Kampioene samel meer as R90 000 in vir liefdadigheid

Deelnemers aan die Absa-Veldrenkampioenskap het hulself gedurende die naweek oortref toe hulle meer as R90 000 vir Sunfield Homes ingesamel het.

Die veldrengemeenskap was, soos hulle al vir meer as 20 jaar doen, die gasheer vir kinders van Sunfield Homes by die Tarlton International Raceway waartydens hulle geld vir kinders insamel wat aan Downsindroom lei. Vanjaar is meer as 160 kinders van Sunfield Home na die RFS Magalies 400, die laaste byeenkoms van die Absa-Veldrenkampioenskap getrakteer en hulle sal dié dag nie gou vergeet nie.

Verskeie voertuie is deur individue en spanne wat aan die Absa-Veldrenkampioenskap deelneem, beskikbaar gestel om kinders op ‘n vier kilometer-roete te neem. Na middagete het die kinders ‘n marionetvertoning bygewoon waarna hulle deur ‘n kulkunstenaar vermaak is.

Maar die hoogtepunt van die dag was ‘n besoek deur Kersvader en elke kind het ‘n geskenk ontvang.

Die dag is weer in samewerking met die Rotary Merlins-klub wat in Roodepoort gebaseer is, georganiseer en vanjaar het ‘n groep van die Harley Davidson-klub ‘n nuwe dimensie aan die byeenkoms verleen. Die fondse wat ingesamel is, gaan aangewend word om ‘n sentrum vir swak pasiënte by Sunfield Homes te bou terwyl surplusfondse aan die Logwood Ranch geskenk sal word.

“Deur die jare het ons ongelooflike ondersteuning van die veldrengemeenskap ontvang om kinders en ouer mense te help wat minder bevoorreg is,” het die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Veldrenvoertuig-assossiasie, Richard Schilling gesê. “Vanjaar het ons lede se vrygewigheid nie perke geken nie en dit was ‘n emosionele dag gevul met pret en die kinders se gelag.

“Dit was ook ‘n welkome verrassing om lede van die Harley Davidson-klub by ons te verwelkom en ons sien daarna uit om in die toekoms saam met hulle te werk.”

Schilling het bygevoeg dat die Sunfield-kersparty nou op die Absa-Veldrenkampioenskapkalender gevestig is. Dié byeenkoms sal volgende jaar sy 23ste herdenking vier.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply