Hope toeskouerpunte by Human Auto 400

Daar sal geen tekort aan toeskouerpunte wees nie en entoesiaste sal goed na gekyk word op die Human Auto 400, die sewende ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 22 en 23 Oktober in die Vrystaat plaasvind.

Daar is ook ‘n bykomende bonus vir motorsportondersteuners – hulle sal nie ver hoef te ry om die aksie te beleef nie. Die renhoofkantoor, die begin- en eindpunt en die aangewese dienspunt is by die Windmill Casino met ‘n horde toeskouerpunte binne ‘n radius van 15 kilometer van die kompleks.

Die areas loop parallel met die N1-snelweg en bied goeie uitkykpunte. Die gewilde Stuck in the Mud-fasiliteit maak deel van die groep toeskouerpunte uit en entoesiaste kan ook die Absa-aktiveringsarea besoek waar kompetisies met groot pryse aangebied sal word.

Daar is ook ‘n toeskouerpunt (SP7) langs Du Plessis-laan op die buitewyke van Bloemfontein. Dié deel van die roete betree dan militêre areas en daar sal geen publieke toegang tot die roete tussen SP7 en SP8 op die N8 wees nie.

Toeskouerpunte is ook toeganklik van die R706 met twee uitkykpunte tussen die R706 en M13. Publieke toegang tot die begin/einde; die aangewese dienspunt en die toeskouerpunte is gratis.

Toeskouergidse met aanwysings en GPS-koördinate tot toeskouerpunte sal by die renhoofkantoor beskikbaar wees. Meer inligting kan ook verkry word deur die webtuiste, www.saoffroadracing.co.za, te besoek.

Die Donaldson-voorren wat die wegspringposisies bepaal, sal Vrydag, 22 Oktober om 12:00 begin terwyl die ren Saterdag, 23 Oktober om 08:30 sal afskop.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply