Rank is die nuutste produksie van Karla du Plessis, jongste dogter van die immergewilde Afrikaanse liedjieskrywer Koos du Plessis.
Net soos die werkwoord rank dui op die positief fototropiese groeibeweging van ‘n klimplant, Rank Karla tot nuwe hoogtes. Rank is ‘n oorbruggingsfase tussen die musiek van haar pa waarmee sy bekendheid verwerf het en haar eie musiek waarmee sy haarself vestig as kunstenaar in eie reg. Tog vergeet sy nie haar herkoms nie en bewerkstellig sy ‘n simbiose tussen haar eie musiek en dié van Koos du Plessis. Dié simbiose word versterk deur haar toonsetting van haar pa se gedig, Kluisenaar.
Die produksie, Rank, bestaan uit liedjies van Karla se eerste CD Woordeloos, haar nuutste CD Rank asook liedjies wat nog nie opgeneem is nie. Rank bied musiek van Koos du Plessis, Mynie Grové (Pa), Helena Hettema (Tolbos in die Wind) en natuurlik Karla self.
Karla ontkiem met musiek van haar pa en groei dan na Pa waarin herinneringe van vervloë dae saamgevat is en dan sê sy: “. maar nou is ek ‘n grootmens en ek kan self my liedjies maak.”. Dit is juis in die liedjies wat Karla self gemaak het waar sy volwaardig begin wortel skiet en Rank. Karla sing van die misleidende ouderdom van die jong kelner in Strikdasmeneer, en in Obsessie van die frustrasie van ‘n vrou wat doelbewus vermy word deur ‘n man en liefdevolle herinnering in Engel voor my deur.
Die grand finale is die titelsnit van die CD Rank waarin Karla onomwonde verklaar: “. Rank, rank, ek wil rank. Ek wil voortgaan ek wil rank.”
Karla word begelei deur Edwin Randel op klavier, klarinet en saksofoon en Theo Bodenstein op tromme, baskitaar en kitaar.
Die regie is behartig deur Johan Bothma.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
