Bopunt van produksievoertuie lyk bekend

 

Na net een byeenkoms – die Adenco 400 by Darling – lyk die bopunt van die Produksievoertuigkategorie in die Absa-Veldrenkampioenskap reeds bekend.

Die Donaldson-Nissan Navara-fabriekspanne van Duncan Vos/Ralph Pitchford en Hannes Grobler/Juan Möhr lei die algehele en premier-Klas SP-kampioenskappe na ‘n een-twee-resultaat in die Wes-Kaap. Vos is die huidige Suid-Afrikaanse jaerskampioen terwyl Möhr tans die navigatorskampioen is.

Die twee voorste Donaldson-Nissan-spanne het die Adenco 400 by Darling gedomineer met Vos en Pitchford, wat tweede tydens vanjaar se Dakar-ren was, ‘n skrale 41 sekondes voor die veteraan, Grobler, en Möhr. ’n Totale Nissan-oorheersing van die podiumposisies is gekniehalter toe Ivar Tollefsen en Quin Evans 30 kilometer voor die einde ‘n pap band opgedoen het en toe deur die RFS-Toyota Hilux-span van Chris Visser en Japie Badenhorst verbygegaan is.

Tollefsen/Evans was vierde met Anthony Taylor en Robin Houghton wat die top vyf afgerond het en die eerste van die fabrieks-Castrol-Toyota Hilux-spanne by die einde was. Tollefsen en Evans was ook vierde tydens die Dakar-ren in ‘n Nissan Navara wat in Midrand ontwikkel en gebou is.

Die voormalige jaerskampioen, Cliff Weichelt en sy seun, Louis, het hul aanslag met ‘n soliede vertoning begin en aan Toyota een van twee klasoorwinnings tydens die Adenco 400 gegee toe hulle Klas D in die N1 4×4-Toyota Hilux D4D gewen het. Die Weichelts het ‘n hele tydjie voor Dewald van Breda en Johan du Toit (Northam-Toyota Hilux D4D), wat die 2008-Beginners van die Jaar was en van Klas E opgeskuif het, klaargemaak.

Johan Fouche en Wentzel Pretorius het in ‘n dapper derde plek in die enigste Mitsubishi Colt geëindig. Die grootste slagoffers in Klas D was Coetzee Labuscagne en Johan Gerber (Raysonics-Nissan Hardbody) – die enjin het tydens die voorren die gees gegee.

Die 4×4 Megaworld-Toyota Hilux-paar van Deon Venter en Ian Palmer het hul tweede nasionale kampioenskapsege aangeteken om vroeg reeds die voortou in Klas E te vat. Hulle het ‘n reeks veringstelsel- en wielprobleme oorkom en het Louw de Bruin en Riaan Greyling geklop wat hul eerste ren met die eks-Jack Peckham-Ford Ranger, nou in die Ruwacon-renkleure, aangepak het.

Die huidige kampioen, Jannie Visser en Joks le Roux (RFS-Toyota) het ‘n derde plek gered nadat hulle probleme tydens die voorren ontwikkel het. Hulle het agter die veld weggespring en het ‘n belangrike resultaat aangeteken vir wanneer punte teen die einde van die seisoen bymekaar getel word.

Die volgende byeenkoms op die kalender is die Oos-Kaap 400 wat vanjaar by Jeffriesbaai gebaseer sal wees. Dié ren vind op 17 en 18 April plaas en die Algo Motorsportklub het weer eens ‘n strawwe roete uitgelê.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply