Vanoggend op die trein … het ek gewonder hoe ek vanaand (altyd met een “n”) my siel gaan sus.

Deur die hele diens het ek Peter die monnik/kruisvaarder verwens vir die ewige vloek wat hy geplaas het op almal wat vir eeue vorentoe hul mond aan Hermit on the Hill se sap durf sit. Natuurlik is ek vanoggend so vervaard en bedremmeld die huis uit dat daar geen kans was om my anti-aandagafleibaarheidpille te pop nie. Die oomblik toe die uitkak deel van die preek begin, het Peter in sy bruin goingsakgewaad en pispothaarkapsel voor my oë opgedoem, besig om met ’n magtige houtlepel een of ander giftige substans in ’n wynvat te roer terwyl hy in sy hoody prewel. My Latyn is verroes, maar dit het vir my redelik geklink soos: “Mog diegene wat hul vergryp aan die sap van die vrug van hierdie stuk aarde geslaan word met onblusbare middernagtelike dors.” My aandag het toe weer so effe gedwaal, maar ek sal nie verbaas wees as daar nog inkantasies was oor hoofpyne, boos en bestand teen alle analgetika bekend aan die mensdom nie.

Gedurende die opneem van die kollekte het ek my voorgeneem om Maandagoggend vroeg die Roekeloos webmeester te smeek om my in die toekoms te vergoed vir bydraes in enige ander vorm as wyn: Omo afslagkoepens, ’n jaar se sardiens vir ’n gesin van vier of selfs ’n glansblad kopie van die Tofu hoef nie soos katkots te proe kookboek.

Toe ek na kerk die karkas van gisteraand se vergryping aan sy dun, groen nek optel lees ek vir die eerste keer die waarskuwing op die sykant van die etiket: “Don’t drink and walk on the road. You may be killed.” Ek sweer. Nie ’n woord oor ander newe-effekte nie.

Hermit on the Hill
Hermit on the Hill

Dit was ’n lang en sober Sondagaand sonder nuwe insigte oor hoe dit gebeur het dat een standaard Karoo-kind haarself op dié vreemde landskap bevind. Toe ek op 18 die snikhete aarde verruil vir akkerbome se skadu het niemand my gemaan om altyd eers die label te lees nie.

– Isabella Caramella

(oorspronklik verskyn 29 Augustus 2011)

Lewer kommentaar

Leave a Reply