm het.

Daarbenewens het die jongste-geslag Accord en Jazz-reekse in die 2009 SA Motor van die Jaar-toekennings uitgeblink, nadat albei motors as finaliste aangewys is. Die Accord is as die wenner van dié gesogte toekenning aangewys.

“Hierdie prestasies onderstreep die uitnemendheid van Honda se produkreeks in die algemeen,” sê Graham Eagle, direkteur van verkope en bemarking by Honda Suid-Afrika.

“Veral die Accord bied ’n uiters aantreklike weeldemotor-aanbod, veral onder markomstandighede waar die kleinhandelprys en die loopkoste sleutelelemente van die algehele eienaarskap-ervaring is.”

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar