Dit is nogal ironies dat die Human Auto 400, ‘n nuwe byeenkoms op die Absa-Veldrenkampioenskapkalender wat in die Vrystaat gaan plaasvind, moontlik ‘n taai stryd in die Spesiale Voertuigkampioenskap kan finaliseer.
Met die Vrystaat-ren wat nuut op die kalender is, is die speelveld vir deelnemers gelyk. Nie een van die voorlopers sal weet wat om te verwag nie en dit dra by tot ‘n spyskaart wat reeds uiters interessant is.
Soos sake tans staan beskik die huidige kampioenskapvoorlopers, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau (Team Total-Porter) oor ‘n skrale 12 punt voorsprong bo die 2007-kampioene, Kallie en Quintin Sullwald in die Elegant Fuel-BAT. Die Klas P-voorlopers, Johan van Staden en Johan Rossouw is ‘n verdere 11 punte agter met Herman en Wichard Sullwald (Sullwald Racing-SVR) ‘n enkele punt agter die Pretoria-gebaseerde span.
Die situasie in Klas A lyk egter effens anders. ‘n Verskil in veldrenne se puntetoekenning beteken dat Kallie en Quintin Sullwald drie punte voor Variawa/Rousseau is met die tweede Sullwald-span, Herman en Wichard, in die derde plek en agt punte agter.
Terwyl Variawa/Rousseau en Kallie en Quintin Sullwald voor is, skei net 24 punte die eerste vier spanne van mekaar. Met 50 punte wat tydens die laaste byeenkomste in die algehele stryd beskikbaar is, is Variawa en Rousseau glad nie veilig nie.
Die Team Total-span en die Sullwald-spanne het die laaste gedeelte van die seisoen oorheers, maar daar is ander spanne wat ‘n vlieg in die salf kan wees. Die uitgaande jaerskampioen, Evan Hutchison, en Darryl Curtis (Motorite-Revo1) het tydens die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren intimiderend in die 4×4-voertuig gelyk en so ook het Colin Matthews en Alan Smith (Century Racing-CR2) voor betroubaarheidsprobleme weer eens toegeslaan het.
Jimmy Zahos en Stefan Coetzee (Cobalt Racing-Porter) asook Bevan Bertholdt en Danie Stassen in die lab88-BAT beskik oor die spoed. Die KwaZulu-Natal-span, Clint Gibson en Gary Campbell lyk na dreigende buitestaanders in die Gibson Racing-SVR en so ook die pa- en seun-paar, Nardus en Louis Alberts in die Wrapsa-BAT.
Nick Harper en Kevin Hume (Atlas Copco-BAT) sal hulself ook wil bewys na ‘n teleurstellende Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren terwyl die nuwelinge Neil Meyer en Leon Muller (Zarco Magnum) en die ervare Keith du Toit en Ashley Thorn (White Star Racing-BAT) bemoedigende resultate in Botswana ingesamel het.
Meyer/Muller en Du Toit/Thorn sal egter hul pas moet versnel indien hulle in die top vyf wil eindig.
‘n Strawwe roete het die lewe vir die Spesiale Voertuig-spanne in Botswana moeilik gemaak. Die Vrystaatse ren behoort oper te wees en met so baie wat op die spel is, kan ‘n uiters interessante ren verwag word.
Die veteraanjaers het Klas B tydens die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren gedomineer met Coetzee Labuscagne en Giel Nel in die Raysonics Zarco-sustervoertuie wat die res ore aangesit het. Die kampioenskapvoorlopers, Bes en Lindie Bezuidenhout (Adenco-BAT) was tussen diegene wat nie die ren kon voltooi nie, maar hulle beskik steeds oor ‘n handige voortou in die kampioenskap.
Behalwe vir Labuscagne en sy dogter, Sandra, en Nel en Jaco Jonck, sal die veld in die Vrystaat ook die Makenete-broers, Keith en Andrew (Zarco) asook die gereelde Noordelike streeksdeelnemers, Johan de Klerk en Willem Pretorius in nóg ‘n Zarco. Die twee UTV Racing-inskrywings van Stratford Voogt/Sidriaan de Villiers en Dwayne Voogt tesame met ‘n navigator wie se naam nog bekend gemaak moet word, sal ook die tog na Bloemfontein aanpak.
Die Klas P-stryd behoort ook uiters mededingend te wees en kan vir ‘n interessante stryd sorg. Van Staden en Rossouw in die Atlas Copco-BAT het steeds ‘n gerieflike voorsprong in die kampioenskap, maar is deur Johan en Deon Bezuidenhout (Adenco-BAT) geklop wat ‘n foutlose vertoning in Botswana gelewer het.
Daar sal sterk mededinging vir beide die Swaziland-span, John Thompson en Clinton McNamara (Zarco) en die Regent Racing-Jimco-kombinasie van Archie Rutherford en Mike Lawrenson wees. Bodo Bertholdt sal deur Philip Herselman in die Atlas Copco-BAT bygestaan word en sal voortstoom terwyl Marius Fourie tesame met sy vrou, Jolinda, ook indrukwekkend in Botswana in hul ouerige BAT vertoon het.
John Telford/Jaco Swart is ook terug in die tuig in die Calcamite-BAT tesame met Glenn en Rob Gibson (Gibson Racing-BAT) en Nic Goslar en Richard Carolin in die Men’s Health International-Zarco.
The Human Auto 400 sal by die Windmill Casino aan die buitewyke van Bloemfontein gebaseer wees met die renhoofkwartier; die begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt wat binne die kompleks sal wees. Die Donaldson-voorren sal op 22 Oktober om 12:00 afskop terwyl die ren op 23 Oktober om 08:30 sal begin.
Daar sal verskeie uitkykpunte op die toeskouervriendelike roete wees. Publieke toegang tot die begin/einde, die aangewese dienspunt en die toeskouerpunte is gratis.
bydrae: Charmaine Fortune
