Jonk, uitgelate en sjiek

Om met ‘n nuwe benadering tot die mark vir kompakte motors vorendag te kom, is nie ‘n maklike taak nie. En tog bewys die aankoms van die nuwe Swift dat Suzuki letterlik van voor af begin het.

In die proses het die maatskappy nie net ‘n nuwe kleinmotor-standaard gestel nie, maar ook namens die hele Suzuki-motorafdeling ‘n geheel nuwe rigting ingeslaan.

“Ons het van meet af aan besef dat dié projek die skep van ‘n geheel nuwe kleinmotor-genre verteenwoordig. Ons wou ‘n eg globale standaard stel: ‘n keerpunt in die wyse waarop Suzuki sy passasiermotors ontwerp en monteer,” verduidelik Eijj Mochizuki, Voertuiglyn-Bestuurder in die Super-Minimotor-afdeling by die Suzuki-Motorkorporasie (SMK) in Japan.

“Die uitdagings was aansienlik, omdat ons ‘n geheel nuwe platform moes ontwikkel. Ons het baie maande in Europa bestee terwyl ons aan die stilering en die hantering gewerk het. Ons moes selfs nuwe stelsels vir die ontwikkeling van komponente skep. Maar die belonings was ewe groot.”

Die Swift is aan ‘n ingrypende navorsing- en ontwikkelingsprogram onderwerp. Dié program moes sorg dat die motor juis aan die besonder veeleisende Europese markbehoeftes voldoen, vernaam wat stilering, rygerief, monteergehalte en algehele sofistikasie betref.

‘n Europese ontwerpfiliaal is saamgestel om spesifiek hierdie aspekte aan te spreek. En die moeite was nie verniet nie.

Die nuwe Swift is met groot lof by die 2004 Paryse Motorskou ontvang, waar die motortjie sy swierige buiging gemaak het. Die opwindende nuweling het ‘n sterk element van individualiteit verbind met ‘n dinamiese aansig wat destyds ongekend in die mark vir kompakte motors was.

Die Swift het sedertdien ‘n lang lys motorpryse en -pluimpies wêreldwyd ingepalm, onder meer die algehele Motor van die Jaar-titel in Japan, Australië, Brittanje en ‘n rits ander lande.

Daarbenewens was daar ‘n hele reeks ‘Kleinmotor van die Jaar’-toekennings, asook internasionale pryse vir stilering, mode-ontwerp en die prettige karakter van die Suzuki.

Suzuki se opwindende nuwe stileringsaanslag is veral aan die voorkant van die Swift merkbaar. Die motor se opsigtelike, sportiewe vooraansig benut onder meer deursigtige kopliglense en ‘n breë lugskort wat nie net stabiliteit bevorder nie, maar ook ‘n doelgerigte aggressie aan die motor verleen.

Die Swift se sterk voorkoms word verder onderstreep deur die breë spoorwydtes voor en agter, terwyl die vellings van 15 duim netjies op elke hoek van die bakwerk geplaas is.

Die vollengte-skouerkontoere sorg vir visuele spierkrag, terwyl die uitgestulpte wielboë en die kenmerkende kurwes van die aërodinamies-gevormde luikrug verder tot die kopdraai-karakter van die kompakte nuweling bydra. Die resultaat is ‘n motor wat respek afdwing en terselfdertyd begeerlikheid uitstraal.

Een van die nuwe Swift se mees individuele ontwerpkenmerke is die omvouvorm van die voorruit, wat deur die gitswart A- en B-pilare beklemtoon word. Die ontwerp dui op die geïntegreerde vorm van ‘n valhelm se gesigskerm en verteenwoordig so ‘n visuele sinergie met Suzuki se eweneens begeerlike motorfietse.

Daar is geen tekort aan oulike kenmerke in die netjiese, volledig toegeruste kajuit van die Swift nie. Die binneruim se ontwerp is op bestuursgenot gerig, maar die insittendes word almal met topgehalte-afwerkings bederf. Dis nie net voortreflik nie, maar ook ongewoon by intreevlak-motors.

Die kajuituitleg weerspieël die Swift se jong, sportiewe en dinamiese inslag. Die groot ruite skep ‘n glashuiseffek wat helder en oop voorkom en boonop ook vir puik sig in alle rigtings sorg. Die sagte kurwe van die instrumentepaneel omsoom die voorkant van die kajuit en betrek daarmee die bestuurder.

Selfs die instrumente weerspieël Suzuki se atletiese geskiedenis. Die toereteller se ontwerp is gegrond op dié van die maatskappy se uitstekende GSX-R superfietse. Die nulposisie van die toereteller is by die sesuurmerk – presies daar waar die bestuurder se oog die maklikste val.

‘n Sentraal-gemonteerde uitleespaneel bied inligting oor tyd, brandstof-verbruik en die buitetemperatuur, terwyl die satellietkontroles vir die klankstelsel (in die geval van die GLS-weergawe) gerieflik op die sportiewe, driespeek-stuurwiel geplaas is.

Een van die Swift se ontwerpkenmerke is hoe die ruimte binne ten volle benut word, sonder om die motor se kompakte buiteafmetings te benadeel. Dus voel die kajuit verrassend ruim en veelsydig, ongeag die Swift se algehele lengte van net 3 755 mm.

Daarom bied die Suzuki dan ook bogemiddelde ruimte vir tot vyf insittendes, terwyl die voorste sitplekke ‘n volle 240 mm se instelspeling het. Boonop spog die bestuurdersitplek met ‘n hoogteverstelling van tot 32 mm.

Die ruim kajuit het ook praktiese voordele. Die bagasieruim se standaardvolume (met die agtersitplek opgeslaan) bedra ‘n reeds indrukwekkende 213 liter. Vou daardie agtersitplek plat en die bagasieruim bied ‘n skaflike laairuimte van 562 liter.

Daarbenewens is die rugleuning van die agtersitplek 60:40 verdeel, terwyl die eenvoudige vou- aksie van die agtersitplek binne ‘n japtrap ‘n handige laaivloer skep en ook sorg dat die laaipotensiaal ten volle benut kan word.

Daar is hope bêreplekke in die binneruim, waar kleiner, persoonlike voorwerpe gehuisves kan word.

Dit sluit onder meer in ‘n handige kompartement in die instrumentepaneel, koeldrankhouers voor en agter, groot bergvakke in die voordeure en die rugleunings van die voorste sitplekke, asook ‘n laai vir los voorwerpe onder die voorste passasiersitplek.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply