Die 4×4 Mega World 400 wat op 27 en 28 Augustus by Carnival City plaasvind, lei die Absa-Veldrenkampioenskap in die tweede helfte van die seisoen in met ‘n naelbytkampioenskapstryd wat in die Produksievoertuigkampioenskap broei.
Visser en Badenhorst is 13 punte voor die huidige jaerskampioen, Duncan Vos en Rob Howie (Span Castrol-Toyota Hilux) wat net ‘n enkele punt voor die voormalige kampioene, Hannes Grobler/Hennie ter Stege (4×4 Mega World-BMW) en Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer in die Span Ford Racing Ranger TDCi is. ‘n Oorwinning by Sun City het Terence Marsh en Buks Carolin (Regent Racing-Nissan Navara) na die vierde plek gelig en agter hulle is Gary Bertholdt/André Vermeulen (Atlas Copco-Toyota Hilux) en Mike Whitehouse/Mathew Carlson (Regent Racing-Nissan Navara) in ‘n gelykopstryd.
Die situasie bo-aan die punteleer en in Klas SP weerspieël die uiters mededingende natuur van die Absa-Veldrenkampioenskap. Dit maak ‘n voorspelling ook uiters riskant.
Die feit dat vyf van die top sewe spanne reeds nie ‘n ren kon voltooi nie en dus nie nóg ‘n onvoltooide ren kan bekostig nie, dra tot die intrige by. Net Woolridge/Skjöldhammer en Whitehouse/Carlson beskik oor ‘n 100 %-klaarmaakrekord alhoewel die Ford-span die openingsren van die seisoen gemis het.
Visser/Badenhorst en Bertholdt en Vermeulen, wat dié byeenkoms laas jaar gewen het, is natuurlike renvoorloperkeuses. Daar hang ‘n vraagteken oor die betroubaarheid van die BMW wat oor 4×4 Mega World-ondersteuning vir dié ren beskik en wat sy derde ren sal aanpak en Grobler en Ter Stege sal skadebeheer wil toepas.
Nadat hulle die Toyota-handelaars 400 tydens hul eerste vertoning van die seisoen gewen het, het Woolridge/Skjöldhammer klein probleempies ondervind. Dié paar is ook voormalige wenners van dié byeenkoms en die kompakte roete behoort die dieselaangedrewe Ford Ranger te pas.
Die twee Regent Racing-Nissan Navara-spanne sal weer die opposisie jaag. Marsh/Carolin se Sun City-sege was effens uit die bloute terwyl Whitehouse/Carlson op ‘n benydenswaardige klaarmaakrekord staatmaak en gereeld punte insamel.
Van die gunstelingspanne wat die hardste by Carnival City sal moet werk, is die Castrol-Toyota-pare, Vos/Howie en Anthony Taylor en Robin Houghton. Met Toyota se twee seges wat deur die privaatspan Visser/Badenhorst aangeteken is, sal die druk op die Toyota-fabriekspan wees om met ‘n oorwinning vorendag te kom.
Thomas Rundle en Juan Möhr het ‘n goeie vertoning met die Barden Tyres-Nissan Navara by Sun City gelewer wat hulle ook onder moontlike wenners kan laat tel. Sun City het heelwat bewyse gelewer dat die Barden-span nou eie is met die eks-Vos-voertuig en hulle behoort vol selfvertroue te wees.
Die Span-Ford- en Castrol-Toyota-fabriekspanne sal heelwat ondersteuning van privaatspanne ontvang. Wat Ford betref het Kobus van Tonder en Freddie Kriel (Uni Freight-Ford Ranger) hul beste resultaat van die seisoen by Sun City gelewer met Louw de Bruin en Riaan Greyling wat met die Ruwacon Racing-Ford Ranger lyk of hul weer teruggebons het nadat hul 100 persent-klaarmaakrekord in die Pilanesberg verbrokkel het.
Die Toyota Hilux-span van Christiaan du Plooy en Henk Janse van Vuuren, ook met ondersteuning van 4×4 Mega World vir dié byeenkoms, verbeter gedurig en sal vir ‘n top vyf-posisie mik terwyl die Bloemfontein-paar, George Bezuidenhout/David van Wyck (AIM-Toyota Hilux) ook weer ‘n goeie resultaat sal wil lewer ná ‘n teleurstellende Sun City 400. Die Vrystaat-span ondervind probleme met bestendigheid.
Willem en Dana Vos (Vossies-Toyota Hilux) sal ook ‘n goeie terugkeer na ‘n groot ongeluk by Sun City wil maak. Graham Leith en Mike Lawrenson kon nie die Pilanesberg-ren voltooi nie en is in dieselfde bootjie met die Transcor-Ford Ranger.
Die stryd vooraan Klas SP gaan baie interessant wees – en dit kan reeds tydens die 60 kilometer-Donaldson-voorren wat die wegspringvolgorde bepaal, gestalte kry. ‘n Goeie wegspringposisie is uiters belangrik vir ‘n kompakte byeenkoms soos dié en nie een van die voorste mededingers sal graag by aksie agter in die veld tydens die twee 175 km-sirkelroetes waaruit die ren bestaan, betrokke wil raak nie.
Nuwe voertuie sal die Klas D-stryd nóg lewe gee. Die huidige kampioene en kampioenskapvoorlopers, Dewald van Breda en Johann du Toit (Northam Toyota Hilux) sal deur Louis Weichelt en Johan Smalberger in die nuwe N1 4×4-Toyota Land Cruiser aangevul word asook deur Deon Venter en Ian Palmer in die 4×4 Mega World-Toyota Hilux.
Weichelt en Smalberger sal hul eerste verskyning dié seisoen maak terwyl Venter/Palmer ‘n sege by Sun City in ‘n 4×4 Mega World-Toyota Hilux aangeteken het wat baie naby aan Klas E-spesifikasies was. ‘n Interessante stryd is op die kaarte.
‘n Goeie geveg kan ook in Klas E verwag word waar die tiener, Lance Woolridge en Ward Huxtable bo-aan die kampioenskapspunteleer met die Span Ford Ranger is. Die beginnerjaer en die ervare Huxtable het reeds twee keer dié seisoen gewen en het ‘n voorsprong van 16 punte bo Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus in die 4×4 Mega World-Toyota Hilux.
‘n Tegniese oortreding tydens dié byeenkoms laas jaar het Labuschagne en Erasmus die Klas E-kampioenskap gekos en hulle sal sake wil regstel. Die paar het ook al dié seisoen gewen en so ook het die derdegeplaasde Gerald le Roux en Willem Pretorius in die Ruwacon Racing-Ford Ranger en ‘n gesonde stryd heers tussen dié drie spanne.
Die Kaapse span, Etienne Bezuidenhout en Hanro Visser (Adenco-Ford Ranger) sal ook hul tweede verskyning vir die seisoen maak, maar kan dalk bietjie verroes wees. Diederik en Danie Hattingh kan ook met die Transcor-Toyota Hilux beïndruk terwyl die huidige navigatorskampioen, Joks le Roux saam met Pieter du Toit in ‘n Toyota Hilux tot die aksie toetree.
Die renhoofkantore, die begin- en eindpunte asook die aangewese dienspunt sal by die Carnival City-kompleks gebaseer wees. Publieke toegang tot dié gebiede is gratis met die Donaldson-voorren wat geskeduleer is om Vrydag, 27 Augustus om 11:30 te begin en die hoofren Saterda, 28 Augustus om 08:00.
Die roete is toeskouervriendelik met verskeie uitkykpunte wat binne 40 kilometer van Carnival City is. Publieke toegang tot dié areas is ook gratis met organiseerders wat entoesiaste versoek om die omgewing te respekteer.
bydrae: Charmaine Fortune
