Ironiese kinkel in spesiale voertuigkampioenskap

 

Na 2008-seisoen wat hulle eerder sal wil vergeet, bevind twee spanne hulself vroeg vanjaar reeds in die voorloperposisies van die Spesiale Voertuigkategorie van die Absa-Veldrenakampioenskap.

Evan Hutchison en Achim Bergmann in die nuwe Motorite-Revo1 4×4 het hul seisoen op ‘n hoë noot afgeskop toe hulle die seisoen se openingsronde, die Adenco 400 by Darling in die Wes-Kaap gewen het. Dit gee aan Hutchison en Bergmann ‘n vroeë voorsprong bo Naeem Mossajee/Mohammed Moultson (Tyre Rack-Jimco) en die pa- en seun-paar van Nick en Ryan Harper in die Atlas Copco-BAT.

Dit is ironies dat Hutchison en Bergmann asook Moosajee/Moultson in ‘n groot ongeluk tydens laas jaar se Darling-byeenkoms was. Die Motorite-BAT waarmee hulle tóé deelgeneem het, is heeltemal vernietig en die res van die seisoen was ‘n nagmerrie met ‘n enkele oorwinning wat ‘n string renne onderbreek het wat hulle nie kon voltooi nie.

Moosajee en Moultson het laas jaar net nog een keer ná die Darling-ongeluk deelgeneem en dit was tydens die laaste byeenkoms van die seisoen. Hulle het vir die RFS-Magalies 400 ingeskryf, maar kon nie die ren voltooi nie.

Vir die huidige kampioene, Kallie en Quintin Sullwald in die Sullwald Racing-BAT, het die Darling-byeenkoms teleurstellend geëindig. Nadat hulle die ren oorheers het, moes hulle 10 kilometer voor die einde vanweë ‘n meganiese probleem tou opgooi en kon hulle frustrerend toekyk hoe Hutchison/Bergmann en die res verbyjaag.

In beide die algehele en Klas A-puntstand word die eerste drie spanne deur Mike Whitehouse en Mathew Carlson (Regent Racing-BAT) en die broers, Johan en Etienne Bezuidenhout in die Adenco-BAT gevolg. Die Bezuidenhouts is die huidige Klas P-kampioene en het hul 2009-aanslag positief afgeskop deur ‘n top vyf-posisie tydens die Adenco 400 aan te teken.

Die Darling-resultaat het nóg ‘n positiewe nadraai vir die Bezuidenhout-broers gehad deurdat hulle die enigste Klas P-span was wat die ren kon voltooi.

Hoog-aangeskrewe spanne soos Don Thompson/Don Blakey (Zarco); Richard Schilling/Chris Davies (Cultura-Aceco); David en Gary White (Ruwacon-BAT) en John Weir-Smith/Richard Carolin (Men’s Health International-Zarco) moes die handdoek ingooi en die Bezuidenhouts geniet onmiddellik ‘n gesonde voorsprong bo-aan die kampioenskapsleer.

Die Adenco 400 het in ‘n triomf vir die Bezuidenhout-familie uitgedraai. Pa Bes en sy seun, Deon in nóg ‘n Adenco-BAT, het ‘n rits elektriese probleme oorkom om Klas B voor Simon Beckett en Steve Harris in die Century Racing-BAT op te raap. Derick du Toit en Ian Palmer in die Orange Tree-BAT was derde in ‘n kategorie wat vanjaar uiters mededingend behoort te wees.

Die Absa-reeks skuif na die Oos-Kaap vir die volgende ronde wat op 17 en 18 April plaasvind. Die Oos-Kaap 400 sal vanjaar by Jeffriesbaai gebaseer wees en beloof nóg ‘n taai ren te wees.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply