Rustelose nagte vir voorlopers

Met slegs 12 punte wat die drie titelaanspraakmakers in die Produksievoertuigkategorie van mekaar skei, gaan die voorloperspanne ‘n paar rustelose nagte voor die Human Auto 400, die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 22 en 23 Oktober in die Vrystaat plaasvind, beleef.

Die kampioenskapvoorlopers, Chris Visser en Japie Badenhorst (RFS Toyota Hilux) sal die Vrystaat-ren met ‘n voorsprong van 11 punte bo die huidige Suid-Afrikaanse jaerskampioen, Duncan Vos en Rob Howie in die Team Castrol-Toyota Hilux aanpak met die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynrenwenners, Hannes Grobler en Hennie ter Stege (RFS BMW X3) wat ‘n verdere punt agter is. Twee ander spanne, Terence Marsh/Buks Carolin (Regent Racing-Nissan Navara) en Gary Bertholdt/André Vermeulen (Atlas Copco-Toyota Hilux) staan ‘n wiskundige kans in die titelren, maar die drie voorloperspanne sal groot probleme moet ontwikkel voordat hulle by die agterdeur kan insluip.

Die volgorde in die gesogte Klas SP-kampioenskap is dieselfde. Hier skei slegs agt punte egter die drie spanne.

Die feit dat die Human Auto 400 ‘n nuwe byeenkoms op die kalender is, dra egter tot die intrige by. Spanne sal onbekende terreine aanpak en sal nie weet wat om te verwag totdat hulle die Donaldson-voorren, wat die wegspringvolgorde bepaal, Vrydag voor die ren voltooi het nie.

‘n Faktor wat die voorste spanne in die kampioenskap gelyk maak, is dat nie een van hulle van ‘n resultaat aan die einde van die seisoen ontslae hoef te raak nie. Almal kon ‘n ren gedurende die seisoen nie voltooi nie, maar dit dra net tot die druk by.

Die top kampioenskapaanspraakmakers kan net na hul eie lot omsien, maar daar is heelparty ander spanne wat met die beste planne kan inmeng. Marsh/Carolin het vanjaar al gewen; ‘n sege is op die kaarte vir Bertholdt/Vermeulen en Anthony Taylor en Robin Houghton in die tweede Team Castrol-Toyota Hilux, kan nie uit die prentjie gelaat word nie.

Die Team Ford Ranger TDCi in die hande van die voormalige kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer is ook ‘n aanspraakmaker op ‘n algehele oorwinning en het die ondersteuning van die Harrismith-gebaseerde Kobus van Tonder en Freddie Kriel in die Uni Freight-Ford Ranger. Woolridge/Skjöldhammer sal twee agtereenvolgende teleurstellende renne agter hulle wil sit terwyl Van Tonder/Kriel ‘n indruk sal wil maak in hul ‘tuis’ren.

Drie ander Vrystaat-spanne – Pieter Ruthven/Rudi Britz (Ruwacon-Toyota Hilux); Louw de Bruin/Riaan Greyling (Ruwacon-Ford Ranger) en George Barkhuizen/David van Wyck (AIM-Toyota Hilux) – sal ook hul merk op die ren wil laat. Ruthven/Britz en Barkhuizen/Van Wyck het goeie resultate in Botswana gelewer en sal vol vertroue vir dié ren wees.

Ander spanne met teleurstellende Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren-resultate sluit Thomas Rundle en Juan Möhr (Barden Tyre Services-Nissan Navara) in asook Christiaan du Plooy en Henk Janse van Vuuren (RFS Toyota Hilux) en Mike Whitehouse/Mathew Carlson in die tweede Regent Racing-Nissan Navara. Die wet van gemiddeldes het uiteindelik met die swaers, Whitehouse en Carlson opgevang en ‘n rolslag het hul indrukwekkende klaarmaakrekord in die wiele gery.

Klas SP sal ook deur Johan de Lange en Gert Ochse gesteun word wat hul debuut in die eks-Chris du Plooy-RFS Toyota Hilux sal maak. Na ‘n paar dapper renne in Klas E het die De Lange/Ochse-kombinasie opgeskuif en hul vordering sal met arendsoë dopgehou word.

Klas SP is uiters mededingend met ‘n halfdosyn of meer spanne wat in staat is om renne te wen. Die eerste Vrystaat-ren is gelaai met moontlikhede.
‘n Interessante situasie het skielik in Klas D ontwikkel. Nadat die kampioenskapvoorlopers, Dewald van Breda en Johann du Toit (Northam Toyota Hilux) die Botswana-ren gemis het, is hulle nou net drie punte voor Deon Venter en Ian Palmer in die 4×4 Mega World-Toyota Hilux.

Palmer en Venter was indrukwekkende wenners in Botswana en Van Breda en Du Toit kan hulle vir ‘n stryd voorberei. Na twee teleurstellende renne sal Louis Weichelt en Johann Smalberger (N1 4×4-Toyota Land Cruiser) hoop dat hul geluk sal draai terwyl die gereelde Noordelike Streeksdeelnemers, Jack en Sarel Oosthuizen weer in ‘n Land Rover sal wees.

Klas E lyk ook uiters mededingend. Met hul sege tydens die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren het die beginner, Lance Woolridge tesame met Ward Huxtable (Team Ford Ranger) ‘n stewige greep op die kampioenskap, maar die Vrystaat-ren het kwaliteit-inskrywings getrek.

Pikkie Labuschagne/Rikus Erasmus (4×4 Mega World-Toyota Hilux) en Gerald le Roux/Willem Pretorius (Ruwacon-Ford Ranger) het beide al die seisoen gewen en is ‘n bedreiging vir Woolridge/Huxtable. Malcolm Kock en Johan Burger (Toyota Hilux) het in Botswana bewys dat hulle oor die spoed beskik en kan ook ‘n gevaar wees.

Die Adenco-Ford Ranger-paar van Etienne Bezuidenhout en Hanro Visser sal nie in Klas E wees nie, maar die broers, Diederik en Danie Hattingh sal weer in die Transcor-Toyota Hilux in aksie wees.

Die Human Auto 400 sal by die Windmill Casino op die buitewyke van Bloemfontein gebaseer wees met die renhoofkantoor, die begin- en eindpunt en die aangewese dienspunt wat binne die kompleks sal wees. Die Donaldson-voorren begin op 22 Oktober om 12:00 en die ren op 23 Oktober om 08:30.

Die roete sal toeskouervriendelik wees met verskeie uitkykpunte. Publieke toegang tot die begin/einde; die aangewese dienspunt en die toeskouerpunte sal gratis wees.

bydrae: Charmaine Fortune


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply